Markus 2:23-28
Ons het verlede Sondag gehoor: Die hart van die evangelie is dat Christus ons gesond maak, heel maak, nuut maak. Hierdie Sondag gaan dit daaroor dat Christus ons vry maak … om werklik vry te wees! Gesond maak en vry maak, twee kante van dieselfde munt. Wat beteken vry maak? Wat beteken dit om werklik vry te wees?
I
Om vry te wees is natuurlik ‘n eeueoue drang of dryfveer. Vir vryheid maak mense oorlog. Ter wille van vryheid is mense bereid om te sterf. Meeste politieke partye skryf vryheid in hulle naam in. Die groot versugting, vandag nog, is om waarlik vry te kan wees. Wêreldwyd is dit die mees gewilde slagspreuk, die kreet wat mense tot aksie roep: Vryheid, Liberty, Freiheit!
II
Toe die Rooms Katolieke Kerk destyds ‘n dekreet uitvaardig wat Luther as ketter brandmerk en sy verdere optrede verbied, skryf hy in 1520 een van sy heel belangrikste boekies Oor die Vryheid van ‘n Christen – die hele Reformasie wat Luther op tou gesit het, sou draai oor ‘n drang na bevryding … vryheid op godsdienstige terrein, maar ook die bevryding van die mens se ganse lewe. Wat beteken dit dat Christus ons vrygemaak het om werklik vry te wees? Dit was die diepste vraag van die Reformasie.
In sy boekie maak Luther twee stelling, wat op die oog af reg teenoor mekaar staan. Aan die een kant sê hy: “’n Christen is ‘n volledig vrye mens, heerser oor almal, onderworpe aan niemand” Maar aan die ander kant sê hy ook: “’n Christen is ‘n volledig gebonde mens, diensbaar aan almal, onderworpe aan elkeen!” Christen-wees is om vry te wees, maar Christen-wees is tegelyk ook om gebonde te wees. Hoe werk dit?
III
Sonde, is opstand teen God; dit beteken ten diepste dat die mens God van die troon probeer afruk, en self op die troon gaan sit as heerser van sy of haar eie lewe. Dan word die mens se eie sondige drange en drifte, jou natuurlike instinkte die absolute wet. Jy raak ingebuig op jouself, slaaf van jou sondige natuur. En presies dit word dan die nuwe wet in jou lewe, die nuwe slawedrywer wat jou jou vryheid laat verloor. Maar jy word nie net slaaf van die self nie; tegelyk seëvier die drang om ook ander mense ondergeskik aan jou wette te maak. Of ander mense maak jou ‘n slaaf van hulle wette, en ontneem so jou vryheid. Die diepste gevolg van sonde is daarom die verlies aan vryheid. Ons word ons eie slaaf, en ons word mekaar se slawe. Hierdie verlies aan vryheid kan ook in godsdiens gebeur. Dis wanneer mense God se wet – of dan hoe dit verstaan word – gebruik om ander mense van hulle vryheid te beroof. Dit het destyds in die Rooms Katolieke kerk gebeur – mense is slawe van godsdienstige en kerkwette gemaak, en dis presies waarteen Luther in opstand gekom het.
Luther het ontdek dat Christus ons van al hierdie wette kom bevry het. Hy het die juk van die wet van ons nek kom afhaal. Hierdie verkeerde verstaan van die wet, as ‘n klomp reëls wat ons bind, wat ons skuldig laat staan, wat ons veroordeel, daarvan het Christus ons kom bevry. Ons staan nie meer skuldig teenoor dié wette nie. Ons word nie meer deur die wette veroordeel nie. Ons hoef nie meer wette na te kom om verlos te word nie, en so ons geregtigheid probeer verdien nie. Christus skenk ons die vryspraak, verniet. Hy kom haal die juk van ons nek af, Hy kom maak ons werklik vry.
IV
Dit illustreer Markus 2:23-28 mooi. God het die Sabbat bedoel as ‘n geskenk aan die mens, as ‘n rusdag waarin die mens hom in God kan verlustig, ‘n dag waarop die mens tot ruste kan kom van al die kwellinge en verpligtinge van die week, ‘n dag waarop ons mekaar en God se skepping kan geniet. Maar toe kom maak die Joodse leiers ‘n verskriklike klomp wette daarvan: op die Sabbat mag nie dit nie, jy mag nie dat nie. Een van die talle wette was: jy mag nie jou oes op die Sabbat insamel nie. Jesus en sy dissipels wandel hier tussen die koringlande deur. En omdat hulle honger was, pluk hulle van die are en eet dit. Dit mag hulle gedoen het – dat arm of honger mense are mag afpluk en eet, was een van die maniere waarop God vir hulle wou sorg … niemand moes honger ly nie! So staan dit oral in die Ou testament. Dat hulle are gepluk het, en dit op die Sabbat, het die fariseërs egter hewig ontstel. Volgens hulle het Jesus daarmee die Sabbatswet oortree. Dan verduidelik Jesus egter: nee, ons oortree nie die wet nie! Ons voer eintlik presies uit wat die bedoeling met die Sabbat was. Ons rus, ons geniet dit, ons verlustig ons in die geskenk van die rusdag, ons het vreugde aan God se sorg. Want die rusdag is bedoel as geskenk vir die mens. Die Sabbat is vir die mens gemaak, nie die mens vir die Sabbat nie. Al julle wette vernietig hierdie bedoeling; dit het ‘n juk geword, ‘n verpligting, en daarvan het Ek julle kom bevry. Moenie julle so laat bind aan menslike wette nie. Julle is vry!
Ek dink nie ons besef hoe radikaal dit wat Jesus hier doen en sê in daardie tyd was nie – dis asof Hy ‘n streep getrek het deur alles wat die Jode geglo en noukeurig nagekom het. Ek het julle kom vry maak van die Wet, sê Hy, sodat julle werklik vry kan wees. En dis wat Luther se boodskap so radikaal gemaak het in sy tyd. Om verlos te wees is om vrygemaak te wees, vrygespreek van die oordeel van die wet. Dis wat Luther se eerste stelling beteken: “’n Christen is ‘n volledig vrye mens, heerser oor almal, onderworpe aan niemand”.
V
Beteken dit nou ons is bandeloos vry, ons kan maar net doen wat ons wil, doen waartoe ons drange ons ook al dryf? Nee, want dan word ons maar net weer slawe van ons sondige begeertes. Dan verloor ons hierdie duurgekoopte vryheid weer. Daarom is daar ‘n tweede kant aan die vryheid. Ons is regtig vry van die wet, maar ons bly gebonde aan Christus, en gebonde aan mekaar. Ons is vrygemaak sodat ons Christus loshande kan dien, dankbaar kan dien, in liefde kan dien. En ons is vrygemaak om mekaar te kan dien, in liefde, uit dankbaarheid. Ons is gebonde aan liefde vir God en liefde vir mekaar. Dis die nuwe wet wat in ons lewe regeer. Ons doen dit nie omdat ons moet nie, maar omdat ons graag wil, en nie anders kan nie. Nie die wet wat verpligtinge op ons laai nie, nie die wet wat ons slawe maak nie, nie die wet waardeur ons ons saligheid moet probeer verdien nie. Nee, daarvan is ons bevry. Maar dis ‘n wet van liefde en genade, ‘n wet van deernis en omgee – aan hierdie wet bly ons gebonde. Dis wat Luther se tweede stelling bedoel: “’n Christen is ‘n volledig gebonde mens, diensbaar aan almal, onderworpe aan elkeen!”.
VI
Ons is vrygemaak van die wet, maar bly gebonde aan die wet van liefde tot God en mekaar – dis wat dit beteken om werklik vry te wees. En hierdie wet van die liefde, dis wat die Gees van Christus in ons harte skryf. En hiervoor gebruik die Gees die Woord van God – die Gees van liefde, wat ons bind aan die Woord van liefde. Dis ware vryheid!
Vir hierdie vryheid hoef ons nie oorlog te maak nie; nee, dit word aan ons geskenk, verniet.