“Ek weet nog wie hulle is”

Ek het die volgende per e-pos gekry, blykbaar geskryf deur ‘n verpleegster:

Dit was ʼn besige oggend, om en by 08:30, dat ʼn bejaarde man in sy tagtigs gekom het om die steke in sy duim te laat verwyder. Hy het gesê hy was haastig omdat hy ʼn afspraak om 09:00 gehad het. Ek het die nodige lesings geneem en hom aangesê om te gaan sit, wetende dat dit langer as ʼn uur sou duur voordat iemand hom sou kon sien. Ek het gemerk hy kyk op sy horlosie en ek het besluit om sy wond te evalueer omdat ek nie met ʼn ander pasiënt besig was nie. Terwyl ek sy wond versorg het, het ek aan hom gevra of hy ʼn ander doktersafspraak dié oggend gehad het omdat hy so haastig was. Die man het gesê nee, hy wou na die verpleeginrigting gaan om ontbyt saam met sy vrou te nuttig. Ek het na haar gesondheid verneem. Hy het my vertel dat sy al ʼn ruk lank daar was en dat sy aan Alzheimer se siekte ly. Met die gesels vra ek toe of sy ontsteld sou wees indien hy ietwat laat was. Hy het geantwoord dat sy nie meer geweet het wie hy is nie, dat sy al vyf jaar lank hom nie meer herken het nie. Ek was verbaas en het hom gevra, “En u gaan steeds elke môre al weet sy nie wie u is nie?” Glimlaggend het hy my ʼn kloppie op die hand gegee en gesê, “Sy ken my nie, maar ek weet nog wie sy is.” Ek moes die trane terugdwing toe hy gaan; my arm was vol hoendervleis en ek het gedink, “Daardie is die soort liefde wat ek in my lewe wil hê.”

God het in sy genade en liefde ons kom red: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh. 3:16).  Johannes die Doper was besig om mense te doop. Na  Jesus ook gedoop is, het God self bevestig dat Jesus die Seun van God is: Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt. 3:16) God verheug Hom oor Jesus.

Later het Jesus aan die kruis gehang en gesterf in ons plek sodat ons die ewige lewe kan hê. Aan die kruis het iets merkwaardigs gebeur. Jesus het uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark.15:34). God het hierdie geliefde Seun van Hom, die Een oor wie Hy hom verheug, verlaat. God moes ons eintlik gestraf het deur ons te verlaat, eenvoudig van ons te “vergeet”, maar Hy het nie. In plaas daarvan het Jesus hierdie straf op Hom geneem, Hy is deur God verlaat sodat ons nie deur God verlaat sal word nie. God sal sy kinders nooit vergeet nie. Meer nog, deur Jesus is Hy nou ook vol vreugde oor òns: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou (Sef. 3:17).

Daar is so baie mense  met  Alzheimer se siekte. Hulle ken dikwels niemand meer nie, nie hulle eie kinders nie, nie hulle eggenotes nie, nie eers God nie. Dit is pynlik om te besef dat die een wat jy so baie liefhet jou nie meer ken nie. Die wonderlike troos wat ons het is dat God ons, en ook hierdie siek mense, nooit vergeet nie. God sê: Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie (Jes. 49:15). God sal ook kan sê: “Hulle ken My nie meer nie, maar Ek weet nog wie  hulle is.”

 

Ons hemelse Vader, dankie dat ons aan die kosbare belofte kan vashou: U sal ons nooit vergeet nie. Amen

 

Gert Berning

 

 

Share this post