‘n Bron van blydskap en vreugde

Eerste Advent

Lees Lukas 1:1-25

“Hy sal ’n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte . . .” (v. 14).

Dit was ’n gewone dag; die lewe het sy doodnormale gang gegaan. Vir die priester Sagaria uit die diensgroep van Abia en ’n afstammeling van Aäron, was daar wel die opwinding van ’n diensbeurt in die tempel. Terwyl die aanbidders buite wag, kon hy ingaan en soos gebruiklik die wierook op die altaar neerlê. Vir hom was dit ’n goeie dag.
Presies hoe goed, sou hy eers uitvind toe die engel van die Here langs hom kom staan. En veral toe dié boodskapper aankondig, so asof dit die natuurlikste ding op aarde is, dat Sagaria se jare lange gebed verhoor is. Dat sy vrou, Elisabet, ’n kind sal hê. ’n Seun, wat hy “Johannes” moet noem – en dat hierdie kind ’n bron van blydskap en vreugde vir hom sal wees.
Dit is bra moeilik om te glo. Blydskap en vreugde daag mos nie sommerso op nie, nie terwyl jy hard besig is om te konsentreer op die dinge van die Here nie. Dit laat ’n mens skrik, en jy sê sommer ’n ding waaroor jy later spyt is.
Jy raak sommer iets kwyt soos: Hoe moet ek dít nou glo! Ek is ’n ou man en ek het ’n ou vrou. Ons dae van kinders kry, is lankal verby. Ek weet darem nie of . . .
En dan is jy glad sonder taal. Want wanneer die Here jou gebede verhoor, is daar eintlik net een woord wat jy durf sê: Dankie! Of dalk: Halleluja!
Alle ander woorde is oorbodig; dit sal bloot die blydskap en vreugde verdring.

Gebed is gevaarlik, het iemand op ’n keer gesê. Want sê nou net dit word verhoor?
Dit is dus goed dat ons op die eerste Advent, hier amper aan die einde van die jaar, daaraan herinner word. Sodat ons ons nie stom skrik as ons die nuus kry dat die gebede wat ons lank gelede gebid het – of miskien vroeg in die jaar, en dalk al van vergeet het of afgeskryf het – verhoor is nie.
Sien, die Here is mos die Verhoorder van gebede. Hy is dié Bron van blydskap en vreugde. En soms loop Hy sy kinders hiermee trompop wanneer hulle dit die minste verwag.
Verrassing! Verrassing! ’n Heerlike verrassing! Sommerso in die loop van ’n doodgewone dag.

Here, die aanbreek van elke nuwe seisoen in my lewe is pure gebedsverhoring. Dit bring borrelende blydskap, dit gee oorvloedige vreugde. Dankie, Here! Halleluja!

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.

Share this post