In New York het David Berkowitz (kyk foto soos hy nou lyk), binne dertien maande, ses mense vermoor en sewe ander beseer. Op die ouderdom van 25, is hy in 1978 gevonnis en is nog steeds in die tronk. Ons kan vra: Is God lief vir David Berkowitz?
Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle” (Luk. 15:1-2). Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het gedink dat God die ongelowiges haat en daarom mag mense wat in God glo, niks met hulle te doen hê nie. Toe vertel Jesus in Luk. 15:11-32 vir hulle van ʼn seun wat sy familie-erfdeel opgeëis het. Nadat hy al sy geld verkwis het deur losbandig te lewe, het hy besluit om na sy vader terug te gaan. “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.” Die pa het toe ʼn fees gereël. Sy oudste seun het egter kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader smeek hom toe en sê: “Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.” In hierdie gelykenis word God uitgebeeld as die vader, die Fariseërs en die skrifgeleerdes as die ouer broer, en die tollenaars en sondaars as die jonger broer. Jesus het dit vertel om vir die Fariseërs en die skrifgeleerdes duidelik te maak dat God alle mense, (die wêreld), dus ook die ongelowiges, baie liefhet: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh. 3:16).
Jesus het vir almal gesterf. Om die liefde van God te verstaan sê Jesus in hierdie gelykenis dat God soos ʼn liefdevolle vader is, wat alles wat goed is, gun vir sy kinders. Hy is altyd by hulle, Hy kan vertrou word, Hy beskerm hulle, ontferm Hom oor hulle en sorg vir hulle. God het alle mense baie lief, soos die vader in die gelykenis albei sy kinders liefhet. Selfs vir David Berkowitz sou God soos die vader wees, wie se oë op die horison is om te kyk wanneer hy terugkom. Die goeie nuus is dat, soos in die gelykenis hierbo, David Berkowitz ook teruggegaan het huis toe. Hy vertel: “Na tien jaar in die tronk het ʼn ander gevangene begin om my te vertel dat Jesus Christus my liefhet en my wil vergewe. Ongeag van wat ek gedoen het. Hy het my ʼn Bybel gegee en een aand het ek gelees “Hierdie arme man het geroep en die Here het hom gehoor, en hom uit al sy benoudhede gered” (Ps. 34:7). Op daardie oomblik, in 1987, laat in die nag in my koue sel, het ek gekniel en na Jesus Christus begin roep. Ek het Jesus gevra om al my sondes te vergewe. Jesus Christus het later toegelaat dat ek hier in die tronk ʼn bediening begin. Deur TV-programme kan ek met miljoene deel wat die Here in my lewe vermag het.” So gebruik God iemand wat ses mense vermoor het om vir miljoene tot seën te wees.
Hierdie gelykenis gaan daaroor dat enige persoon, wie ook al, God se geliefde is. Hoe kan ons dan enige mens verag vir wie God lief is? Ons kan vir enige ongelowige sê: Ongeag wat jy gedoen het, God het jou lief soos ʼn vader sy kind liefhet. Jesus het klaar jou skuld betaal. Neem jou erfenis in besit, anders kan jy alles verbeur.
Ons Vader, help ons om niemand te verag nie want U is vir almal lief. Amen
gertberning@gmail.com