Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

In New York het David Berkowitz binne dertien maande ses mense vermoor en sewe ander ernstig beseer. Op die ouderdom van 25 is hy in 1978 gevonnis en hy is nog steeds in die tronk. Ons kan vra: Is God lief vir David Berkowitz?

Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle” (Luk. 15:1-2). Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het gedink dat God die ongelowiges haat en daarom mag mense wat in God glo, niks met hulle te doen hê nie. Toe vertel Jesus in Luk. 15:11-32 vir hulle van ‘n seun wat sy familie-erfdeel opgeëis het. Nadat hy al sy geld verkwis het deur losbandig te lewe, het hy besluit om na sy vader terug te gaan. “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.” Die pa het toe ‘n fees gereël. Sy ouer seun het egter kwaad geword en wou nie binnegaan nie.

Jesus sê met hierdie gelykenis dat God alle mense baie lief het. Selfs vir David Berkowitz sou God soos die vader wees wie se oë op die horison gerig is om te kyk wanneer hy terugkom. Die goeie nuus is dat, soos in die gelykenis hierbo, David Berkowitz ook teruggegaan het huis toe. Hy vertel: “Na tien jaar in die tronk het ‘n ander gevangene begin om my te vertel dat Jesus Christus my liefhet en my wil vergewe, ongeag  wat ek gedoen het. Hy het my ‘n Bybel gegee en een aand het ek gelees: Hierdie arme man het geroep en die Here het hom gehoor, en hom uit al sy benoudhede gered (Ps. 34:7). Op daardie oomblik, laat in die nag in my koue sel, het ek gekniel en na Jesus Christus begin roep. Ek het Jesus gevra om al my sondes te vergewe.”

‘n Gelykenis is ‘n storie, nie ‘n ware gebeurtenis nie, wat ‘n les illustreer. Daarom maak dit ook nie sin om te vra of die ouer broer fees toe gegaan het of nie. In die gelykenis hierbo word die liefde van God uitgebeeld soos die liefde van die vader, die hooghartigheid van die Fariseërs en die skrifgeleerdes soos dié van ouer broer, en die verlange na God van die tollenaars en sondaars soos die verlange van die jonger broer na sy vader.

Die gelykenis is ook vir elkeen van ons. Die boodskap is dat ons geen  mens mag verag vir wie God lief is nie.  Ons moet vir enige ongelowige, selfs vir ‘n reeksmoordenaar soos David Berkowitz, sê: “Ongeag wat jy gedoen het, God het jou lief soos ‘n vader sy kind liefhet. Jesus het klaar vir jou skuld betaal. Neem jou erfenis in besit, anders kan jy alles verbeur.”

 Ons Vader, help ons om niemand te verag nie, want U is vir almal lief.
Amen.