Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

I

In die 1990’s het die gewilde Pous Johannes Paulus II ‘n belangrike reeks lesings gegee oor wat hy ‘n “Teologie van die Liggaam” genoem het. Teologie, of dan geloof of aanbidding, gaan nie net oor geestelike dinge nie. Die Bybel praat nie net oor ons gees nie. Ons kan die mens nie so maklik opdeel in liggaam, siel en gees, asof dit drie aparte dele van menswees is nie – soos daar trouens lank in die Weste geglo is. Nee, ons liggaam is volledig deel van ons menswees; ons kan nie anders as om aan onsself, en ander, as mense met liggame te dink nie. Ons verhouding met mekaar en met God, het ten diepste ook met ons liggame te make.

II

God, so bely ons, is ‘n suiwer geestelike wese, onsigbaar, ‘n misterie wat ons nie kan sien of aan kan raak nie. En tog, toe God iets van God self sigbaar wou maak, het God die mens na God se beeld geskape, as man en vrou. Iets van God het sigbaar en tasbaar geword in die menslike liggaam. As liggaamlike wesens weerkaats man en vrou iets van God self. En in die verhouding tussen mense, mans en vroue, in hulle hulle saam-wees en pas by mekaar, hulle hulp aan mekaar én ook hul liggaamlike eenwording, word iets van die eenheid binne die Drie-eenheid van God weerspieël.

Uiteindelik is God se wese, die mooiste en mees volmaakte manier waarop God openbaar word, te sien in Christus Jesus wat mens kom word het, in ons vlees in gedaal het (ons praat van Jesus se inkarnasie in ons mensheid in). Christus het volledig mens kom word, met ‘n liggaam. Hy het honger geword, dors en moeg, Hy het pyn ervaar, en angs – sy liggaam het letterlik “bloed gesweet”. Dit alleen vertel al reeds hoe belangrik die menslike liggaam vir God is. Ons kan dit wat Jesus ons oor God kom wys het alleen maar verstaan in die liggaamlike optrede van Jesus op aarde.

Maar méér nog. Aan die kruis is Christus se liggaam verwond, gebreek; daar het sy bloed gevloei! En toe Hy opgestaan het uit die dood, het Christus liggaamlik opgestaan. Die dissipels kon aan Hom vat; Hy het saam met hulle geëet. Dit was egter steeds sy verwonde liggaam – Thomas kon sy vinger in die wonde steek – maar nou ‘n verheerlikte liggaam. Sy verlossingswerk het Hy met sy liggaam kom doen.

Ons diepste troos lê daarom daarin dat Christus kom identifiseer het met ons gebrokenheid, ons liggaamlike broosheid, dat ons maar stof is wat weggewaai kan word deur die wind. Christus, as gestuurde van God, het volledig in ons brose liggaamlikheid in gedaal – juis om ons in ons brose liggaamlikheid te kom ontmoet. En ons diepste hoop lê daarin dat Christus met ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het; sy liggaam was ook verrassend nuut, heel, nie meer onderworpe aan pyn en ellende nie. Ons troos en hoop lê daarin dat ons liggame, wat nou nog aan verganklikheid onderwerp is, eendag nuut en heelgemaak sal wees, verheerlik, sonder pyn.

Met ander woorde: Christus het nie net ons siele, of ons gees kom verlos nie, nee Hy het ons hele menswees, ons liggaamlikheid, kom verlos, kom nuut maak, kom heelmaak. Hy het ons nie van ons liggaamlikheid kom verlos nie, maar ons binne ons liggaamlikheid verlos.

III

Dis daarom dat Paulus vir die Korintiërs in meer as een hoofstuk oor hulle liggame kon skryf. Ons liggame is belangrik, wou hy onderstreep. Wat ons eet; hoe ons oefen; ons man of vrou wees; ons seksualiteit; wat ons alles met ons liggame aanvang; hoe ons, ten spyte van ons liggaamlike verskille, moet saamwees en eenwees in die gemeente as liggaam van Christus; hoe ons God met ons liggame aanbid; die nagmaal as viering van die Christus se gebreekte en verheerlikte liggaam wat ons deel van ons eie liggame maak deur dit te eet en te drink – dis alles uiters belangrik, skryf Paulus. Hy som dit so op: “Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.” (vers 19-20).

IV

Maar hoe pas ons dit nou prakties toe? Wat maak ons daarmee as ons verstaan dat ons liggaamlike bestaan, hier op aarde, vir God belangrik is? Kortliks net drie dinge.

  • Ons liggame, ons liggaamlikheid, ons seksualiteit, ons hele menswees is ‘n geskenk uit God se hand. Daarin sien jy die beeld van God se goedheid en guns. Daarom kan ons maar die lewe met ons liggame geniet, liggaamlik beleef en uitleef. Ons kan vrede maak met ons liggaamlikheid, ons selfs daaraan verwonder. Ons kan dit byvoorbeeld geniet om lekker en gesonde kos te eet; ons kan vrolik glasies klink op die lewe; ons kan dit geniet om liggaamlike oefeninge te doen, musiek of kuns met ons liggame te maak of te ervaar; ons kan ontspanning en liggaamlike rus geniet; ons kan mooi liggame bewonder – ons kan ons aan ‘n baba-lyfie wat groei verwonder, of aan die soepelheid en krag van ‘n jeugdige liggaam, of ons kan die mooi van ‘n liggaam wat oud en deursigtig raak bewonder en respekteer. Bewustelik, met al ons liggaamlike sintuie, ons sien, ons hoor, ons tas, ons proe en ons ruik, kan ons die skoonheid en gawes van die liggaamlike, aardse lewe geniet.

 

  • Maar, ons is ook liggaamlik broos, swak en verganklik. Ons liggame word siek, ons ervaar liggaamlike pyn, ons liggame laat ons in die steek, ons sintuie raak dof, ons verloor ons liggaam se funksies, ons kan verwond raak, beseer of Baie se liggame is uitgelewer aan die koue, aan honger en dors. In hierdie dae waarin ons leef is ons so intens bewus daarvan dat ons liggame baie kwesbaar is; ons het uiteindelik nie regtig beheer oor wat met ons liggame gebeur nie. Ons troos lê egter daarin dat God wéét en in gedagte hou dat ons maar mense is, swakke stoflike wesens. En dat sy geliefde Seun juis daarom in ons gebrokenheid in gedaal het, daarin één met ons kom word het … en uiteindelik hierdie gebrokenheid kom oorwin het, met ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het. Daarom mag en moet ons tot die Christus wat liggaamlik verwond, maar ook verheerlik is, bid en pleit vir ons liggaamlike gesondheid.

 

  • Ons het egter self ook ‘n verantwoordelikheid teenoor ons liggame. Wat ons met ons en ander se liggame maak, maak saak – hoe ons dit oppas en hoe ons veral nie toelaat dat sondige praktyke uiteindelik ons liggame afbreek nie. Die lys losbandighede waarna Paulus in dié gedeelte wys, was alles sonde deur of teen die menslike liggaam – asof mense volledig baas is oor hul liggame en enigiets met hul eie of ander se liggame mag aanvang. Nee, pas julle liggame op, waarsku hy. Respekteer julle liggame. Respekteer ander se liggame. Versorg julle eie en ander se liggame. Beskerm dit. Leef met die wete dat ook ons liggame aan God behoort; dis die tempel waarin die Gees van God woon … daarom moet ons God deur ons liggame verheerlik.

 

Ons kan nie anders as om God met ons hele liggaam, siel en gees te aanbid en lief te hê nie. En om God se teenwoordigheid in die liggame van ander te sien en te respekteer nie.