Een oggend in Januarie 2007 het ʼn man by ʼn metro-stasie in Washington DC omtrent 45 minute lank op sy viool gespeel. Hy het ses stukke van Bach gespeel. Dit was spitstyd en duisende mense het deur die stasie beweeg. Net sewe mense het gaan stilstaan om te luister. Die een wat die meeste aandag gegee het, was ʼn 3-jarige seuntjie. Hy het gaan stilstaan om na die violis te kyk, maar die ma het hom vorentoe gestoot. Die kind het aangeloop terwyl hy die hele tyd sy kop terugdraai. Dieselfde het gebeur met ʼn paar ander kinders.  Toe hy ophou met speel het nie eers een dit gemerk nie. Nie een het hom toegejuig nie. Hy het ʼn paar munte uit ʼn hoed geneem en geloop. Die violis was Joshua Bell, een van die top musici in die wêreld. Net een persoon het hom herken. Hy het een van die ingewikkeldste stukke wat ooit geskryf is gespeel, op ʼn viool met ʼn waarde van 3.5 miljoen dollar (omtrent R20 miljoen). Twee dae vantevore is al die sitplekke vir ʼn uitvoering deur Bell in ʼn teater in Boston verkoop. Die sitplekke het elk gemiddeld R700 gekos.

Omtrent 2000 jaar gelede het die grootste gebeurtenis ooit plaasgevind. Jesus was aan ’n kruis vasgespyker om vir ons sonde te betaal en ons so met God te versoen: Luk 23:33- 48 Hulle het Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.  Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”…  raadslede het Hom uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”  … Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? … hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”  Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur;  die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas. Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.” Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan.

In Jerusalem, ’n entjie daarvan, het mense hulle gewone gang gegaan, onbewus van die gebeurtenis wat die grootste invloed op die geskiedenis van die mens sou hê. Ander het daar naby verby geloop sonder om te weet dat die “skouspel”  oor elkeen van hulle gegaan het.

Miskien moet ons gaan stilstaan en soos kinders ons opnuut verwonder aan die genade van God wat oral rondom ons aangebied word, vir enigeen om te ontvang. Hierdie genade is gratis maar nie goedkoop nie. Dit het die lewe van Jesus gekos. Ons weet nie wat ons mis as ons haastig by die kruis verbyloop nie. Dit is aan die kruis wat Jesus gesê het:  “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dit is hierdie Jesus wat by magte is om eendag vir elkeen wat geluister en geglo het, te sê: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

 

Here Jesus, help ons dat ons nie by U sal verbygaan, sonder om te besef dat U die Seun van God is nie, ons Verlosser.  Amen

 

Free email messages from gerberning@gmail.com and WhatsApp. Also weekly from the App of CLF (Christian Literature Fund. Visit https://sites.google.com/site/eposbediening/

 

Gert Berning