Eerste Sondag ná die epifanie
Lees Matteus 3:13-17
Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom (v. 16).
Die Doper weet wanneer hy met ’n Meerdere te doen kry, en daarom wil hy nie te veel met Hom waag nie. Nie met die dopery nie, maar beslis ook nie met ongehoorsaamheid nie.
Daarom doop hy Jesus toe wel nadat hy moes hoor dat hy God se wil op dié manier sal gehoorsaam. Ongehoorsaamheid is ’n veel groter risiko as ’n onwaardige gevoel . . .
Toe gaan die hemel bokant hulle oop. En dalk het dit tóé eers vir Johannes duidelik geword presies wat hy gedoen het deur Jesus te doop. En aan Wié hy dit gedoen het.
Ja, Johannes het van die begin af geweet Jesus is sy meerdere, maar die oop hemel en die verskyning van die Gees het die onberekenbare betekenis van sy ontmoeting met Hom bevestig.
Toe boonop daardie stem . . .
“Dit is my geliefde Seun,” sê die stem uit die oop hemel. “Oor Hom verheug Ek My” (v. 17).
Dit maak ons almal bly: die Seun se doop, die Vader se stem, die Gees se verskyning. En, dalk die allermeeste vir die meeste van ons, die hemel wat oopgaan.
Hoe ’n groot blydskap is dít nie – ’n oop hemel!
Volgens die destydse opvattings, wat tot vandag toe ewe genadeloos in sommige kringe gehandhaaf word, is die hemel geslote. Bot-toe.
Om daar in te kom, moet jy ’n sleutel van êrens optower. En die enigste plek waar jy dit kan kry – só lui die hooplose opdrag – is om jou hand in eie boesem te steek. Om in jou eie hart te gaan soek na iets wat die hemelse slot kan oopsluit.
Maar enigeen met slegs ’n skerfie selfinsig sal weet dit is nie moontlik nie; in ons verraderlike hart is daar niks te vinde wat die hemel kan oopsluit nie. Nee, daar moet iets anders wees, asseblief, Here . . .
Daar ís, sê hierdie verhaal en alle ander evangelieverhale.
Dit is wel nie “iets anders” wat die hemel oopmaak nie, maar Iemand Anders.
Gans Anders is Hy. Hý gooi sy blyplek se poorte oop, en van daar beduie Hy vol blydskap na sy Seun. En só stuur Hy sy Gees om dit alles te bevestig.
Sodat al sy ander seuns en dogters moeiteloos kan opkyk en weet waar hulle hulp in hierdie dae vandaan kom. En nou reeds ’n kykie kan kry van hoe hulle uiteindelike bestemming lyk.
Hemelse Vader, u Seun wys my elke dag na u oop hemel.
Dit maak my bly.
Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.