Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Lees Lukas 17:20-25

“Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie” (v. 20).

Van die begin af verras Jesus sy toehoorders – as dit nie die skare is wat verbaas was oor die gesag van sy onderrig nie (vgl. Matt 7:28-29), is dit Pilatus wat verstom staan omdat Jesus Hom nie verdedig nie (vgl. Mark 15:5).
Deurentyd sê en doen Jesus onverwagte, onortodokse dinge. Vir Hom kom dit doodnatuurlik; vir sy volgelinge en die toevallige toeskouers is dit verbysterend vreemd.
Dink net hoe onthutsend die Fariseërs Jesus se antwoord op hulle vraag oor die koms van God se koninkryk moes beleef het. Wanneer ’n mens iets oor die toekoms vra, dan verwag jy tog ’n antwoord waarin daar ’n tydaanduiding is, of ’n vriendelike vermaning om mooi op te let. Of ’n herinnering aan iets wat jy reeds weet. Of dan bloot ’n skouerophaling: “Ek weet nie.”
Nie Jesus nie. Nie op hierdie vraag nie. Aanvanklik waarsku Hy die vraagstellers teen die destydse tradisionele opvattings oor toekomsvoorspelling: Wat die koms van die koninkryk betref; dit kan nie bereken word nie. Beslis nie uit voortekens nie.
En, sê Hy, moenie elke slimjan glo nie wat grootoog en  bakhand kom verkondig: “ ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ ” (v. 21).
Toe kom die éintlike verrassing: “Die koninkryk van God is hier by julle” (v. 21).
Hiér? By óns? Dit is tog onmoontlik! Waarvan praat die Man?

Hy praat van hier. En van nou. Hy sê bloot die logiese ding: die koninkryk van God is daar waar die Koning is.
En waar is God? Hier.
Hier tussen ons. Deur sy Seun het Hy Immanuel geword, God by ons. En deur sy Gees het Hy niks minder nie as God-in-ons geword.
Sy koninkryk is dus oral waar sy kinders leef en beweeg. Daar waar hulle liefhet en dien en sorg en versorg. En vergewe en verdra en die tweede kilometer loop. Oral waar hulle hulle arms en hulle hart vir hartseer mense en vir vreemdes en verworpenes oopmaak, dáár is die koninkryk.
Telkens wanneer hulle, die koningskinders, aan ’n ander mens sê: “Ek is hiér vir jou! Stuur my maar; praat met my; vra my; sê my wat ek vir jou kan doen.” Dán kom die koninkryk van God.
Dít – die daaglikse erbarming en insluiting en omarming en onvoorwaardelike aanvaarding na die voorbeeld van die Koning – is die seker tekens van die koms van die koninkryk van God. Hier, by ons. Nou.

Grote Koning, ek is u kind.
Maak mý doen en late die tekens
wat U aan u wêreld en u mense wil wys.

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.