Wilhelm Busch vertel van ‘n man wat in ‘n kroeg saam met vriende gedrink en kaart gespeel het. Hy was in ’n rystoel en het verskriklik gevloek. Maande vroeër het hy nog in ’n myn gewerk en toe het rotse op hom geval en is sy rug gebreek. Die man het vir Wilhelm gesê: “Met God wil ek niks te doen hê nie. Waar was Hy toe ek beseer is? Nou moet ek my lewe lank in hierdie rystoel sit.” Wilhelm en die manne in hulle Bybelstudiegroep het besluit om die man te help. Hulle het die volgende keer wat hulle byeengekom het, die man gaan haal en na hulle groep gestoot. Die man het geprotesteer maar kon hulle nie keer nie. Daar is gesing, gebid, Bybel gelees, en oor die liefde van God gepraat. Die volgende keer het die man minder gekeer toe hulle hom kom haal. ’n Paar weke later het hy sy sonde bely, en sy lewe vir Jesus gegee. Op ’n dag het Wilhelm die man by sy huis besoek. Die man het op die sypaadjie in sy rystoel gesit. Hy sê toe vir Wilhelm: “Wanneer ek in die hemel kom en voor God se troon staan, dan wil ek vir Hom dankie sê dat my rug gebreek het. Want as dit nie gebeur het nie, het ek reguit na die hel geloop.” En verder het hy gesê:”Jy besef nie hoe vrolik ek is nie. Vandat ek weet dat ek aan Jesus behoort, is alles anders, alles is so vrolik, selfs die grys plaveistene in die straat lag my toe.”
Die man het ’n wonderlike verandering ondergaan. Die woord van God het waar geword wat sê, 2 Kor 5:17: Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. God beloof dat die Gees van God sal woon in hulle wat deur God vergewe is deur die verdienste van Jesus aan die kruis. Die Gees van God bewerk in ons Gal. 5:22-23: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Dit is opvallend dat die man beklemtoon het hoe vrolik hy was, maar dit is presies wat God beloof. Die vreugde wat God gee, is nie afhanklik van omstandighede nie. Hierdie man het gestraal van vreugde alhoewel hy nog steeds in sy rystoel gesit het. God nooi ons: Openb 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy met My.
Hierdie man het Jesus, die ewige lewe en groot blydskap gevind, deurdat die lede van daardie Bybelstudiegroep vir hom omgegee het en hom gehelp het. Die Here vra ons om vir ander van Hom te vertel: Rom 10:13, 14 Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van hom gehoor het nie? Luk 9:26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom.
Besluit nou om iets te doen om die Woord van God aan ander te bring. Wie weet of ’n eenvoudige daad nie iemand se lewe sal verander nie. Baie mense hoor nooit die Woord van God nie en het ook nie ’n Bybel nie.
Ons Hemelse Vader, dankie vir die vreugde wat U vir u kinders gee. Wys my waar ek kan help om die Blye Boodskap van God se genade en redding aan ander te bring. Amen.