Bernard is na sy hemelse Vader toe

Bernard Groenewald (kyk foto) het naby Touwsrivier in sy vragmotor geslaap toe daar om 01:00 die nag ‘n petrolbom in die kajuit gegooi is. Hy was die seun van my suster, Betsie, en haar man, Pieter. Twaalf dae later het Betsie op die WhatsApp-groepe geskryf: “Bernard is na sy hemelse Vader toe. Dankie vir julle gebede”. Net dit. Ek het besef dat dit woorde is wat net deur ʼn gelowige geskryf kan word.

Pietie (23), seun van Bernard skryf met ‘n tikkie van die Kaapse idioom: “Ai, my se pa, hoe dan nou? Dit was altyd ek en Pa. Pa het my als geleer wat ek weet … Ek mis Pa verskriklik baie, en ek is baie, baie lief vir Pa.” Bernard se vrou, Ciska skryf: “Jy het ‘n leemte in baie harte gelaat maar my hart is net ‘n leemte … Daar waar my hart moet wees, is net een groot, rou seer.”

Die roudiens was op Vrydag 21 Junie. Daar was geen huldeblyke tydens die diens nie. Bernard was geliefd alom. Almal het hom geken en dit was vir die familie genoeg. Die familie was hartseer. Dit was egter nie nodig om vir hulle daarop te wys wat Paulus geskryf het nie: Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie (1 Tess 4:13) Ek het gehoor dat iemand vir Betsie gesê het dat hulle verbaas is dat hulle dit alles so goed hanteer. Sy het geantwoord dat sy vrede daarmee gemaak het, dat sy glo dat die Here beter weet en dat sy net vir die mense bid wat dit aan Bernard gedoen het, sodat hulle dit nie ook aan ander sal doen nie. In die vyf dae wat ek by hulle was, het ek Betsie nooit sien huil nie -­ sy het verstaan wat vrede is!

Jesus leer ons dat ons mekaar moet vergewe. Hy het gesê: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe” (Mark 11:26). Dit was nie nodig om dit vir die familie te sê nie. Niemand het eers die woord vergifnis genoem nie. Tydens die 5 dae wat ek daar was, het die familie nie gepraat oor wat met Bernard gebeur het nie. Daar was geen beskuldigings nie, geen woede nie. Inteendeel, die familie het mekaar geniet “soos Bernard dit sou wou gehad het.” Ons moet onthou dat dit nie die Here se wil was dat Bernard op so ʼn wrede manier moes sterf nie. Jesus het nooit mense doodgemaak nie, maar Hy het dooies opgewek, nooit mense blind gemaak nie, maar blindes laat sien, nooit mense kreupel gemaak nie, maar kreupeles laat opstaan en loop, nie mense melaats gemaak nie maar Hy het hulle melaatsheid genees. Só lief het God ons! Dit is dikwels mense se verkeerde keuses wat ander laat seerkry en ons, ja ons, ly ongelukkig ook onder die slegte en ondeurdagte keuses wat ander maak, soos ook in hierdie geval.

Daar is baie vir Bernard gebid. Baie WhatsApp-groepe is gevorm, tot 80 in een groep. Op Facebook is die nuus wyd versprei. Natuurlik is daar nie net vir Bernard gebid nie, maar ook vir die familie. By die familie van Bernard was daar ‘n ongekende vrede wat alle verstand te bowe gaan, soos wat Paulus dit beskryf: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filip. 4:4-7).

Die sekerheid kon ons almal koester: Bernard is na sy hemelse Vader toe!

 

Ons Vader, dankie dat ons nie hoef te treur soos mense wat geen hoop het nie. Amen

 

Gratis e-posboodskappe maandeliks vanaf gerberning@gmail.com en weekliks op die App van CLF (Christelike Lektuurfonds). Besoek https://sites.google.com/site/eposbediening

Share this post