Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

I

Die Evangelie van Markus lê veral die klem daarop dat Jesus die beloofde Messias is. Die Messiaanse ryk, die vrederyk, waarvan die Ou Testament gelowiges so gedroom het, breek nou aan in die woorde en dade van Jesus van Nasaret, skryf Markus.

In die tyd toe dit swaar gegaan het met Israel, byvoorbeeld in die tyd van Ballingskap, het die profete vir hulle die troosboodskap gebring: hou moed, daar is ‘n nuwe koninkryk aan die kom, ‘n nuwe tyd waarin God die slap hande en wankelende knieë weer gaan sterk maak, wanneer God die oë van blindes en die ore van dowes sal oopmaak, die verlamde soos ‘n wildsbok laat spring en die tong van ‘n stomme laat jubel, ‘n tyd wanneer die uitgedorde woestyn soos ‘n vleiland vol waterstrome sal wees. Hierdie Messiaanse tyd breek nou aan in die optrede van Jesus, in sy  woorde en wonderwerke, verduidelik Markus. Jesus is die vervulling van hierdie profesieë oor die Messias Ryk, God se koninkryk wat aan die deurbreek is.

II

Een so ‘n verhaal wat Markus vertel om dit te illustreer, is die verhaal van Jesus wat die doofstom man se ore en mond geopen het.

Jesus het rondgereis in die streke van Tirus en Sidon, en die Dekapolis – buite die grense van Israel, in heidense gebied. Dat Hy dáár opgetree het, is reeds betekenisvol. In die gedeelte net voor die verhaal van die doofstom man, genees Jesus die dogtertjie van die Siro-Fenisiese vrou – ‘n soort draaipunt in die Jesus-verhaal waar Hy nou doelbewus ook uitreik na die nie-Jode.

Mense bring toe ‘n man na Jesus wat doof was, en gevolglik ook nie kon praat nie. Toe neem Jesus die man eenkant toe, weg van die skare. En daar eenkant, raak Jesus aan die man, laat Hy hom sy teenwoordigheid ervaar. Hy druk sy vingers in sy ore, raak met spoeg aan sy tong. Vir ons vandag nogal vreemde optrede. Toe bid Jesus – dis wat die opkyk na bo en die sug beteken. En toe beveel Jesus: Effata! Gaan oop! Skielik kon die man hoor en het sy tong losgegaan – hy kon normaal praat. ‘n Wonderwerk het gebeur!

Jesus wou eers die skare verhoed om oor die wonder te praat, maar dat hierdie mans skielik normaal kon praat het hulle uitermate verwonderd gelaat, staan hier. Hulle kon daaroor nie stilbly nie. Dis duidelik, hierdie Jesus uit Nasaret het besondere vermoëns, Hy was geen gewone mens nie.

III

Wat leer ons uit dié gedeelte? Dis nogal moeilik om hieroor na te dink, want dit wat hier gebeur is vreemd vir ons moderne mense. Die manier hoe Jesus hier werk laat mens bietjie dink aan wondergenesers – in Markus se tyd was sulke wonderwerkers wat rondgetrek en skouspelagtige goeters gedoen het nogal ‘n algemene verskynsel. So ‘n wonderwerk gaan teen ons moderne logika in, ons kyk bietjie skepties daarna. Vandag gebeur dit eintlik nie meer so nie, dink ons. Maar dit lei ook tot dieper teologiese vrae: gestel nou Jesus kan sulke wonderwerke doen, waarom doen Hy dit dan nie vandag meer nie? Waarom is daar soveel doofstom mense, of ander gestremdes of siekes wat bid en smeek, en tog nie genees word nie?  Hoe moet ons oor die wonderwerke waarvan Markus vertel dink?

  1. Die eerste punt wat Markus maak is dat Jesus inderdaad die krag en mag het om wonderwerke te doen. Hy is immers die gestuurde Messias, wat die werk van sy Vader hier op aarde kom doen. Oor sy vermoë om wonders te doen, daaroor hoef ons nie te twyfel nie. Ook vandag nog gebeur dit. Daarvan getuig sovele mense – genesings wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie. Maar Jesus se wonderwerkende krag sien jy ook in verklaarbare genesings, waar mense deur die mediese wetenskap gehelp word. Christus Jesus kan dit doen … “aan My behoort alle mag”, het Hy immers voor sy hemelvaart verklaar. Hy kan … en dit gebeur steeds. Ons moet dit net leer raaksien.
  2. Maar, en dit blyk ook uit die Markus verhale, Hy doen dit hoe en wanneer Hy wil, hoe Hy ook al goed dink, binne sy soewereine wil. Ons kan dit nie vir Hom voorskryf, Hom daartoe probeer manipuleer nie … al bult ons ook al ons geloofspiere hoe sterk, al bid ons ook hoe kragdadig. Genesing skenk God aan wie Hy wil, wanneer Hy wil. En ja, natuurlik hoor Hy ons opregte smeekgebede, weet Hy wat ons nodig het, is daar by Hom groot ontferming en genade. Dan doen Hy dit nie op grond van ons verdienste of gebedskrag nie, maar nie op grond van sy genade.
  3. Wanneer Jesus wonderbare genesing skenk, doen Hy dit juis nie op skouspelagtige wyse nie. Hy is juis nie daarop uit om sensasie te soek nie. Hy wil ook nie hê die skare moet dit wat hulle sien gebeur gaan uitbasuin nie – netnou dink almal Hy is maar een van die wondergenesers. Nee, Hy is anders as die sg. wonderwerkers van sy tyd. Hier neem Hy byvoorbeeld die man eenkant toe, weg van die skare. En daar eenkant, in ‘n persoonlike ontmoeting, raak Hy die man aan. Dit gaan juis nie om ‘n skouspel nie.
  4. Die wondergenesing wat Jesus doen, is ‘n genadegeskenk, uit sy hart vol omgee. Die man het dit nie verdien nie. Self het Hy nie vooraf geglo nie – trouens, soos in die vorige verhaal was dit waarskynlik ‘n nie-gelowige heiden … Jesus se barmhartigheid en genade strek oor die grense, na alle mense toe.
  5. Maar as ons sê dat Jesus se genade-optrede nie mense se vooraf geloof veronderstel nie – Jesus vereis nie van mense wat Hy gesond maak om eers te glo nie – is dit tog duidelik dat sy optrede geloof by mense tot gevolg het, verwondering oor wie Christus is. Geloof volg op dit wat Christus doen. In ‘n sekere sin is geloof daarom niks anders as verwondering nie, ‘n dankbare reaksie op Christus se genade in ons lewe nie!
  6. Geloof as verwondering beteken dus dat ek juis nie alles verstaan of met menslike logika kan verklaar nie; dat die Drie-eenheid se teenwoordigheid in ons lewe, God se genade-handeling waarmee Hy vir ons sorg, elke dag weer en weer sorg, ‘n misterie bly, iets wat ons nie ontrafel kry nie, maar iets waaraan ons ons kan verwonder. Iets waaroor ons uiteindelik ook nie kan stilbly nie.
  7. Hierdie mistieke verstaan van geloof, die onverklaarbare gebeure waaraan ons ons alleen maar kan verwonder, dit word op ‘n manier mooi uitgedruk in Jesus se bevel “Effata!”, “gaan oop”. ‘n Oopgaan van ook ons oë en ore, ‘n oopgaan van ons harte en ons verstande, sodat ook ons die wonderwerkende teenwoordigheid van God in ons lewe kan raaksien, elke dag kan raaksien hoe Hy sorg, hoe Hy lewe skenk, hoe Hy genees en heelmaak, ook deur ander mense soos dokters en verpleegsters en versorgers en die wetenskap … en ons daarom God self in verwondering daarvoor kan dank.

IV

Markus se verhaal plaas ons elkeen uiteindelik in die skoene van die doofstomme, sodat ook ons Jesus se uitroep kan hoor: “Effata!”, gaan oop vir die genadige teenwoordigheid van God Drie-enig in jou lewe, open jouself vir die misterie van sy grootheid en goedheid elke dag, laat toe dat God jou elke dag uitermate verwonderd laat oor die lewe uit sy Hand. Dis wat geloof ten diepste beteken. Daartoe roep hierdie verhaal ons op.