Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

I

Jesus het sy dissipels opdrag gegee om Hom op die berg te ontmoet, dieselfde berg waar Hy dikwels opgetree het, wonders gedoen, gepreek en verheerlik is. Die berg was geleë binne die heidense gebied van Galilea. Daar wou Hy voor sy hemelvaart van hulle afskeid neem. Voordat die wolk Hom in mistigheid sou omvou en wegneem, gaan staan Hy dan vir ‘n moment in helder lig, sodat hulle sy heerlikheid as opgestane Christus kan sien, en in dié lig hulleself as sy volgelinge, sy kerk, sy gestuurdes kan ontdek.

Maar eers moet ons onthou wie die dissipels was wat hier op die berg rondom Christus staan. Hulle was ‘n twyfelende, bang en onseker groepie mense, verward oor alles wat aan die gebeur is, bekommerd oor wat die toekoms inhou. Hulle was diep bewus van hulle eie swakheid en skuld, hulle kleingeloof. Net elf van hulle het oorgebly, en onlangs nog het hulle almal Hom verloën.

II

En dis vir hulle, brose mense, mense soos ons, wat Jesus dan voor sy hemelvaart drie groot afskeidswoorde nalaat:

  • Hy begin om hulle aan sy almag te herinner. Onthou, dis Ek wat die dood oorwin het, en die sleutel tot die lewe ontvang het, wat hier voor julle staan. Aan Mý behoort alle mag in hemel en op aarde. Wat ‘n aanspraak!
  • Dan sê Jesus ‘n tweede ding – julle is nou my gestuurdes, my kerk, wat hierdie aanspraak dat alle mag aan My behoort aan alle mense moet gaan verkondig. Julle is my dissipels, my volgelinge. En dissipel-wees beteken outomaties dissipels maak, deur woord en daad. Almal moet nou hoor en sien dat alle mag aan My behoort. Wat ‘n opdrag!
  • En dan sê Jesus vir hierdie bang en onseker groepie, wat hierdie geweldige opdrag gekry het: Moenie bang wees nie, kyk, Ek sal by julle wees, al die dae. Wat ‘n belofte! Wat ‘n troos! Ek self, aan wie alle mag behoort, sal by julle wees, altyd.

Opvallend is die klem hier op al, alles en almal: alle mag, alle mense, al die dae – so asof dié afskeidswoord eintlik alles omvat, alles wat Christus gedoen en geleer het, die allerlaaste aller-woord aan ons die kerk.

III

Tussen die aanspraak van Christus se almag en die belofte van sy alomteenwoordigheid by ons, lê dus die opdrag aan ons as kerk om dissipels te wees en dissipels te maak.

Wat het hierdie opdrag om dissipels te wees en te maak behels? Drie dinge: gaan, doop en leer.

Eerstens gaan: Om te gaan, in gehoorsaamheid te gaan waarheen die Here ons ook al stuur: gaan na almal, gaan uit, oor die grense. Dis onmoontlik om kerk te wees as ons nie tegelyk ook uitgaan as gestuurdes nie. Dis onmoontlik om dissipels te wees as ons net in onsself gekeer is, eksklusief kerk probeer wees.

Tweedens gaan dit om die doop. Daaroor bietjie later meer…

En derdens: leer, onderrig mekaar in die Woord, verkondig dit … herinner mekaar en ander aan alles wat Jesus geleer en gedoen het, vorm mekaar se geloof, veral die van kinders.

IV

Maar reg in die middel van hierdie geweldig ryke afskeidswoord staan: die doop. Bedien die doop. Wees en maak dissipels deur … die doop. Dis nie toevallig dat in hierdie noukeurig gestruktureerde afskeidswoord, die groot opdrag, die finale onthulling van wie Christus is en wie ons as die kerk is, die doop staan nie. Want dit sit in die hart van alles. Dis daarom so jammer dat ons dikwels, dalk bietjie uit verleentheid omdat almal nie meer daaroor saamstem nie, die doop eintlik maar eenkant toe skuif, asof dit nie regtig ‘n wesenlike saak in kerk-wees, in dissipel-wees is nie.

Aan die kerk gee Jesus die opdrag: “doop hulle in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees.” Kom ons onderstreep ‘n paar fasette van hierdie geweldige opdrag:

  • Aan die kerk word hier nie net die opdrag nie, maar ook die gesag gegee om mense met die doop te bedien. Die kerk doen dit in die Naam van God, op gesag van God Drie-enig … daarom is dit in werklikheid iets wat God self doen, deur die kerk. Daarom word die doop ‘n sakrament genoem, ‘n handeling van God self. Dis God wat ons doop, Hý neem daarin die inisiatief.
  • Wat dan by die doop gebeur is dat God sy Naam aan ons naam kom koppel, ons by die naam roep en ons tot sýne verklaar. “Ek het jou by jou naam geroep – aan My behoort jy” (Jesaja 43:1).
  • Die spesifieke Naam waarmee God Hom in die doop aan ons kom verbind, is die Naam van die Drie-eenheid: “in die Naam van die Vader, en van die Seun en van die Heilige Gees” word ons gedoop. Daarmee word alles wat die Vader doen, sy liefde en genade, sy voorsiening; en alles wat die Seun doen, sy verlossingswerk deur die kruis en opstanding; en alles wat die Gees doen om ons krag en lewe te gee, te troos, te lei en nuut te maak – dit word alles deur die doop aan ons toegesê, oor ons naam uitgeroep, aan ons as belofte geskenk – uit die hand van die Drie-enige God self.
  • Die doop is ‘n genadehandeling van God, Hy skenk dit aan ons uit genade alleen. Dis nie iets wat ons kan verdien nie; dis ook nie iets wat ons kan besluit om te doen as ons eers genoeg kennis en geloof het nie. In hierdie gedeelte gaan die doop die “leer hulle” vooraf. Die gehoorsame lewe volg op die doop; dit is ‘n gevolg daarvan. Daarom het die kerk oor die eeue heen ook die doop aan kinders bedien, selfs nog voordat hulle kan glo of verstaan of gehoorsaam kan leef.
  • As sigbare teken van die doop word ons met water gedoop. Water is simbool van die afwas van sonde, maar méér nog, lewegewende water is simbool van die oorsprong van lewe, van nuwe lewe. Ons word nuut gemaak by die doop; ons kry ‘n nuwe identiteit – ons word tot kinders van God aangeneem. Natuurlik beteken dit dat ons nou voortaan moet leef as God se kinders, en geleer moet word om ons nuwe identiteit as kinders van God uit te lewe.
  • Die doop is daarom méér as net ‘n teken, dis ook ‘n seël, iets word daarmee verseël. Op ‘n misterieuse manier gebeur daar iets geweldig in die doop, iets wat bokant ons verstand uitgaan. Dis immers die Drie-enige God self wat Hom deur die doop plegtig aan ons kom verbind.

V

Daarom sit daar so ‘n diepe troos daarin dat ons en ons kinders gedoop is. In tye van bang-wees, in onseker tye wanneer die twyfel die oorhand oor ons geloof kry, is dit ons troos dat ons gedoop is. Wanneer ons, soos die brose  dissipelkring rondom die opgestane Jesus, ons groot lewensopdrag ontvang – dit   waarvoor ons nie opgewasse is nie – word die belofte dat God Drie-enige in sy almag by ons is, al die dae, aan ons meegegee.

Dit het by ons doop gebeur, dis daar verseël – dít is ons diepste troos.