Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Persverklaring (verkort): Net voor die droogte my breek deur Anoeschka von Meck, uitgewer: CLF (Christelike Lektuurfonds). Die omvang van die rampspoedige en wydverspreide droogte in Suid-Afrika oorskry byverre dit wat in die media gerapporteer word. Agter die statistiek van ontmoedigende reënvalsyfers, opgedroogde boorgate, leë damme en veevrektes, staan ‘n boer en sy gesin – mense wat ‘n emosionele band met die grond het. Die hardnekkige droogte het groot getalle van hierdie boere op hulle knieë gedwing – verarm en getraumatiseerd. Dr. Anoeschka von Meck het 12,300 kilometer in drie maande afgelê om sestien uiteenlopende reënvalstreke en sowat 53 boere te besoek. Niks kon haar voorberei op dit wat op haar gewag het nie. Vermaerde en uitgedunde kuddes, afhanklik van droogtehulpvoer, en op baie plase ook broodgebrek. Tog moes Anoeschka telkens hoor hoe boere getuig dat die droogte hulle verander het, beter mense gemaak het en veral tot ‘n dieper verhouding met God gelei het. “Ons het afgesien van ons eie planne; ons verwagtinge en hoop is net op God gerig.” is die boodskap wat Anoeschka telkens gehoor.

Water is iets besonders. Geen mens, dier of plant kan daarsonder oorleef nie. ‘n Psalmdigter sing aangrypend oor sy verlange na God: Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God (Ps. 42:1,2).

Vir gelowiges is die doop ’n teken van die afwassing van hulle sonde. Ons sonde is so volledig afgewas asof ons self saam met Christus gesterwe het: Ons kan sê dat ons by die doop saam met Hom gesterf het en saam begrawe is (Rom. 6:4).

Om regtig dors te wees is verskriklik. Daarom is water die minste, maar ook by tye die noodsaaklikste, wat jy vir jou medemens kan gee. Jesus het gesê: “Wie aan een van hierdie geringstes net ‘n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle” (Matt. 10:42).

Jesus vergelyk die gawes wat die Heilige Gees vir ons gee met water wat lewe gee: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh. 7:37-39).

Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy die verskriklikste pyn verduur aan sy hande en voete, ook aan sy kop met die doringkroon. Daarvan het Hy niks gesê nie, maar Hy het gesê: “Ek is dors” (Joh. 19:28). Hy smag na water terwyl Hy self die oseane geskep het. Dit is Hy wat vir die see gesê het: “Hou op! Bedaar!” (Mark 4:39), en dit het gebeur. En toe aan die kruis – die verskriklike dors! Maar Jesus het so gekies, want Hy het vir óns gekies. Hy het gekies om vir ons sonde te betaal en die dors van die hel te verduur, in ons plek. Jesus self het vertel van die ryk man wat vanuit die doderyk geroep het: “Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur” (Luk. 16:24). Dit ís verskriklik. Maar vir God se kinders is daar hoop: Hy (God) sal al die trane van hulle oë afdroog … leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. … Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet (Openb. 21:4, 6).

Jesus moes verskriklike dors ervaar sodat sy kinders deel kan hê aan die water van die lewe wat Hy vir ons gee, en Hy gee dit vir ons verniet, want Hy het die prys daarvoor betaal!

 

Ons hemelse Vader, ons bid en pleit dat U reën sal gee waar dit so droog is. Amen

 

Gratis e-posboodskappe maandeliks vanaf gertberning@gmail.com en WhatsApp. Ook weekliks op die App van CLF (Christelike Lektuurfonds). Besoek https://sites.google.com/site/eposbediening .    Gert Berning