Op ‘n besige pad het ‘n motoris by ‘n verkeerslig gestop, alhoewel hy sou kon versnel het en die kruising tog nog oorgesteek het voordat die lig rooi geslaan het. Die vrou in die motor agter hom het haar toeter geblaas en haar frustrasie uitgegil omdat sy nie die kruising kon oorsteek nie. Sy was nog briesend toe ‘n polisieman aan haar ruit klop en haar beveel om uit die motor te klim met haar hande bokant haar kop. By ‘n polisiestasie is sy deursoek en vingerafdrukke en foto’s van haar geneem voordat sy in aanhouding geplaas is. Na ‘n paar uur is sy na die kantoor geneem waar die beampte wat haar gearresteer het, met haar persoonlike goed gewag het. ”Ek is baie jammer oor die fout”, het hy gesê, “maar sien, by die verkeerslig was ek reg agter jou terwyl jy jou toeter gedruk het en die man voor jou tot in die hel vervloek het. Ek het toe die plakkertjies aan jou motor gesien ‘What Would Jesus Do’, ‘Choose Life’ en “Jesus saves,” asook die Christelike ‘Visser-van-mense’-embleem teen die kattebak. Ek moes aanvaar jy het die motor gesteel.”
Ons sê dat ons in Christus glo, maar soms weerspreek ons dade, of gebrek aan dade, dit wat ons sê. Die Bybel sê ons geloof moet gesien word in dit wat ons doen, in dit wat ons sê, en in hoe ons reageer teenoor mense. My liewe broers en susters, wat help dit as ‘n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie? Só ‘n geloof kan jou nie red nie. … Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks (Jak. 2:14 – 17).
Selfs Christene sê partykeer dat hulle nie aan ‘n kerk wil behoort nie, juis omdat die dade van die mense wat kerk toe gaan, dikwels hul getuienis weerspreek. Dit is ‘n geregverdigde aanklag teen Christene. Daar is egter ook ‘n ander kant van die saak. Jesus het gesê: “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. … Maar die tollenaar het … bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is” (Luk. 18:10 – 14). Oor hierdie gelykenis kan ons maklik sê: “Ek is darem nie soos hierdie Fariseër nie.” En tog veroordeel ons mede-Christene. Ons sê dan eintlik: “O God ek dank U dat ek nie soos hulle is nie.” Dan doen ons presies wat hierdie Fariseër gedoen het.
Ons is almal sondaars. Solank ons nog dink dat ons darem beter is as ander, en nie die genade van God só nodig het nie, het ons nog nie die evangelie (die blye boodskap) verstaan nie, en is ons saak met God nie reg nie. Ons kan maar net uitroep ‘O God, wees my, sondaar, genadig.
In Mozart se Requiem word vertel van Jesus se reis van lyding op die aarde en die oordeelsdag. Daar kom die aangrypende reël voor: “Onthou, barmhartige Jesus, ek is die rede vir u reis, verlaat my nie op daardie dag nie.”
Dankie, Here, dat U ons liefhet. Help ons om hierdie liefde van Jesus elke dag in alle omstandighede uit te leef tot u eer. Amen.
Gert Berning