Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Kersfees

Lees Lukas 2:1-20

Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink (v. 19).

Lukas maak dit uit die staanspoor duidelik dat hy nie besig is om hier ’n oulike verhaal te vertel nie. Nee, vir hom is die Kersverhaal geen kindersprokie nie; dit is klipharde geskiedenis: ’n sensus in die Romeinse Ryk wat deur die keiser uitgeroep is in ’n tyd toe ene Sirenius goewerneur in Sirië was.
En ene Josef van Nasaret ver suid moes trek om by sy familieplek uit te kom. Hy en sy hoogswanger verloofde, wie se tyd aanbreek juis toe hulle daar is.
Daar was ook skaapwagters in die oop veld daar naby, en een aand hoor hulle ’n engelstem wat aan hulle ’n verlossingsboodskap bring, en later ’n engeleloflied wat hulle reguit na die geboorteplek toe lei.
Toe hulle daar aankom, vind hulle dat hulle nie die eerste getuies van dié geboorte is nie. Lukas verklap nie wie die ander was nie; hy sê bloot “almal” (v. 18) wat die skaapwagters se merkwaardige engeleverhaal aangehoor het, was daaroor verbaas.
Wie sou nié hieroor verbaas wees nie? Tog nie die moeder, die jong verloofde, wat dit alles moes aanhoor nie? Sy het heelwat gehad om oor na te dink. Sy het immers vroeër reeds haar eie verbysterende ontmoeting met ’n engel gehad. En nou is daar nóg sulke stories.

Kerstyd is van altyd af ’n tyd van ontmoetings. Dit bring mense bymekaar – sommiges vir die eerste keer. Boonop het dit die manier om mense verwonderd te laat. Ag, en die hemelse musiek, die singery darem . . .
Dalk, bo alles, is dit ’n tyd van nadenke. Soos by elke stilhouplek het lewensreisigers tydens Kersfees die luukse om op hulle reis tot daar terug te kyk. Hulle dalk af te vra – heimlik, of dalk openlik en hardop, vir almal om te hoor – hoe op aarde dit gebeur het dat hulle, ten spyte van alle teenspoed en klagtes en negatiewe voorspellings en opperste swaarmoedigheid, tot hier gekom het.
Miskien inspireer hierdie herinneringe hulle dan om die pad wat voorlê met ’n nuwe lied in die hart aan te pak. Om met die hervatting van hulle geskiedenis met God, Hom opnuut en by voorbaat te loof en te prys oor alles wat hulle reeds op hierdie reis gehoor en gesien het.
En dalk, net dálk, word hulle in die loop van dit alles tot verwondering beweeg. Oor ’n Vader wat sy Seun gestuur het om hulle op hulle reis te vergesel. Tot by die bestemming, en daarna.

Here, o God-by-ons, op hierdie dag hoor ons opnuut die blye engelelied. En ons voeg ons stem en ons dankbare hart daarby.

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.