Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

I

Elia was een van die groot profete van Israel. Toe Jesus op die berg verheerlik is, was dit Elia, as verteenwoordiger van die Ou Testament, wat daar saam met Hom was om te getuig van Christus se heerlikheid. Elia het van Gilead gekom, ‘n heidense gebied. Hy het opgetree in die tyd toe Agab koning was van Israel. Van Koning Agab word gesê: Hy “het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer nog as sy voorgangers” (16:33). Hy het die Here uitgetart deur ‘n tempel en ‘n altaar vir Baäl en die moedergodin Asjera te laat bou. Baäl is deur die Kananiete aanbid as god wat reën op tyd bring, genoeg reën.

Toe stuur die Here vir Elia na Koning Agab toe met die boodskap: die reën gaan vir ‘n paar jaar wegbly. En Baäl sal niks daaraan kan doen nie! Dit gaan dus in hierdie verhaal ook oor die vraag: wie is werklik in beheer van die natuur, die God van Israel of Baäl, die reëngod van Kanaän? Elia het daarmee ‘n direkte uitdaging tot koning Agab gerig: nou sal ons sien of jy wys was toe jy vir Baäl ‘n altaar gebou het.

Agab was natuurlik woedend vir Elia oor dié uitdaging, soveel so dat Elia uit vrees vir sy lewe moes gaan wegkruip by die spruit Krit.

Toe hou dit op reën. Die groot droogte het gekom. Geweldig.

II

 

Natuurlik is dit ‘n ontstellende verhaal. Beteken dit nou dat droogte God se straf is? Beteken dit dat God, omdat Hy vir koning Agab kwaad was, sommer al die mense van Israel straf, ook die heidene van Gilead? Beteken dit dat God deur droogte wil wys wie is eintlik baas? Is God se oordeel en straf, God se toorn die laaste woord oor God? Is dit hoe God is?

Ja, volgens die Ou Testament verhale is dit inderdaad so dat God toornig is oor sonde; dat God afgodery nie kan verdra nie en dit staf; dat dit ons mense daarom betaam om in vrees en bewing voor die almag van God te leef. Om in vrees vir die Here te leef, met ontsag vir God, is inderdaad ‘n tema reg deur die Ou Testament. God se geregtigheid vereis ook straf in vele vorme, soms ook wrede straf soos vloede, droogte, peste en plae, ballingskap en uitwissing met die dood. Vir ons moderne mense is dit regtig soms moeilik om dié gedeeltes oor die gewelddadigheid van God se oordeel te lees. Maar so het die mense van daardie tyd oor God gedink; so is die God van Israel aan hulle bekend gestel.

III

Maar in hierdie verhaal lees ons ook van ‘n ander kant aan God. Ons lees van God se omgee en genade, God se barmhartigheid, God se liefdevolle sorg te midde van die swaarkry van mense. Ons lees van God wat mense raaksien, hulle nood, en aan hulle dan die lewe skenk, asook nuwe lewensmoontlikhede.

As Elia die profeet in ‘n onherbergsame gebied moet gaan wegkruip, stuur die Here kos vir hom, brood en vleis, deur kraaie. Kraaie was onrein diere, met vuil snawels – afstootlik (Levitikus 11:15). Dis asof die Here, in die sorg aan sy profeet Elia, self sy reinheidswette deurbreek, die wette wat uitdrukking moes gee aan hoe mens in die vrees van die Here moes lewe. Nie die toorn oor die oortree van wette nie, maar die sorg aan sy kinders, God se barmhartigheid, het hier die laaste sê.

Dieselfde sien mens as Elia beveel word om na die Sarfat te gaan. Daar ontmoet hy ‘n heidense weduwee. By die poort van die dorp tel sy stukkies hout op. Sy was duidelik brandarm, weerloos soos net weduwees in dié tyd kon wees.

Dan die mooi verhaaltjie van Elia wat by haar bietjie water vra om te drink, en terwyl sy nou die water gaan haal, bring sommer vir hom ook ‘n stukkie brood saam, vra hy. Maar die vrou het net ‘n laaste stukkie kos oor – haar plan was juis om om dit gaar te maak vir haar en haar seun en dan maar te wag op die dood. Daar is niks oor in haar huis nie. ‘n Prentjie van ‘n mens in uiterste nood, desperaat, met geen hoop dat sy en haar seun dit gaan maak nie.

En dan gebeur die wonder. God laat haar kruik met meel en die fles met olie nie opraak nie. Daar is genoeg vir elke dag. Genoeg tot die reën weer kom, so belowe Elia namens God. Hier staan dat die wonder gebeur het “ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Elia gesprek het” (vers 16).

Die verhaal gaan dus nie regtig oor Elia nie, maar oor God. God is hier besig om iets van sy genade, sy barmhartigheid ten toon te stel. Hy sorg vir sy gelowige profeet, maar ook vir die ongelowige weduwee. Dis óók hoe God is. Dis eintlik wie God is. Nie die droogte nie, maar God se versorging van mense, dit is die wonder van hierdie verhaal. Dis die punt wat hierdie verhaal wou maak.

IV

Hier is dalk ook ‘n laaste les in dit alles: God se barmhartigheid verrig Hy ook deur mense. Hy gebruik sy kind Elia om die weduwee te versorg, goed aan haar te doen, selfs al was sy nie van Elia se eie mense nie.

God stuur mense om aan mekaar brood uit te deel, en olie – om die lewe self met mekaar te deel. God wil nie dat enigiemand honger ly nie. Want so is God self.

In God se optrede, “by monde van Elia”, was Elia op ‘n manier ‘n voorloper van God se Seun wat sou kom; ‘n vooraf skaduwee van die Christus wat sou kom. In die Nuwe Testament is Jesus se optrede daarom telkens nou verbind aan dié van Elia. Want Christus, as God se enigste, geliefde Seun,  het God se toorn van ons mense kom afwend; Hy het self vir ons die brood van die lewe kom word; die nagmaal bordjie met brood en die beker met wyn sou vir die eeue wat kom nie opraak nie – as teken van God se groot ontferming vir ons as mense, God se ontferming selfs ook vir die weduwees wat nog ongelowig is. Daarmee het Christus finaal kom wys hoe God werklik is, hoe vol liefde en barmhartigheid God se hart is … en dat God natuurlik veel beter as watter soort afgod ook al is.

Soos Elia is ons elkeen geroep om dié tekens van God se liefde aan mekaar deur te gee … en te ontvang, al is dit ook by monde van kraaie.