Hoe gemaak met die gangs?

Wat is ’n bende?

Don Pinnock gee hierdie breë definisie van ’n bende (‘gang’): Dit is ’n groep mense met gedeelde belange wat gereeld bymekaarkom met ’n gemeenskaplike sosiale of kriminele doel (Gang Town, 2016).

Die ontstaan van bendes

Die historiese wortels van bendebedrywighede loop baie diep. Die aantal bendes in tronke (die sogenaamde nommerbendes’) het ’n langer geskiedenis as die straatbendes. Die vroeëre onderskeid en skeiding tussen tronkbendes en straatbendes bestaan nie meer nie, en dit dra by tot die kompleksiteit van bendes en bendebedrywighede deesdae – bv. die oorspronklike 28s en 26s tronkbendes is ook nou in woonbuurte bedrywig as straatbendes wat kompetisie en wedywering verhoog. Ons vind dikwels ’n soort progressie wat begin by skynbaar onskuldige ‘corner gangs’ waarin jong seuns wat betrokke is, rituele doen om hul bravade te toon of te bewys. Hierdie bendes begin later vir hulself ’n gebied afbaken om te beheer teenoor ander mededingers. Baie gou word kriminele aktiwiteite deel van hul agenda en kort voor lank beland van hulle in die gevangenis. In die tronke word hulle onderwerp aan vertrouensrituele wat hulle toelating tot tronkbendes gee en gepaardgaande range. Wanneer hulle vrygelaat word, word die straatbende ’n byna natuurlike tuiste. Na verdere vertrouensrituele beweeg hulle dan op in die bende-rangstruktuur.

Bendes en dwelms

Daar is ’n baie nou verband tussen bendes en die onwettige dwelmhandel. Die aanbreek van die demokratiese era in Suid-Afrika het ons tradisioneel ‘veilige’ landsgrense oopgestel vir internasionale misdaadsindikate wat die kwesbaarheid van ons veiligheidsmagte uitgebuit het met hul uiters gesofistikeerde metodes. Hierdie sindikate (o.a. Russiese, Nigeriese en Chinese sindikate) het in plaaslike straatbendes uitstekende vennote in misdaad gevind. Hulle voorsien die dwelms en die bendes verskaf die afsetgebiede. In Kaapstad word beraam dat rofweg 12 % van jongmense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar dwelms gebruik, d.w.s. ongeveer 120 000. Die onwettige handel in dwelms is dus ’n uiters winsgewende bedryf waarby miljoene rande betrokke is. Die gewelddadige verdediging van afsetgebiede word dus ’n byna alledaagse verskynsel in woonbuurte. Die feit dat soveel werklose jongmense dwelmverslaafd is, verduidelik verder die misdaadprobleem in ons land.

Bendes elders in die wêreld

Ons moet ook verstaan dat bendekultuur ’n internasionale verskynsel is. Die Engelse akteur en joernalis Ross Kemp (Gangs, 2007 en Gangs II, 2008) het die wêreld deurreis om oor bendes na te vors en skryf oor die bestaan van bendes in stede soos Rio de Janeiro, El Salvador, Moskou, Los Angeles en Liverpool. Ons vind dat hoewel bendes in swart Afrika-gemeenskappe voorkom, het bendes in bruin woonbuurte (en veral in die Kaapse Skiereiland) ’n baie duidelike geskiedenis, hiërargie, organisatoriese patroon en baie dikwels ’n generasie-voetspoor in sommige families en gemeenskappe.

Bendes in arm gemeenskappe

Daar is ’n sterk verband tussen die bestaan van bendes en sosio-ekonomies benadeelde gemeenskappe wêreldwyd. Armoede, hoë vlakke van werkloosheid, swak skoolstelsel, ’n gebrek aan behoorlike of ordentlike behuising, oorbevolking, swak of nie-bestaande ontspanningsgeriewe is tipiese teelaarde vir bendebedrywighede. Hierdie sistemiese en strukturele oorsake kombineer met persoonlike uitdagings op ’n psigososiale vlak en dra by tot bendebedrywighede, misdaad en geweld wat maklik wortelskiet. Bendeleiers is meesters in die skep van ’n kultuur van afhanklikheid in benadeelde gemeenskappe waar mense ’n gebrek aan bronne en besluitnemingsmag het. Bendebedrywighede floreer ook op ’n kultuur van vrees. Mense in bendegeteisterde gemeenskappe wil om verstaanbare redes nie betrokke raak nie, en daar is ’n natuurlike ingesteldheid om persoonlike veiligheid bo gemeenskaplike betrokkenheid te kies.

Hoe behoort geloofsgemeenskappe te reageer op bendekultuur?

Die volgende algemene beginsels of vertrekpunte is belangrik:

  • ’n Holistiese eerder as ’n eenvoudige, eng gedefinieerde benadering gedryf deur selfgesentreerde kerklike of gemeentelike belange is uiters belangrik.
  • Ons is deel van ons gemeenskappe en moet dus saam met al die betrokke rolspelers en belanghebbendes, ongeag van geloof of belydenis, regerings- en nie-regeringsorganisasies, probeer om blywende oplossings te vind.
  • Leiers van geloofsgemeenskappe moet uitstyg bo partypolitieke grense en beperkinge, en bereid wees om alles moontlik te doen om bendebedrywighede teen te werk en uit te roei.
  • Die gebrek aan politieke wil om kort- en langtermyn asook volhoubare oplossings te vind en te implementeer, moet uitgedaag word.
  • Geloofsgemeenskappe moet op alle vlakke betrokke wees – deur aktiewe deelname, advisering, ‘advocacy’ (voorspraak), fasilitering en ondersteuning.

Kom ons word prakties: voorkomend en versorgend

  • Nie die een of die ander ding nie, maar heel dikwels meer as een ding op ’n slag is nodig om enigsins ’n verskil te maak. Daar is nooit een enkele rede waarom jongmense besluit om by bendes aan te sluit nie. Dit is ook belangrik om daarop te let dat nie alle jongmense binne ’n bepaalde woongebied by bendes aansluit nie. Inteendeel, die oorgrote meerderheid raak nooit by bendes betrokke nie!
  • Bou en herbou gesonde gesinne en families. Daar is ’n algemene krisis rondom families. Te veel kinders word groot sonder die geborgenheid van gesonde familie- en gemeenskapsverbande.
  • Baie jongmense word dus na bendes getrek waar hulle verlange en soeke na iets meer in die lewe op ’n manier bevredig word. Hiermee saam moet ons die verskillende variasies van families erken – families is beslis nie net die samestelling van pa, ma, boetie en sussie nie. Die Bybel gee goeie riglyne aan families en gesonde weder-sydse verhoudinge, bv. Psalm 127; Efesiërs 5:21-6:4; Kolossense 3:17-21.
  • Belê in vroeë kinderontwikkeling, kweek gesonde waardes en positiewe self-waardes. Verskaf alternatiewe en positiewe rolmodelle vir die kinders en jeug. Voorkoming is beter as genesing.
  • Fokus op gesonde verhoudings. Iemand het op ’n keer gesê: ‘Kerk gebeur in verhoudings, nie in vergaderings nie.’ Ons kan beslis baie meer doen om die voorbeeld van ons Here Jesus Christus na te volg. Hyself gee die liefdesgebod as teken van dissipelskap (Johannes 15:9-17; 1 Johannes 3; 4:7-21).
  • Beoefen gasvryheid. Maak geloofsgemeenskappe meer gasvry, vriendelik, uitnodigend en verwelkomend ten opsigte van voormalige bendelede, ‘tattoos and all’!
  • Preek en waardeer ’n teologie van die lewe. Die lewe is ’n geskenk van die Here en Hy wil aan ons ’n lewe van oorvloed gee (Johannes 10:10). Hiervoor het Jesus sy lewe gegee, sodat ons kan lewe en omdat ons kosbaar vir die Here is.
  • Beoefen ’n teologie van ‘affirmation’ (bevestiging). Ons het baie gewoond geraak aan ’n sort veroordelende Christelike boodskap, eerder as een waarin ons menswees bevestig word. Hierin het ons Here Jesus Christus vir ons ’n voorbeeld kom stel – Hy het mens geword (Johannes 1:14) en die verlossing en heil van mense voorop gestel.
  • Prioritiseer ’n bediening van teenwoordigheid (a ministry of presence). Ons moet die sout van die aarde en die lig van die wêreld wees (Matteus 5:13-16).
  • Herstel vennootskappe met skole en help om dit plekke van veiligheid en leer te maak. Geloofsgemeenskappe kan hierin ’n groot rol speel deur aktiewe betrokkenheid en ondersteuning.
  • Herevalueer en herbesoek junior kategese (Sondagskool) en senior kategese klasse (bv beklemtoon leer eerder as om te onderrig), asook kinder- en jeugbediening (bv. beklemtoon verhoudings eerder as reëls). ‘Boys everywhere have a need for rituals marking their passage to manhood. If society does not provide them they will inevitably invent their own’ (Joseph Campbell). Fokus op holistiese ontwikkeling van kinders en jongmense, nie net op oordrag van geloofskennis nie. Toon begrip vir die bepaalde ontwikkelingsfases van jongmense. Belê in deeglike voorbereiding en opleiding van kategete as ‘geloofsontwikkelingsfasiliteerders’ wat kinders en jongmense kan begelei.

Llewelyn MacMaster

Share this post