Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

As dosent in fisika het ek gereeld vraelyste vir die studente gegee wat hulle moes invul om my as dosent te evalueer. Een van die vrae was: “Wat is die mees positiewe eienskap van die dosent?” Een student het geantwoord: “Hy dink fisika is mooi.” Hierop was ek nogal trots. Die volgende vraag was: “Wat is die mees negatiewe eienskap van die dosent?” Dieselfde student se antwoord was: “Hy wil hê dat die studente ook moet dink fisika is mooi.” Ons het al baie daaroor gelag. Maar daar skuil ’n dieper boodskap in as wat ek aanvanklik besef het, en ten opsigte waarvan ek baie skuldig is. Te dikwels wil ons mense oortuig om van dieselfde dinge te hou as wat ons van hou, om te dink soos ons dink, hulle moet glo soos ons glo, bid soos ons bid, dieselfde politieke voorkeure hê as wat ons het, ens.

Hoe het Jesus gereageer teenoor mense wat nie gedoen het soos Hy gedoen het nie? Wat van sy eie familie? Jesus het mense gesond gemaak en onrein geeste uitgedryf. En dan lees ons: Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak” (Mark. 3:21). Hulle was nie trots op Hom nie – Hy was vir hulle ‘n verleentheid! Dit is belangrik om op te merk dat Jesus nie probeer het om sy familie te oortuig van sy saak nie. Hy het nie geëis dat hulle met Hom moet saamstem of goedkeur wat Hy gedoen het nie. Hy het Homself ook nie jammer gekry toe hulle Hom beledig het nie. Hy het ook nie toegelaat dat sy familie se gedrag Hom beheer nie. Daarom sê Jesus: “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder” (Mark. 3:35). Hy het nie toegelaat dat die moeilike situasie met sy familie aan die een kant en sy liefde vir mense aan die ander kant sy roeping beïnvloed nie. Vir Hom het dit gegaan oor wat God wil hê.

Maar let op wat verder gebeur het. Ons lees, na Jesus sy dissipels in ’n wolk verlaat het: Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by (Hand. 1:14). Jesus se broers wat gedink het Hy is van sy verstand af, bid tot Hom, hulle vereer Hom. Jesus het vir hulle ruimte, tyd en genade gegee. En hulle het baie verander. Een van sy broers het ’n verkondiger van die evangelie geword: Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here (Gal. 1:19). Van sy broers het sendelinge geword: Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat ‘n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie? (1 Kor. 9:5)  Jesus se broers het besef dat Hy die Seun van God is, dat Hy vir hulle sonde betaal het aan die kruis, en dat Hy opgestaan het, Hy leef!

Jesus is nie meer fisiek by ons nie. Deur die Heilige Gees is Hy altyd by ons. Ons moet altyd vra dat die Heilige Gees, die Een wat getuig van die liefde en gesindheid van Jesus, ons lei in ons optrede teenoor ander, ook teenoor hulle wat van ons verskil.

Jesus het tot die Vader gebid, dieselfde Vader wat ons aanbid. Daarom is Jesus ook ons Broer. En al is ons nie almal eners nie. Moet ons ook “eensgesind volhard in die gebed” soos sy broers gedoen het. Dit kan net gebeur as ons mekaar aanvaar soos Jesus ons aanvaar het, Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God (Rom. 15:7). Jesus het almal so liefas wat hy vir my is.

 

Ons hemelse Vader, help ons om in ware liefde te leef met almal, ook met hulle wat anders is as ons. Ons loof en prys U.
Amen.