Dit waaroor jy eens opgewonde was het sy bekoring verloor. Jou entoesiasme is by die deur uit. Dit is net nog ’n preek. Nog ’n liedjie. Nog ’n skryfstuk. Nog ’n dag op kantoor. Nog ’n klas wat voor jou sit.
Jy is in ’n groef. Afgemat en afgestomp. Waar is daardie passie wat eens so warm in jou hart gebrand het?
Ek het onlangs ’n kort video-greep gesien uit ’n onderhoud met Toby Mac. Hierdie sestigjarige sanger en liedjieskrywer maak al vir langer as dertig jaar musiek vir die Here. In die onderhoud sê hy dat hy met elke nuwe projek doelbewus op die punt van sy stoel gaan sit, in afwagting op wat die Here daarmee gaan doen. So beveg hy daardie afgematte gevoel wat ’n mens bekruip wanneer jy iets al vir soveel jare doen.
Dit is gemakliker om agteroor te sit en jou arms te vou as wat dit is om op die punt van jou stoel te sit, en ek dink dit is waar die moeilikheid begin. Ons raak te gemaklik en te vertroud met wat ons doen. Ongelukkig is dit ook waar van huwelike en vriendskappe.
Die probleem lê nie in die ritme en roetine, of selfs die vertroudheid wat jy met iets of iemand het nie. Die probleem lê daarin dat jy jou passie verloor.
Hoe kry ’n mens daardie passie weer terug? Deur die Here te vra om jou nuwe krag te gee, en dan doelbewus op die uitkyk te wees vir dít wat Hy deur jou werk, bediening of verhouding aan die doen is.
Paulus het hierdie raad aan Timoteus gegee:
‘Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas.’ 2 Timoteus 1:6
Laat die Heilige Gees jou lei. Wees bereid om jouself te laat leer asof jy nog baie het om te leer – want die waarheid is, alles om jou is aan die verander en jy sal moet bybly as jy werklik ’n verskil wil maak.
Word weer ’n slag stil en gaan sit voor die Here met jou dowwe vlammetjie. Vra Hom om jou te herinner aan die rede waarom jy in die eerste plek doen waarmee jy besig is, en laat Hom toe om daardie vlammetjie weer aan te blaas sodat dit helder kan brand.
‘Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.’ Jesaja 40:29-31
Geskryf deur Madeleine Venter