Op ʼn Franse plattelandse dorpie, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, was daar ʼn pragtige marmerbeeld van Jesus met uitgestrekte hande in die binnehof van ’n kerk. Eendag het ʼn bom te naby ontplof en die beeld vernietig. Nadat die geveg verby was, het die inwoners van die dorpie besluit om die stukke van hul geliefde beeld te soek en dit te herbou. Hoewel dit nie ʼn kunswerk deur ʼn beroemde beeldhouer soos Michelangelo was nie, was dit deel van hul lewens en was hulle lief daarvoor. En so het hulle die stukke versamel en die beeld weer opgebou. Die merke wat veroorsaak is deur die bom het die beeld selfs nog mooier gemaak. Maar daar was ʼn probleem: Hulle kon nie die hande van die beeld kry nie. Een van hulle het met ’n droewige stem gesê: “Jy kan nie ’n Christus sonder hande hê nie want dit is geen Christus nie. Ons weet Jesus merke aan sy hande gehad het, maar Hy kan tog nie sonder hande wees nie. Ons benodig ʼn nuwe beeld.” Toe kom iemand met ʼn voorstel waarmee almal saamstem. ʼn koperplaatjie is op die voetstuk van die beeld aangebring wat lees: “EK HET GEEN HANDE NIE, NET JOU HANDE”
Jare later het iemand daardie beeld en inskripsie gesien en die volgende vers geskryf:
“I have no hands but your hands to do my work today.
I have no feet but your feet to lead men on the way.
I have no tongue but your tongue to tell men how I died.
I have no help but your help to bring men to God’s side.”
In die Bybel lees ons van Jesus se lewe toe Hy tussen die mense was. Ons lees van sy liefde vir mense en hoe Hy siekes genees en blindes laat sien het. Hy het groot skares gevoed. Hy het ʼn passie gehad vir die armes en dié in tronke. Hy het selfs mense uit die dood opgewek. Jesus is nie, soos 2000 jaar gelede, langer in die liggaam by ons nie. Paulus skryf dat ons nou die liggaam van Christus is: 1 Kor 12:27 Maar julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik elkeen ʼn lid daarvan. God noem almal gesamentlik wat aan Hom behoort, Sy liggaam. Ons is lede (of dele) van Sy liggaam.
Moenie ontmoedig voel as jy nie die wonders kan doen wat Jesus gedoen het nie. Hy gee ons die middele en kennis vir die dinge wat ons kan doen. Hy vra ons om goedhartig met mense te wees, dié wat in nood is te help, siekes by te staan en om met mense te praat sodat hulle navolgers van Jesus kan word. Jesus het gesê: Matt 28:19-20. “Gaan dan, maak al die nasies my dissipels”
Jesus het sy kinders lief en glo so vas in hulle dat Hy sy werk aan hulle toevertrou het. Wanneer ons Christus as ons Verlosser aanvaar, word ons deel van Sy liggaam. Vanaf daardie oomblik is ons sy hande, sy voete, en sy stem om sy werk in hierdie gebroke wêreld te doen.
Liewe Here, in baie opsigte doen ons dinge wat teen U wil vir ons is. En nogtans maak U ons U kinders wanneer ons U vergifnis in Jesus Christus aanvaar. Dankie dat U ons genoeg vertrou om U werk in hierdie wêreld uit te voer. Amen
Gert Berning