Nuwejaarsdag
Lees Josua 1:1-9
“Moenie skrik nie, moenie bang wees nie,
want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (v. 9).
Die woestyntrekkers bevind hulle op die drumpel van die land wat aan hulle belowe is. Sonder die leier wat hulle dit belowe het. Moses is dood sonder dat hy die vervulling van die belofte aanskou het.
Josua moet nou sien kom klaar. En al wat hy het, is Moses se nalatenskap – en in die besonder ’n klaerige, ontevrede, meestal teësinnige en dikwels bakleierige klomp mense wat hy die nuwe land moet binnelei.
Moses het hom darem ook ’n boek met wette nagelaat, die voorskrifte wat die ou leier destyds op Sinaiberg by die Here gaan haal het.
Dit is niks minder nie as jou padkaart, Josua. Só sê die Here aan die nuwe leier. “Moet daarvan nie links of regs afwyk nie” (v. 7).
Dit is ál wat Josua het vir dié lewensopdrag – ’n boek met die roete na die Groot Onbekende: met slegs dit in sy hand moet hy sy mense voorgaan.
Is dit regtig ál – ’n boek? Tog nie. Dié roetewyser kom ook saam met die Goddelike versekering: Ek is by jou, oral . . .
Leiers het dit nie maklik nie. Hulle pad is nooit met rose besaai nie, en hulle volgelinge laat hulle dit vir geen oomblik vergeet nie. Moses het hierdie onbehae meermale aan eie lyf gevoel; Josua sou dit nie anders hê nie.
Maar soos Moses het Josua meer as bloot ontevrede mense vol eise gehad om in ag te neem. Véél meer: Daar was ook God se vereistes. ’n Leier het dit nie maklik nie . . .
Maar moenie bang wees nie, voorloper. Daar is klaarblyklik ’n manier waarop jy aan alle hoë eise kan voldoen.
Allereers is daar tog die boek, die padkaart: Moenie daarvan afwyk nie, lui die opdrag. Dit is op sigself ’n swaar las, maar hier-voor is daar eenvoudige raad: “Oordink dit dag en nag . . .” (v. 8).
Gun jou dus genoeg dinktyd op hierdie reis, Josua. Moenie so vasgevang raak in die kleinsieligheid rondom jou en jou eie kleinserigheid daaroor dat jy nie tyd het om behoorlik na te dink oor alles wat jy in daardie boek wys word nie.
En dan is daar mos God, die Gewer daarvan. Altyd Hý. Hy ken jou beter as wat jy jouself ken. Hy sal jou nooit alleen los nie, ook nie wanneer jy sy Boek lees en dit oordink nie.
En Hy is altyd by jou wanneer jy op reis gaan. Of dit nou jou klein, plaaslike heen-en-weer is, en of dit ’n vername, selfs onthutsende lewensreis is, die Groot Onbekende in. Hy is God-by-ons, oral waar ons gaan.
Lei my, Heer, op hierdie nuwe pad. Trap u spoor diép,
dat ek dit nie miskyk nie.
Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.