Die roepstem tot bekering

Roeping, wedergeboorte, bekering, geloof, uitverkiesing, doop met die Gees … wat beteken die woorde en hoe sit dit alles in mekaar? Mens sou die begrippe saam ook die heilsorde of God se pad van verlossing kon noem. Die verlossingsgebeure is nie iets wat ons voluit in menslike taal kan verduidelik nie; ons kan ons maar net aan die onuitspreeklike gawe van God se verlossing in en deur Jesus Christus verwonder (2 Korintiërs 9:15)! Dis ʼn werk van die Drie-enige God waarin verskillende aspekte wel onderskei kan word, maar nooit van mekaar geskei kan word soos wat treinwaens van mekaar ontkoppel kan word nie.

Roeping

ʼn Bespreking van die heilsorde begin gewoonlik met God se roep tot bekering. Die Here het die mens na sy beeld geskape, heilig en regverdig, om in sy Naam die aarde te bewoon, te bewerk en te bewaar (Genesis 2:15) en te heers oor die diere, voëls en visse (Genesis 1:26-28). Deur ongehoorsaamheid aan God het die hele menslike geslag egter die vryheid verloor wat van die begin af vir elke mens bedoel was. Al dra hulle deur God se genade wel nog iets van sy beeld, erken hulle Hom nie werklik as die één ware God nie (Romeine 1:18-23). Al is daar soms ʼn verlange na Hom, is die mens selfs in sy soeke na God eintlik op vlug vir Hom. As die Here dus nie van sý kant na die mens uitgereik het nie, sou niemand ooit gered word nie. So sien ons dan die Here in sy groot genade al roepende na die vlugtende paradysmens kom: “Waar is jy?” (Genesis 3:9).

Met hierdie vraag aan Adam en Eva wil die Here die mens tot diepe besef van eie verlorenheid bring, en terselfdertyd tot bekering roep. Want kyk hoe verontskuldig die mensepaar hulleself. Adam beskuldig Eva, Eva die slang (Genesis 3:12-13). Die Here se woord aan die slang, dat die nageslag van die vrou die bose sal oorwin (Genesis 3:15), is die eerste belofte van die koms van ’n Verlosser. Hierdie belofte word soveel duideliker as die Here later vir Abraham uit ʼn heidense land roep, met hom ʼn verbond sluit, en hom belowe dat uit sy nageslag iemand sal kom wat al die nasies sal seën (Genesis 12:3; Galasiërs 3:8-9). Op God se bestemde tyd is Jesus gebore om ons los te koop van die oordeel van die wet, wat ons tog nooit self sou kon onderhou nie (Galasiërs 4:4-5). Daarom is die Bybel vol van God se dringende roep na die dorstende mens om die lewenswater by Hom alleen te kom soek. In Jesaja 55 roep die Here: “Kom, almal …” Selfs op die laaste Bybelbladsy hoor ons die Heilige Gees deur die bruidskerk na dorstende mense roep om die lewenswater te kom drink – verniet. (Openbaring 22:17).

Elke ware prediker se boodskap bevat ʼn roep van God: Kom!

Wedergeboorte

Wanneer die roepstem tot bekering, wat “van buite” kom, ʼn innerlike roepstem word, het die weder-geboorte, die geboorte “van bo”, plaasgevind. Dit is iets wat God deur sy Gees in ons doen. Daarsonder sal niemand die koninkryk van God kan binnegaan nie. Soos Jesus een nag vir ʼn soekende Joodse owerste gesê het: ʼn Mens moenie net uit water gebore word nie (waarmee Jesus waarskynlik die watergeboorte uit ʼn moeder bedoel het), maar ook uit die Gees (Johannes 3: 3-7).

Sommige Christengroepe meen die wedergeboorte vind by jou doop plaas, hetsy as kindjie of veel later. Maar dit kan enige tyd gebeur: voor, in, of ná die doop. Johannes die Doper was van sy geboorte af wedergebore (Lukas 1:15), terwyl die berouvolle kruisrower sonder die doop gesterf het (Lukas 23:42-43).

Bekering

Bekering kan so onmiddellik op wedergeboorte volg, dat dit jou aan één gebeurtenis laat dink. Die bekering kan egter ook later volg. Die belangrikste is egter dat daar ’n duidelike ommekeer in iemand se lewe kom.

In sy Pinkstertoespraak gebruik Petrus twee woorde vir sy kragtige oproep tot bekering: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle ...” (Handelinge 3:19, 1953-vertaling). Die eerste woord dui veral op ʼn verandering van hart, denke, gesindheid, en berou oor sonde. Die tweede woord vra dat wat innerlik verander het, na buite sigbaar sal word. As jy bekeerd is en reeds as kindjie gedoop is omdat een of albei ouers gelowiges is, moet jy weet die Drie-enige God het reeds in jou doop vir jou gesê: “Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne.” Met jou belydenis-aflegging het jy voor God en sy gemeente gesê: “Ja, Here, hier is ek; ek behoort aan U alleen.

Uitverkiesing

Jy hoor soms: wat sal bekering help as ek nie uitverkies is nie? Kom ons sê dadelik vir mekaar: daar is nie ʼn ware bekering sonder uitverkiesing moontlik nie. So duidelik sê Jesus: elkeen wat die Vader Hom gee (uitverkiesing), sal na Hom toe kom (bekering). En wie na Hom toe kom, sal Hy nooit verstoot nie (Johannes 6:37; vgl. 10:28-29). Iemand het gesê van buite gesien staan daar bo die poort van die koninkryk geskryf: Bekeer jou. En wie ingaan, lees aan die binnekant: Uitverkies!

Christene mag dus in alle nederigheid oor hulle uitverkiesing jubel. Ons mag egter nooit, met respek gesê, die uitverkiesing as ʼn soort gemakstoel sien om rustig agteroor te sit nie. God die Vader het ons van ewigheid af in Christus Jesus uitverkies om  gehoorsaam, heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4; 1 Petrus 1:2), steeds meer sy beeld te vertoon (Romeine 8:29), en sy wonderdade te verkondig (1 Petrus 2:9).

Geloof

Die bekende Bybelvers (Johannes 3:16) beklemtoon die onmisbaarheid van geloof as Jesus aan die soekende Nikodemus sê God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. In sy hoofstuk oor geloofshelde sê die Hebreërskrywer God sal nooit sonder geloof met ons tevrede wees nie (Hebreërs 11:6).

Op die vraag wat ʼn ware geloof is, antwoord die Heidelbergse Kategismus treffend: dis ʼn gewisse kennis waardeur ek alles vir waar hou wat God ons in sy Woord geopenbaar het, asook ʼn vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk dat nie alleen aan ander nie, maar ook aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid deur God geskenk is, uit loutere genade, alleen ter wille van die verdienste van Christus (antw. 21)

Regverdigmaking

Op dieselfde oomblik waarop jy Jesus Christus gelowig as jou persoonlike Verlosser aanvaar, verklaar God jou regverdig, asof jy self nooit gesondig het nie. Want let daarop, Hy sien jou nou aan as iemand wat met Jesus se geregtigheid beklee is. Hý is nou jou vryspraak voor God (1 Korintiërs 1:30). Jy kan daar vas op staan! Met diep ontsag, maar terselfdertyd met innige dankbaarheid, mag jy jubel:

“Ek wéét aan wie’k my toevertrou het,

al wissel dan ook dag en nag,

ek ken die Rots op wie’k gebou het,

van wie ek my heil verwag.”

Doop (vervulling) met die Heilige Gees

Soos bekering uit wedergeboorte volg, volg die doop of vervulling met die Heilige Gees uit regverdigmaking. Wie deur die geloof in Jesus geregverdig is, is reeds met die Heilige Gees gedoop, dit wil sê, met Hom vervul. Op Pinksterdag is die Gees vir altyd op die gemeente, God se wêreldwye kerk, uitgestort (Handelinge 2). So word elkeen wat deur geloof geregverdig is, nou met die één Gees van die Vader en die Seun gedoop (Handelinge 1:5) of vervul (2:4).

Op hulle geloofspad mag Christene meer as een   keer ʼn nuwe ervaring van die vervulling met die Gees ontvang. Dit is egter nie ʼn tweede vervulling, ook bekend as ʼn “second blessing” nie, asof die eerste onvoldoende was nie, maar eerder ʼn voller besef van wat die éérste vervulling beteken. As Paulus die Efesiërs vermaan om met die Gees vervul te word (4:18), bedoel hy daarmee: “Leef julle Christelike lewe meer volledig uit in die krag van die Gees in julle”, soos uit 4:15-21 blyk.

Heiligmaking

Doop of vervulling met die Heilige Gees is reeds deel van heiligmaking. Let ook daarop dat heiligmaking en regverdigmaking albei innig met geloof verbind is. Waar regverdigmaking die wegneem van skuld aandui, dui die heiligmaking op die smet of vuilheid van die sonde. En waar regverdigmaking onmiddellik vir altyd deur God afgehandel word, word heiligmaking eers by jou lewens-einde voltooi.

Die Bybel gebruik verskillende woorde vir heiligmaking. Sommige beklemtoon die afkeer van wat verkeerd is, andere weer die toekeer tot Hom wat jou uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Sonder hierdie heiliging van ons lewens sal niemand God sien nie (Hebreërs 12:14; Matteus 5:8).

Ons heiligmaking moet toenemend sigbaar word deur gehoorsaamheid aan die Here se liefdesgebooie, soos deur Jesus self in Matteus 22:34-40 verduidelik. Dit beteken die daaglikse, gelowige opneem van ons kruis agter Jesus aan (Matteus 16: 24-25). Dit wil sê, die prysgee van onsself, van ons ou natuur met al sy selfsug, sodat ons nuwe natuur, die beeld van Jesus, ja Jesus self wat deur sy Gees in ons woon, steeds duideliker in ons lewens gesien kan word. Kyk hoe ernstig waarsku die apostel Paulus teen sondes waardeur ons die inwonende Gees van God kan bedroef (Efesiërs 4:25-30, 5:1-5), en dit terwyl Hý juis vir ons verseël het, ja, bewaar, vir die dag van Jesus se wederkoms (vs. 30).

Ons heiligmaking beteken ook dat ons as herstelde beeld van God die aarde in sy Naam oordeelkundig sal regeer, bewerk en teen vernieling sal help beskerm (Genesis 1:26, 2:15; Openbaring 11:18).

Volharding

Omdat ons daagliks teen versoekinge en sondes moet stry, moet ons heiliging met volharding gepaard gaan. Ja, ook as ons oor ons geloof vervolg sou word, soos met baie Christene deur die eeue heen gebeur het en vandag nog gebeur. Jesus sê: wie volhard tot die einde toe, sal gered word (Matteus 10:22, 24:13). Maar onthou, ons is nie eensaam in hierdie stryd teen sonde en vervolging nie, al mag dit soms so voel. Die Drie-enige God hou sy gelowiges vas, sodat hulle nie verlore gaan nie (Johannes 10:28-30; Efesiërs 4:30). So roep die Hebreërbrief dan ook alle gelowiges op om hulle oë op Jesus gevestig te hou, die Begin en Voleinder van ons geloof (Hebreërs 12: 1-2).

Die Here voorsien wonderlike genademiddele om ons te help om die pad van geloof enduit, oorwinnend te loop.

  • Kerk en kerkgang

Om deel van die gemeenskap van gelowiges, deel van die één die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12:13) te wees, is onontbeerlik vir ons geloofslewe. Sonder om aktief aan die kerk te behoort, gereeld saam met ander na die Woord te luister en die Here te aanbid (in die erediens of kleingroep), kan ons nie groei of volhard in die geloof nie (Hebreërs 10:25). Wie God as Vader het, sê Johannes Calvyn, het die kerk as moeder.

  • Sakramente

Aan sy Nuwe-Testamentiese volk het die Here twee sakramente, ook verbondstekens of -seëls genoem, tot geloofsversterking gegee: doop en nagmaal. Albei hoort by die erediens en verseker ons van Christus se volkome verlossing. Die doop is die sakrament van die inlywing in die kerk, die liggaam van Christus, en word dus net éénmaal aan iemand bedien, terwyl die nagmaal herhaaldelik bedien word as feestelike, voedende “padkos” op ons geloofsreis, totdat die Here kom  (1 Korintiërs 11:26).

  • Die Skrif

Die Skrif is aan ons gegee as onmisbare lig op ons pad, wat alle donkerte verlig (Psalm 119:105; 2 Petrus 1:19). God wil hê die woord van Christus moet ryklik in ons woon (Kolossense 3:16). Gebruik gerus ook betroubare Christelike leesstof om die rykdom van die Woord te help ontvou.

  • Gebed

Ons word opgeroep om te volhard in gebed (Lukas 18:1; Romeine 12:12; Kolossense 4:2; 1 Tes. 5:17). Dit kan verskillende vorms aanneem, soos aanbidding en lof, smeking, voorbidding, danksegging vir verskillende individue, groepe mense en sake (Efesiërs 6:18-19; 1 Timoteus 2:1-2). Die liedere wat ons saamsing is ook aanbidding (Efesiërs 5:19, Kolossense 3:16). Volhardende gebed beteken: leef in die gees van gebed.

  • Getuies wees

Om van God se reddende genade deur Jesus Christus te getuig, is ʼn onmisbare deel van ons Christelike lewe, soos Paulus aan die gemeente in Rome verduidelik (Romeine 10:9-10).

Ons volhardende voortgang op die nuwe lewenspad wat uit die onskatbare kruisoffer van Jesus voortkom (Hebreërs 10:19-20), sal duidelik laat blyk dat God ons uit genade alleen deur sy Gees geroep en in Jesus Christus uitverkies het om vir altyd aan Hom te behoort.

Verheerliking

Verheerliking is ʼn integrale deel van God se verlossingspad vir ons (Romeine 8:29-30). Dit skemer van die begin af deur en groei na mate die beeld van Christus deur die werk van die Heilige Gees uit ons lewens skyn (2 Korintiërs 3:18!). Hierdie verheerlikte beeld van Christus is egter die beeld van Hom as gekruisigde (Johannes 12:31). Dit vra dus van ons die gewillige dra van die kruis van selfverloëning (Matteus 16:24-26). Die kruis dra sluit ook beproewings in wat oor ons mag kom. Ons mag later deur ouderdom en siekte dalk afgetakel wees, maar nogtans kan iets van ’n hemelse glans uit ons lewe straal, want dit kom voort uit ons daaglikse wandel met God. Ons bietjie tydelike aardse swaarkry, sê die apostel Paulus, loop dan ook vir ons uit op ewige, onoortreflike heerlikheid (2 Korintiërs 4:17).

Die heilsweg is één onverdiende goddelike gawe van ewige verlossing vir elkeen wat die Here liefhet. Wie sal Hom dan nie met diep ontsag en verwondering dank nie?

“Genade onbeskryflik groot …”

Prof Jannie du Preez

Share this post