Psalm 85
I
‘n Ou Joodse spreuk lui: “As jy in diep ellende is, moenie jou hoop op wonderwerke plaas nie, lees liewer die Psalms.” Meer as enige ander Bybelboek gee die Psalms aan ons woorde om al ons emosie mee uit te druk. Of dit angs is, of woede, verlange of vervreemding, vreugde of hartseer, wanhoop of hoop, die Psalms help ons om dit in woorde uit te druk. In ons gebede, in klaagliedere en lofliedere, in ons versugtinge en ook in die stilte, wanneer ons woorde opraak.
Die Psalms is veral bedoel om in die erediens-liturgie gebruik te word, as gesamentlike liedere en gebede, en as beurtspraak waarmee ons mekaar bedien – dit help ons om uitdrukking te gee aan dit wat ons saam ervaar, nou, hier. Presies dit was ook die bedoeling met Psalm 85; dis vir gebruik deur die Koragiete geskryf – hulle wat die gelowiges in die tempelaanbidding gelei het. Psalm 85 is veral bedoel om te lees in ‘n tyd van ontwrigting, ‘n tyd van disoriëntasie en onsekerheid. In só ‘n tyd help dit ons reoriënteer, gee dit aan ons nuwe hoop.
II
Hoe doen die Psalm dit?
- In ‘n eerste gedeelte (vers 1-4) herinner dit ons aan hoe God in die verlede altyd sy troue liefde bewys het. Die Hebreeus vir God se troue liefde is gesed – die mooi ou woord is “goedertierenheid”. In die verlede het God oor en oor sy troue liefde bewys. Die Psalm maak ‘n lysie uit Israel se geskiedenis:
- Na ‘n tyd van swaarkry was God weer goedgesind teenoor die land.
- Telkens het God Israel se lot verander.
- God het hulle sondes vergewe.
- God het sy gramskap teen hulle teruggehou.
- God het afgesien daarvan om hulle hul verdiende straf te gee.
In die verlede was God genadig, het God se troue liefde telkens geseëvier. Daaraan herinner die Psalm die bidders. Op God se troue liefde kon ons in die verlede inderdaad vertrou.
Wanneer ons in vertwyfeling is, bang en onseker voel, in die noute verkeer, is die eerste ding om te doen om onsself en mekaar aan God se troue liefde van die verlede te herinner. God was nog altyd bereid om ons te help in nood, ons daaruit te verlos. Dink maar aan elkeen van ons se eie lewe, of aan ons gemeente of ons land se geskiedenis en maak ‘n lysie: nog altyd het God se gesed, sy troue liefde, oorwin. Om so terug te dink aan God se troue liefde in die verlede, dit in woorde te sê, bring ‘n geweldige groot troos.
- In ‘n tweede rondte help hierdie Psalm dan die bidders om tot God te bid vir die hede, die hier en nou. As dit is hoe U in die verlede getrou was in u liefde vir ons, dan moet U dit nou weer doen, bid die Psalm. Here, maak nou ‘n einde aan u toorn, hou op toornig wees. Gaan u toorn dan voortduur van geslag tot geslag? Nee, asseblief Here, maak ons weer heel, skenk ons weer die lewe sodat ons ons vreugde in U kan vind en U kan verheerlik. Bewys weer u troue liefde aan ons, net soos U dit in die verlede gedoen het. Die Psalm maak dus aanspraak op die Here se troue liefde – soos in die verlede, doen dit nou ook weer, bid die Psalm.
Dis belangrik om raak te sien dat hier geen sprake is van iets wat onsself kan doen om ons lot te verander nie. Hier word volledig op die Here vertrou; dit is die Here alleen wat kan ingryp en ons lot kan verander. God alleen neem die inisiatief, op sy troue liefde kan ons ons troos en ons hoop vestig. So lei die Psalm ons om saam te bid, asof in ‘n koor.
- Maar dan word hierdie gesamentlike gebed, die koorstuk in die liturgie, skielik onderbreek. Iemand in die koor staan vorentoe, maak die koor stil en sê in ‘n solo-stem: Wag eers, ek wil hoor wat God, die Here sê. Want so ‘n gebed is nie net ons woorde aan God nie, dit is ook God se woorde aan ons. Hy praat ook met ons, ons wat sy troue volgelinge is. Wanneer ons met God praat moet ons ook fyn leer luister, want God praat terug, Hy antwoord ons, al fluister Hy soms net. Ons moet goed luister, sê die solis.
En dan val die koor weer weg met die woorde wat hulle God hoor sê – woorde uit God se eie mond, belofte-woorde. Die verlossing wat Hy gee is aan die kom, sê God. God se verlossing kom veral vir diegene wat vir Hom ontsag het.
Wat behels hierdie verlossing alles? Hoor net met watter mooi woorde en beelde teken die Psalm vir ons die toekoms wat God beloof:
Verlossing beteken dat God se heerlikheid weer ‘n tuiste in die land sal vind. God se teenwoordigheid sal weer ervaar, raakgesien en erken word. Sy Koningsheerskappy sal weer deurbreek. Dan sal liefde en waarheid mekaar ontmoet – liefde en waarheid, dink net! Dan sal geregtigheid en vrede mekaar omhels (geregtigheid en vrede sal mekaar soen, sê party vertalings) – kan daar ‘n mooier toekoms wees as dit: geregtigheid en vrede omhels mekaar! Waarheid sal uit die aarde spruit, geregtigheid uit die hemel neerkyk – alles sal vol word daarvan. En God sal vir ons alles gee wat goed is, in oorvloed sal God dit skenk – die ganse natuur sal ook sommer weer heel en nuut word, die land sal sy opbrengs gee. Geregtigheid baan deur die wêreld vir God se voetstappe die weg. Dis sulke mooi beelde, ons moet dit weer gaan lees.
Hierdie Psalm gee dus aan ons woorde om mee te droom oor God se nuwe toekoms, God se groot shalom, sy vrederyk wat aan die kom is. Dis woorde wat uit God se eie mond kom, beloftewoorde. Daarmee kan ons ‘n nuwe wêreld verbeel, ‘n wêreld wat heel is, en nuut, waar God se vrede of shalom aanbreek.
Natuurlik weet ons as Nuwe Testament gelowiges dat hierdie vrederyk reeds aangebreek het toe Christus aarde toe gekom het, en dat dit volledig sal aanbreek as Hy weer kom. Christus is die vervulling van God se belofte van goedertierenheid. Dis waarop God se troue liefde uitgeloop het, dat Hy aan ons sy Seun gestuur het.
III
Kom ons bid vandag weer, elke dag, die woorde van die Psalms. Kom ons neem hierdie woorde in ons mond, kom ons proe dit, kom ons sê dit hardop, kom ons hoor dit, kom ons bid dit … juis ook in hierdie dae van disoriëntasie en ontwrigting. Kom ons herinner mekaar aan God se troue liefde in die verlede. Kom ons bid saam dat Hy nou, in ons dag en uur, weer sy troue liefde aan ons sal bewys. En kom ons hoor hoe die Here ons gebed beantwoord met die belofte van sy groot vrede, sy shalom, wat aanbreek.
IV
Wanneer ons netnou van die brood eet en van die wyn drink, dan ruik en proe en sien en voel ons iets van hierdie Gesed, God se goedertierenheid, sy troue liefde. Ons eet dit; dit word deel van ons. En ons gee dit vir mekaar aan.