Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

“Vandag se kinders hou van weelde; hulle het slegte maniere, en minag gesag; hulle toon oneerbiedigheid teenoor ouer mense.” Klink dit deesdae bekend? Wel, dit is meer as 2 400 jaar gelede deur Sokrates (470 – 399 vC), ʼn beroemde Griekse filosoof, gesê.  Salomo skryf: Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde. Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom … Al die riviere loop in die see in, maar die see word nooit vol nie … Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie. Kan jy van iets sê dit is nuut? Nee, dit was lankal daar, lank voor ons tyd (Pred. 1:4 – 10).

Daar is nog steeds, soos altyd, klagtes oor die jeug. Tussen mense is daar nog steeds liefde en haat, geduld en onverdraagsaamheid. Van die begin af was daar al moord: Adam en Eva was die eerste mense, hulle een seun het sy broer doodgemaak.

Ons kan ook soos Salomo sê dit was lankal daar, lank voor ons tyd – niks nuuts nie.Daar het egter baie dinge gebeur wat tog nuut was. Soos die Israeliete se trek deur die Rooisee, Daniël se vriende wat in ‘n vuuroond gegooi word en niks oorgekom het nie, en baie ander. Dan is daar ook God se barmhartigheid: Jeremia was baie moedeloos maar sê dan tog: Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut (Klaagl. 3:22, 23). God het in Jesus na die aarde gekom om ons te wys hoe God is. So nuut dat baie mense dit nie kon glo nie. Mense het nuwe dinge sien gebeur: melaatses word genees, blindes sien, dowes hoor, dooies word opgewek. So nuut, niemand het gedink dit is moontlik nie. Jesus het alle mense se sondes op Hom geneem, in ons plek vir al ons sonde gesterf. Hy was deur God verlaat, sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie: so nuut en so volledig dit hoef nooit weer herhaal te word nie Jesus het gesê: As Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is (Joh. 14:2, 3). Johannes het hierdie plek wat Jesus gereed gemaak het in ʼn visioen gesien: Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien…. die nuwe Jerusalem, … Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” (Openb. 21:1 – 5).

Mense word deur God nuut gemaak: Iemand wat aan Christus behoort, is ʼn nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen (2 Kor. 5:17, 18). Daar is ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde vir God se nuwe mense.

 

Liewe Vader, dankie dat U deur Jesus alles nuut maak. Amen

 

Gert Berning