Tweede Sondag ná die epifanie
Lees Johannes 1:1-18
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
Ons het sy heerlikheid gesien . . . (v. 14).
Johannes begin sy weergawe van Jesus se verhaal heel anders as die ander drie evangeliste. Hier is nie ’n woord oor die gebeure rondom die wondergeboorte nie, en daar is nie ’n skaapwagter of ’n sterrekyker in sig nie.
Nee, die vierde Evangelie begin met ’n soort teologiese opsomming van Jesus se “plek” in die skepping. “In die begin was die Woord . . .” mymer Johannes (v. 1). En hierdie Woord het lig gebring aan die mense, ’n lig wat deur g’n duisternis gedoof kan word nie.
Die Doper het gekom en oor die lig gepraat, sodat die mense kon glo. En alles sou reg uitwerk, en God se plan vir sy wêreld sou slaag. En daarmee sou sy eiendom se toekoms verseker wees. Die Woord het immers mens geword, sê die evangelis, en Hy het onder ons kom woon. Wat kon dan verkeerd loop?
Maar dit was daardie einste “ons” wat die vlieg in die salf was. Die vleesgeworde Woord se mense, sy eiendom, wat niks van die lig wou weet nie. Hulle het vasgeklou aan die duisternis waarmee hulle vertroud was, en waarvan hulle voortaan verseker sou wees.
Hierdie halsstarrige weiering het God genoop om ’n ander plan te maak. Om sy net selfs wyer uit te gooi: “sy eie mense” (v. 11) het nou “almal” (v. 12) geword.
En vir daardie “almal” wat die lig vir hulle self toegeëien het, het die hemel oopgegaan.
Só lyk sy oorvloed wat ons ontvang het. Niks minder nie as genade op genade, soos Johannes dit noem. En selfs méér: In Hom, hierdie Genadige Oorvloedigheid, het God self aan ons en almal soos ons bekend geword.
Hy het onder ons kom woon, skryf Johannes. So asof dit die natuurlikste ding op aarde was. Asof dit nie die allergenadigste ingryping van God was nie.
En ons het sy heerlikheid gesien, voeg die evangelieskrywer by. Ons, sê Johannes, het met ons eie oë gesien en met ons eie ore gehoor dat “God” met “goed” rym, met “genade op genade” (v. 16).
Die onmiddellike gevolg?
Johannes se “ons” (v. 14) het nou “ons almal” (v. 16) geword. Ook ons, vele geslagte later, word saamgetel wanneer God sy genadesommetjies maak. Hy het ons immers die reg gegee om sy kinders genoem te word.
En dít, sê die evangelis, staan bo die natuur, en anderkant menslike drange of besluite. Inderdaad: Dat ons almal God ons Vader kan noem, is ’n genadige wonderwerk.
Ons Vader, U het ook ons oë oopgemaak.
Ons sien u heerlikheid elke dag.
Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.