Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘n verhaal van liefde en haat en van belofte en ontferming – Romeine 11:25-36

I

Sondag 10 van koninkrykstyd word wêreldwyd in die Evangelies Lutherse Kerk gewy aan die verhouding tussen Christene en Jode, Kerk en Israel. Dis ‘n omstrede saak, dikwels diep emosioneel. Paulus worstel hiermee in Romeine 9-11 en waarsku: “Ons staan hier voor ‘n geheimenis…” (Romeine 11:25), waaroor ons net in nederigheid kan praat. Ons kan egter ook nie daaroor stilbly nie, want dit raak die wese van wat ons as Christene glo.

II

Die geskiedenis van die verhouding tussen Christene en die Jode is inderdaad gekenmerk deur haat en liefde. Oor eeue heen is die Jode, verstrooid in baie Europese lande, gehaat en onderdruk. Hierdie anti-Semitisme het ‘n dieptepunt bereik in die Holocaust van die Tweede Wêreldoorlog. Vandag nog steek ‘n gevaarlike anti-Semitisme oral kop uit. Die ander uiterste is die sg. filo-Semitisme, ‘n oordrewe, onkritiese liefde vir die staat Israel. Baie konserwatiewe Amerikaanse evangelicals glo vas dat die moderne staat Israel ten alle koste uitgebou moet word, al kos dit ook die uitwissing van die Palestyne wat ook eeue reeds daar woon, want as Israel as staat, met Jerusalem as hoofstad, eers weer in glorie herstel is, sal die wederkoms gebeur en Christus sal sy beloofde 1000-jarige vrederyk kom vestig – natuurlik met die VSA as hoofkwartier! Om hulle geloof te staaf gebruik hulle dan juis ook ons teksgedeelte (Romeine 11:25-32). Die vraag bly dus baie aktueel: wat hou die toekoms van Israel vir ons as Christene in? Hoe moet ons oor die Jode dink?

III

Paulus worstel baie met hierdie vrae, veral dan hier in Romeine 9-11. Hy was self ‘n rasegte Jood en baie trots daarop. Daar was by hom “groot droefheid en voortdurende hartseer oor my broers, my eie volksgenote” (9:2-3), want hulle het hul eie Messias verwerp, hulle teen die Christus verhard. Hierdie ‘verharding teen Christus’ het egter meegehelp dat heidene, die nie-Jode (d.w.s. ons, die Kerk) soos ‘wilde’ olyftakke ingelyf kon word die ‘mak’ olyfstam van Israel; ons het deel van die verbond met die Aartsvaders geword; ons is as kinders van Abraham ‘aangeneem’. En dit het duidelik geword dat al die verbondsbeloftes aan Abraham, in en deur Christus, nou vir ons almal geld (Galasiërs 3:16). Christus is die ware Israel, en almal wat aan Hom behoort, behoort tot die ‘Nuwe Israel’. Die Kerk is nou die nuwe Israel, die verruimde Israel, aan wie al die Ou Testament beloftes toekom. Daaroor is Paulus natuurlik baie bly; dis iets om jou aan te verwonder, om oor te sing, in volle aanbidding uit te breek (Romeine 11:33-36).

Maar, en dis Paulus se diepe worsteling, wat dan nou van Israel? Het God nou hierdie uitverkore volk, hierdie verbondsvolk, hierdie volk aan wie God in die verlede soveel vaste beloftes gemaak het, heeltemal verwerp? Het God sy rug finaal op Israel gedraai? Dit kán mos nie wees dat God se beloftes aan hulle nie meer geld nie? God kán mos nie iets belowe en dit dan later terugtrek nie? “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk het, en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie” (vers 29). Wat hou die toekoms dan vir Israel in? En wat beteken dit vir die Kerk van Christus? So worstel Paulus hier.

Christene se redding kan nie losgemaak of los-gedink word van Israel, of dan die Jode, nie. Ons deel immers die hele Ou Testament met hulle. Ons kan nie die betekenis van die koms van Christus sonder hierdie ‘gedeelde geskiedenis’ verstaan nie. Dieselfde God van die Ou Testament, dieselfde God waarvan die Jode in die shema, hulle kern-geloofsbelydenis in Deuteronomium 6:4, bely: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here, daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag”, hierdie selfde God is ook die God van die Nuwe Testament, die Vader van ons Here Jesus Christus. En die Messias, die Christus, stam uit hierdie verbondsvolk – dis hulle ‘geskenk’ aan ons wat later bygekom het, ons wat later ingetrek is in die verbond in. Onthou bietjie, sê Paulus aan die nie-Joodse Christene, onthou hoe dit gekom het dat julle deel gekry het aan God se groot ontferming, aan sy genade. Israel het hierin ‘n kern rol gespeel. Dis asof Paulus pleit: julle Christene moenie nou die Jode afskryf nie, julle beter of hoër as hulle ag nie, op hulle neersien nie, nee, julle behoort eintlik dankbaar teenoor hulle te wees. En julle behoort eintlik hartseer en begaan oor hulle te wees… want julle skuld hulle soveel.

Kyk, verduidelik Paulus verder, God se beloftes geld nog netso vir Israel. God het nie sy beloftes teruggetrek nie. Maar hierdie beloftes het in die Messias in vervulling gegaan; al die Ou Testament beloftes het na Jesus Christus toe heen-gewys. Dáár lê Israel se heil, dáár lê hulle toekoms, hulle redding – in die aanvaarding van Christus as die beloofde Messias, as die Seun van Dawid, die Seun van God. En dis hierdie boodskap wat ons as Christene aan hulle verskuldig is… want God wil “Hom oor almal ontferm” (vers 32), vir seker ook oor die Jode! God is nog netso begaan en lief vir sy volk Israel. En in dié sin maak dit “geen verskil of jy Jood of Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik” (Romeine 10:12). Maar, hierdie ontferming (‘n mooi, ou woord wat omgee-liefde of genadebetoning beteken – sien ook Romeine 12:1) skenk God deur die kanaal van Christus, deur geloof in Jesus as die Messias. En presies dit is die boodskap wat ons die Jode skuld – nie haat of verwyte nie, nie neersien op hulle nie, maar ontferming, God se ontferming. Dit is wat ons hulle skuld, net soos wat ons dit aan almal skuld wat nog nie hierdie ontferming ontvang het nie.

IV

Is dit wat met moderne Israel gebeur ‘n voorwaarde vir die vrederyk wat kom? Kan ons met wat in Jerusalem gebeur hierdie koms ‘voorspel’ of selfs ‘verhaas’? Is dit wat Paulus hier wil sê? Nee, dit gaan beslis nie hieroor nie. Israel as staat is nie ter sprake nie. Ook nie Jerusalem as stad nie. Ook nie Israel se grondgebied nie. Dit gaan ook nie daaroor dat Christene alles wat die huidige Joodse regering doen moet goedpraat nie, inteendeel! Dit gaan wel oor die verlossing in Christus, oor die Kerk as ‘Nuwe Israel’, en God se verlange dat die ‘Ou Israel’ ook weer hiervan deel moet word. En dit gaan oor ons roeping om daarvoor te bly bid en werk – ons roeping om God se ontferming uit te dra, ook na die Jode.

Maar het die Jode se aanvaarding van Christus wel iets met die toekoms, dalk met die wederkoms en die aanbreek van die nuwe hemel en die nuwe aarde te make? Dalk, ons weet nie! Wanneer en hoe die vrederyk in die toekoms sal aanbreek, bly ‘n geheimenis. En presies hoe Israel weer eendag ingetrek gaan word, God hulle as volk ook weer deel van sy groot ontferming in Christus gaan maak, dit bly ‘n misterie. Wat egter vasstaan is dat God dit sál doen – Hy het immers belowe, en sy belofte staan onherroeplik vas!

Daarom kan Paulus nie anders as om na sy diepe worsteling oor die misterie van God se genade, God se ontferming oor Jode en nie-Jode, ‘n lied van verwondering en lofbetuiging aan te hef nie: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen” (Romeine 11:33-36)