Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

Lees Matteus 25:34-46

“Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit . . .” (v. 34).

In sy latere gesprekke met sy volgelinge verwys Jesus dikwels na die tyd wanneer Hy gaan terugkeer. Dan praat Hy oor die dinge waarmee sy volgelinge moet besig wees wanneer Hy weer kom.
Meermale sê Hy hulle moet vir sy tweede koms na die aarde gereed wees, “omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie” (Matt 25:13).
In dié gesprek lê Hy egter klem op dit waarmee hulle in die loop van hulle lewe besig sal wees. En, sê Hy, dít sal sy houding teenoor hulle bepaal wanneer Hy weer kom.
Wat moet hulle doen om sy guns te verwerf?
Eenvoudig: Hulle moet vir Hom, die hongerige, kos gee; vir Hom, die dorstige, iets gee om te drink; vir Hom, die vreemdeling, onderdak gee; vir Hom, die naakte, klere gee; vir Hom, die sieke, verpleeg. En hulle moet Hom, die gevangene, besoek.
Haai, Here, maar waar was U honger, en wanneer sonder klere? En in die hospitaal? Die tronk! Nee, tog nie Ú nie . . .

Dan sal Hy antwoord: “Vir sover julle dit aan een van die geringste(s) . . . gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (v. 40).
Só sê Jesus deur die eeue aan sy volgelinge: Die koninkrykslewe speel nie tussen adellikes af nie. Inteendeel. Koningskinders bring God se koninkryk na die sukkelaars toe, dié wat uitgeval of uitge-stoot is. Dié wat opgesluit en afgesloof is.
Ja, die koningskinders lééf die koninkrykslewe tussen mense wie se menslikheid aangetas word – deur ander mense, deur die samelewingstrukture. Deur “omstandighede”, buite óf binne
hulle beheer.

En eendag? As Hy weer kom?
Dan erf die koningskinders die koninkryk. Hulle hoor dié woorde wanneer die poorte vir hulle oopgegooi word: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is!” (v. 34).
Maar presies wié is die koningskinders?
Dit is húlle, sê die Koning, wat gaan wanneer hulle gestuur word – dit maak nie saak waarheen nie. Wat oopmaak wanneer daar aan hulle deur geklop word – dit maak nie saak deur wié nie. Wat gee wanneer daar van hulle gevra word – dit maak nie saak wát nie.
Dit is hulle wat, oral waar hulle kom, met sagte oë kyk en met sagte hande vat. Soos hulle by hulle Koning geleer het.

Hier staan ek, Here! Stuur my, lei my.
Vorm my en maak my, net soos U wil.

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.