Dit is soms goed om net vir ’n rukkie in ’n begraafplaas te gaan loop en die hartseer afskeidswoorde te lees wat op die grafstene geskryf staan. Maar ook om te kyk na die geboorte- en sterfdatums. Sommige mense het gesterf toe hulle ouer as 80 jaar was. Maar sommige het gesterf toe hulle nog kleuters was, ander as tieners. By sommige treur die ouers, by ander eggenotes, by ander kinders en kleinkinders. Dan dink jy daaraan dat jou graf (of nis), ook eendag daar sal wees, of dié van jou ouers of van jou lewensmaat of jou kinders. Wanneer dié dag kom weet jy nie.
Wilhelm Busch, ’n predikant, vertel dat hy een aand ’n telefoonoproep vanaf die hospitaal gekry het. ’n Kort rukkie later het Wilhelm by die bed van ʼn sterwende jong man gestaan. ’n Motor wat gegly het in ʼn nat straat het hom getref. Tien ure vroeër was hy nog gesond en nou lê hy sterwend. Die middag het hy miskien nog gelag as iemand met hom oor die dood gepraat het. Maar minute vroeër het die man dringend vir Wilhelm laat kom. Hy wou in vrede sterf, wou weet hoe sy sonde vergewe kan word. Wilhelm wou met hom praat oor God se groot en reddende genade. Maar die man kon niks meer hoor nie. Hy het in ʼn koma gegaan en ‘n rukkie later gesterf.

Verdwaas het Wilhelm nog ’n rukkie by die lyk gestaan. Hy het gewens hy kon die venster oopmaak en hard oor die stad uitroep: “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is (Jes. 55:6). Bekeer julle! Voor dit te laat is! Op jou sterfbed kan jy te swak wees.

Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” (Hebr. 4:7).

Dit kan te laat wees vir die een wat sterf. Maar dit kan ook te laat wees vir dié wat agterbly. Dawid se seun Absalom was vyandig teenoor sy pa en wou sy pa doodmaak. Toe Dawid die nuus kry dat sy geliefde seun dood is, lees ons: Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun” (2 Sam. 18:33). Dit is hartverskeurend dat mense wat veronderstel is om in liefde saam te leef, mekaar soveel hartseer besorg. En dan op ’n dag is die tyd vir versoening vir altyd verby. So baie mense moes al bely dat hulle gebroke verhoudings sou wou herstel maar dat dit toe te lank uitgestel was.
Ons wil gewoonlik die beste vir ons kinders gee. Ons vra hulle uit oor hulle lewe, die skool, hulle maats, ens. Maar die belangrikste vraag word dikwels nie gevra nie, nl. “Ken jy die Here Jesus? Is jy ’n kind van Hom?” As ons nie ons kinders hiermee help nie, of miskien dink dat hulle later self tot geloof sal kom, mag ons dalk die dag beleef wanneer ons moet sê: “Dit is nou te laat, vir altyd te laat!” Jesus het vir ons gesterf en Hy nooi ons om te deel in sy liefde, en die vreugde van versoening te smaak.

Hemelse Vader, help ons dat ons nooit hoef te sê: Dit is te laat nie. Amen

Gert Berning