Die keerpunt in die geestelike lewe van John Newton het een nag gekom tydens ‘n woeste storm op see. Oomblikke nadat hy die dek verlaat het, is die matroos wat hom afgelos het, oorboord gespoel. Hy het toe sy kwesbaarheid besef en dat hy nie gereed was vir die ewigheid nie. Hy het besef dat net die genade van God hom kon red. Dit het sy lewe verander.
God se genade beteken dat, terwyl jy straf verdien vir al jou oortredinge, jy totale vergifnis en die ewige lewe as geskenk ontvang: Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. … daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie (Ef. 2:4-9).
John Newton het later die bekende lied geskryf wat ons in kerke regoor die wêreld hoor:
Amazing grace! How sweet the sound / That saved a wretch like me./ I once was lost, but now am found,/Was blind, but now I see.
’Twas grace that taught my heart to fear, / And grace my fears relieved. / How precious did that grace appear / The hour I first believed. …
Jesus het stories vertel om mense van God se vergifnis, wat gratis uitgedeel word, te leer. Die bekende storie van die Verlore Seun, Luk. 15:11-32, gaan oor die genade en liefde van ons hemelse Vader. ‘n Seun wat sy familie-erfporsie voortydig geëis en ontvang het, het dit verkwis. Hy het toe teruggekeer huis toe sonder om goeie behandeling te verwag, maar sy pa het hom verras: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.” Die pa het toe ‘n fees gereël. Vir sy werksmense het hy gesê: “Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!” Geen verwyt nie. Geen voorwaardes nie. Hy het gesê: “Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry”.
God se genade is daar vir sondaars, dus vir elkeen van ons. Genade kan nie verdien word nie. Dit kan net as ‘n geskenk van God aanvaar word in Jesus Christus wat reeds aan die kruis vir ons sondes betaal het. God word verheerlik wanneer ‘n sondaar sy sondes bely en die geskenk van vergifnis aanvaar. In antwoord op God se genadige liefde doen ons God se wil, wat beteken dat ons God en mense liefhet. Dit word nie bedoel as ’n terugbetaling vir God se genade nie. God onttrek nie sy genade wanneer sy kinders faal en sondig nie.
John Newton was eers ‘n slawehandelaar. Dit was op een van hierdie vaarte dat hulle die woeste storm ervaar het. Later het Newton slawerny openlik veroordeel. Hy het in 1764 ‘n predikant geword. Newton se lewe het verander omdat hy God se genade aanvaar het.
Liewe Vader, ek glo Jesus het vir al my sondes betaal en dat u genade dus ook vir my is. Ek aanvaar hierdie geskenk en gee myself aan U. Amen.
See video on Youtube:
Stream 586 Amazing Grace by Dioncarstens75 | Listen online for free on SoundCloud