Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

I

Die klein gemeente in die stad Thessaloniki het uit pasbekeerde Grieke bestaan, jong Christene. By hulle was daar nog ‘n vars entoesiasme en dankbaarheid oor die verlossing in Christus. Die jong Timoteus het die gemeente besoek en vir Paulus kom vertel hoe goed dit met hulle gaan; hy het vertel van hulle brandende geloof, hulle vaste hoop en die werk van hul liefde. Daarom begin Paulus sy brief aan hulle met ‘n dankgebed oor alles wat hy van hulle gehoor het. So mooi was die gesindheid van dankbaarheid en blydskap in die gemeente dat ander gemeentes daarvan begin praat het; die Tessalonisense het ‘n voorbeeld vir ander geword; van hulle het ‘n getuienis uitgegaan wat ver en wyd gestrek het. En wanneer Paulus sy brief aan hulle afsluit, moedig hy hulle aan om steeds bly en dankbaar te wees … onder alle omstandighede. “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.”

II

In die eerste plek gaan dit oor dankbaarheid teenoor mekaar in die gemeente. Daar begin dit. Daar word dit ingeoefen. Dankbaarheid teenoor diegene in die gemeente wat hard werk, wat diens verrig, wat leiding gee. Paulus herinner die gemeente daaraan om raak te sien dat daar mense is wat soveel doen, soms in stilte, onopsigtelik. Iemand speel dalk mooi orrel, ‘n ander sluit die kerk oop, stof die banke af, of bedien tee, iemand gee om en luister fyn na ander se stories, ‘n ander stuur kennisgewings uit of tel die geld en skryf dit op, nog iemand gee leiding en vermaan ons om op die regte pad te bly; ‘n ander lees voor uit die Woord of preek, iemand beoefen gasvryheid … kom ons sien mekaar se arbeid raak, en wys vir mekaar ons dankbaarheid en waardering. Kom ons sê ‘n slag vir mekaar opreg dankie.

Dankie is ‘n klein woordjie, maar kan soveel waarde hê in die opbou van die gemeente:  daarmee spoor ons mekaar aan, help ons mekaar om nie moed op te gee nie, werk ons aan die kultuur van die gemeente, dra ons ‘n getuienis uit in die wêreld. Te meer nog as ons ‘n klein gemeente is wat nie groot en skouspelagtige dinge kan doen nie. Sê nou maar net die mense buite ons gemeente kan begin praat oor hoe dankbaar en waarderend ons teenoor mekaar en ander mense is, watter getuienis sal dit nie uitdra nie!

III

Maar, dit gaan nie net oor dankbaarheid teenoor ander nie. In die tweede plek gaan dit vir Paulus ook oor dankbaarheid as lewensingesteldheid, as gesindheid, dankbaarheid as helende krag hier binne ons, dankbaarheid as dryfveer, dankbaarheid as uitstaande kenmerk van ons lewe, dankbaarheid as die een ding wat van ons gesonde en aantreklike mense maak.

Maar hoe kry mens dit reg om altyd bly en dankbaar te wees? Om  eerlik te wees, is daar mos nou dae en omstandighede waarin ons allesbehalwe dankbaar en bly kan wees. Ons is net mense, mense wat soms hartseer is, soms bang, soms kwaad, soms bekommerd, soms het ons pyn, soms voel ons verontreg, ervaar ons baie stres? Beteken dankbaarheid dat ons nou maar ‘n brawe gesig moet opsit en voorgee om altyd dankbaar te wees? Is dit dan nie bietjie skynheilig nie?

Miskien help Paulus ons om te verstaan wat hy bedoel as ons vers 16 tot 18 saamlees, as eenheid. Daar noem hy drie dinge saam, in een asem: Wees altyd bly, bid sonder ophou, wees in alle omstandighede dankbaar. Want hierdie drie dinge: blydskap, gebed, dankbaarheid, dit is wat God se wil vir ons is – so wil God hê dat ons wat aan Christus behoort moet lewe. Dit is wat ons as Christene en gemeente se lewenstyl moet kenmerk.

Dit beteken nie dat God van Christene verwag om oor alles bly en dankbaar te wees nie. Nee, daar is regtig goed waaroor ons nie dankbaar of bly kan wees nie. Natuurlik kom daar tye en omstandighede waaroor ons eerder moet huil, waaroor ons maar moet en mag treur. Daar is dinge in die lewe waaroor ons in opstand moet kom, oor kwaad kan word, ons teen moet verset – soos enige vorm van onreg byvoorbeeld. Dit gaan dus nie hier om oor alles bly en dankbaar te wees nie.

Maar waaroor dit wel moet gaan is om binne alle omstandighede, te midde van alles, tog die dankbaarheid te laat seëvier; dankbaarheid moet uiteindelik die deurslag gee. Want dit bring heling, troos. Dat jy te midde van alles wat sleg en verkeerd is tog ook die goeie kan raaksien, die genade kan ontdek, die dinge kan raaksien en opnoem waaroor jy wel dankbaar kan wees.

IV

‘n Klein storietjie kan dit illustreer. Daar was eenkeer ‘n oupa, ‘n  boer op ‘n plaas, wat altyd vreeslik dankbaar oor alles was. Saans, by huisgodsdiens, het hy altyd ‘n hele lys goeters gehad waarvoor hy vir God dankie gesê het. Maar eendag het alles op die plaas skeefgeloop: die koeie het in die lusernland gekom, opgeblaas en gevrek; die trekker het gebreek; die windpomp is omgewaai, en ‘n hele reeks ander teëspoede het hom getref. Die aand het die kinders en kleinkinders asem opgehou, want daar was sowaar niks wat die oupa op sy kenmerkende dankie-sê lys by die gebed tydens huisgodsdiens kon plaas nie. Maar toe verras die Oupa die kinders, want sy gebed begin toe met: “baie dankie Here, dat elke dag nie soos vandag is nie!” Met ander woorde, die vermoë om te midde van watter omstandighede steeds dit raak te sien waarvoor ons tog dankie kan sê, dit is wat ons moet inoefen, veral ook in hierdie tye waarin ons leef.

Daar is allerlei raad wat ons sou kon volg om te leer dankbaar wees en toe te laat dat dankbaarheid ons heelmaak, lekker prakties: jy kan elke dag ‘n lysie neerskryf van sake waaroor jy dankbaar is. Of ‘n plasing oor dankbaarheid op sosiale media maak. Of jy kan ‘n klippie in jou een broeksak sit vir elke ding wat jou hartseer maak en ‘n klippie in die ander broeksak vir elke ding waaroor jy dankbaar behoort te wees. Teen die aand sal jy ontdek dat die dankbaarheidsbroeksak veel swaarder en voller met klippies is as die hartseer broeksak.

V

En natuurlik moet ons raaksien dat tussen die “altyd bly wees”, en “dankbaarheid in alle omstandighede” staan: “bid sonder ophou”. Dit beteken: leef biddend, leef in teenwoordigheid van die Here, leef afhanklik van die Here, leef in bewustelike gesprek met die Here, leef uit sy Hand. Want wie in sy teenwoordigheid leef, sal vele redes vir dankbaarheid raaksien, onder watter omstandighede ook al. Wie biddende leef, in verhouding tot die Here lewe, is geborge, voel veilig, weet dat God vir ons alles ten goede sal laat meewerk.

Vanmore vier ons Nagmaal. Ook dit is ten diepste ‘n fees van dankbaarheid, dankbaarheid oor die Here se genade, dankbaarheid oor sy liefde, dankbaarheid oor sy teenwoordigheid hier by ons. En met hierdie dankbaarheid in ons harte kan ons ons hande uitsteek en die wyn en brood ontvang, kan ons van die maaltyd opstaan en met nuwe moed gaan lewe … met blydskap en dankbaarheid, onder watter omstandighede ook al.