Jesus het vir sy dissipels gesê (Matt. 7:13 – 14): “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” Hierdie uitspraak van Jesus het waarskynlik aanleiding gegee tot ‘n skildery wat genoem is: Die smal en die breë weg. (Vergroot om detail te sien). Afdrukke van hierdie skildery het al in baie huise oor die wêreld heen gehang.
Links op die skildery is ‘n groot poort waarop “Welkom” staan. Daardeur loop ‘n breë weg. Langs hierdie weg is ‘n plek waar drankies geniet word, ‘n danssaal en ‘n dobbelhuis. Dit eindig waar die vlamme van die hel woed. By die nou poort regs op die skildery wag iemand soos ‘n dominee die mense in. Hierdie pad loop langs ‘n kerk en ‘n kruis verby, op teen ‘n aantal trappe en verby ‘n kerklike versorgingsoord. Die baie steil weg loop dan uiteindelik uit op die goue stad: die hemel of die Nuwe Jerusalem.
Volgens enepastoor Kroes was Jesus se bedoeling met hierdie uitspraak nie dìt wat die skildery wil uitbeeld nie. Jesus praat hier nie met mense in ‘n danssaal of in dobbelplekke nie. Hy praat met sy dissipels. Hulle het die Ou Testament goed geken. Hulle was godsdienstig. Tydens hierdie onderrig het Jesus gesê: “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie” (Matt. 6:1). Hierdie mense het ook armes gehelp: “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie” (Matt. 6:2). Dit was mense wat gebid het: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie” (Matt. 6:7). Dit was hierdie mense vir wie Jesus gesê het: “Gaan deur die nou poort in.” Vir hulle het Hy gewaarsku: “Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed.”
Toe Jesus met sy dissipels oor die breë weg gepraat het, was dit oor die weg wat gevolg word deur die onderhouding van die wet om daardeur God se guns te probeer wen. Godsdienstige rituele, selfs soos gebed en kerkbesoek, kan bloot uit gewoonte gedoen word, sonder dat daar enige persoonlike verhouding met God is. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het nougeset die wet nagekom, en tog sê Jesus vir hulle: “Ellende wag vir julle” (Matt. 23:23 – 29).
Jesus het verduidelik wat die nou poort is. Hy het gesê: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word” (Joh. 10:9). Jesus is die weg: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). Ons kan nie deur enige eie verdienste deur die nou poort gaan nie, slegs deur die geloof dat Jesus vir ons sonde gesterf en opgestaan het. Hierdie geloof beteken dat ons ‘eie ek’ gesterf het: As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe (Rom. 6:8). Die geloof beteken dat ook ons dan in ‘n nuwe lewe opstaan. Ons is dus saam met Hom begrawe … sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel (Rom.6:4). Om die weg van die nou poort te volg, verg baie. Jesus vra nie net ons tyd en opofferings nie, maar ons harte, ons lewe: … Hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind (Matt. 10:39). Ons behoort nie meer aan onsself nie, want ons is duur gekoop deur die bloed van Jesus (1 Kor. 6:20). Ons doen goeie werke, nie om gered te word nie, maar omdat ons gered is.
Daar is steil hoogtes op die smal weg, maar mense op hierdie weg weet dat hulle Verlosser altyd saam met hulle is. Hulle geniet die vreugdes van die lewe, want hulle weet dat hulle Skepper, die Skepper van die lewe, opgestaan het. Hulle is bly oor elke dag: Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees (Ps. 118:24).
Dankie God, dat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om deur die nou poort te gaan. Amen.