Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

In die Richtersveld is daar ‘n rots wat lyk of daar ‘n baie groot hand op gedruk het, kyk foto. Dit word genoem: Die hand van God. Van die plaaslike bevolking sê dat dit die plek is waar God sy laaste werk gedoen het en toe sy handtekening daar gelaat het. Veeboere het met hulle vee in daardie omgewing getrek en as hulle by hierdie plek gekom het, het hulle gesê: “Die Here was ook hier”. Dit het hulle weer moed gegee om verder te trek.

Job sê vir een van sy “slim” vriende dat God se hand alles geskep het en dat die skepping daarvan vertel. Hy sê (Job 12:7 – 9): Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?

Salomo skryf van ‘n gawe uit die hand van God (Pred. 2:24 – 26): Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ‘n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap.

            Spykers is geslaan deur die hande van Jesus, die Seun van God, toe Hy in ons plek vir ons sondes betaal het aan die kruis. Hy het gesterf maar het weer opgestaan en is nou aan die regterhand van God (1 Pet. 3:22): Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het. Jesus is by ons, maar nie meer fisies as mens nie.

            Op ‘n Franse plattelandse dorpie was daar gedurende die Tweede Wêreldoorlog ‘n pragtige marmerbeeld van Jesus. Eendag het ‘n bom daar naby ontplof en die beeld vernietig. Nadat die geveg verby was, het die inwoners van die dorpie besluit om die stukke van hul geliefde beeld te soek en dit te herbou. Hulle het al die stukke gekry behalwe die hande van die beeld. Toe het iemand gekom met ‘n voorstel waarmee almal saamgestem het. ‘n Koperplaatjie is op die voetstuk van die beeld aangebring wat lees: “Ek het geen hande nie, net jou hande.” Jare later het iemand daardie beeld en inskripsie gesien en die volgende geskryf: “Ek het geen hande nie, behalwe jou hande om vandag my werk te doen. Ek het geen voete nie, behalwe jou voete om mense op die regte pad te lei. Ek het geen tong nie, behalwe jou tong om mense te vertel hoe Ek gesterf het. Ek het geen hulp nie, behalwe jou hulp om mense na God toe te bring .

 Paulus skryf dat óns nou die liggaam van Christus is (1 Kor. 12:27): Maar julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik elkeen ‘n lid daarvan. God noem dat almal gesamentlik wat aan Hom behoort, sy liggaam is. Ons is lede (of dele) van sy liggaam.

Jesus het sy kinders lief. Hy het soveel vertroue in hulle dat Hy sy werk aan hulle toevertrou het. Wanneer ons Christus as ons Verlosser aanvaar, word ons deel van sy liggaam. Vanaf daardie oomblik is ons sy hande, sy voete en sy stem om sy werk in hierdie gebroke wêreld te doen. God se hand moet in ons lewens so sigbaar word dat mense wat moedeloos word, kan sê: “Ek het weer moed geskep”.

 

Here, dankie dat u hand van genade elke dag oor ons is. Laat ons elke dag lewe tot u eer sodat u hand ook in ons lewens sigbaar sal wees. Amen.

Gratis e-pos en/of WhatsApp boodskappe weekliks van gertberning@gmail.com. Gert Berning by https://sites.google.com/view/Gert-berning-sites, YouTube en Christelike Lektuurfonds.