Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Derde Sondag ná die epifanie
Die groot manne . . .

 

“Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees . . .” (v. 26).

Dat Jesus se volgelinge groot drome gedroom het oor die moontlike voordele wat die dissipelskap vir hulle sou bring, het gou duidelik geword. Van hulle sou selfs onder mekaar redeneer wie die belangrikste in die koninkryk is. En hier tree ’n ambisieuse ma boonop tot die wedywering toe: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit . . .” (v. 21).
Jesus skud sy kop en sê hulle het geen idee wat hulle vra nie.
Nee, hulle hét, sê die twee mannetjies. En, ja, hulle sien kans vir sy lydensbeker ook. As Hy hulle maar net die ereposisie kan belowe . . .
Toe die ander dissipels van hierdie vrymoedige versoek hoor, was hulle verontwaardig. Dalk was hulle vies dat húlle nie eerste daaraan gedink het nie.
Toe roep Jesus hulle almal nader en leer hulle een van die heel belangrikste lesse wat ’n Jesusvolgeling maar kán leer: Julle weet goed hoe dit tussen mense gaan – almal wil grootman wees. “Maar by julle moet dit nie so wees nie” (v. 26).
Om te dien, sê Jesus, is om ’n voorskoot aan te trek en te vra: Wat kan ek vir jou doen? Dit is ’n wesenskenmerk van ’n dissipel. En dit is die enigste manier waarop klein mensies groot kan word.
Diensbaarheid is die koninklike weg. Só sê Hy, die Koning, wat presies dit kom doen het. Sekerlik ook met die hoop dat sy volgelinge dit tog sou aanleer.

Die wêreld se “groot manne” (v. 25) – dié wat ’n lewe van baasspeel leef, “die manne van naam” (Gen 6:4) – het al onberekenbare skade aan hulle en ander se wêreld aangedoen. Baie van hulle het selfs bloed aan hulle hande. Hulle word wyd gevrees, en net so wyd verag.
Maar die banges én diegene wat die groot manne heimlik (beslis nie sommer openlik nie) minag, dra dikwels die letsels van hierdie magsmisbruik; ook hulle vorm deel van ’n lang lys slagoffers.
Dit is maar een van die lewe se hartseer feite; daar is weinig daaraan te doen. Leef maar daarmee saam, en bly aan daardie klomp se “regte” kant.
Gelukkig is dit by die Jesusvolgelinge nie so nie. Die kerk is tog die een plek waar daar nie “groot manne” gevind word nie. Waar magsmisbruik ’n onbekende woord is en nederige diensbaarheid die leuse. Waar die een die ander hoër ag as hom- of haarself, en waar daar nooit na posisies gestreef word nie.
Hier loop Jesus voor, Hy alleen.
Of hoe?

Here, hoeveel skade het ons nie al u Naam aangedoen nie.
Ons, u kerk, u volgelinge, u eiendom.
Ons wat maak en breek soos óns wil.
Vergewe ons.

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.