Hoe lees ons die Bybel?

Waarom is die vraag belangrik?

Op ’n keer ry ek agter ’n motor met die heel treffende bufferplakker: The Bible says it, I believe it, that settles it. As ’n mens egter na die kerklike debatte luister, los hierdie standpunt allesbehalwe die geskille op. Want hoe meer tekste aangehaal word, hoe groter gaap die afgrond van misverstand en wantroue tussen gelowiges. Dis duidelik dat wat die Bybel sê nie sonder meer kerklike twispunte besleg nie. Dit lyk eerder asof die Bybel die skietgoed verskaf waarmee elkeen die ander vanuit hulle onderskeie loopgrawe bestook. Onlangs het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op grond van sekere Bybeltekste weer eens besluit dat vroue nie tot die amp van ouderling en predikant toegelaat mag word nie. Dit teenoor ander kerke met dieselfde belydenisgrondslag wat op grond van dieselfde Bybel die vrou al jare lank in hierdie ampte bevestig. Hoe is dit moontlik dat dieselfde Bybel tot hierdie uiteenlopende standpunte aanleiding kan gee? Dit spruit onder andere voort uit die manier waarop ons die Bybel lees. Dit is dus die moeite werd om bietjie hieroor te besin.

Hoe om nie die Bybel te lees nie

Laat ek eers opmerk dat daar nie ’n waterdigte metode van Bybellees is wat waarborg dat almal by dieselfde antwoorde uitkom nie. Daarvoor verskil Bybellesers se kontekste, kerklike tradisies, verwagtinge en uitkyk op die lewe te veel. Maar wat ons wel kan doen, is om by voorbaat ernstige struikelblokke uit die weg te ruim sodat die boodskap van die Bybel so ver as moontlik na sy bedoeling ontgin kan word. Ek wil oor twee van hierdie struikelblokke ’n paar opmerkings maak. Na my mening verteenwoordig hulle maniere waarop die Bybel nie gelees moet word nie.

Nie fundamentalisties nie

Die eerste struikelblok is dat die Bybel deur baie hanteer word asof dit ’n arsenaal van pasklaar antwoorde vir elke eietydse kwessie bevat. Die probleem is egter dat die Bybel dikwels óf niks oor eietydse kwessies sê nie, óf dat wat daar wel staan, nie lekker inpas by hoe ons vandag dink en leef nie. Tog hanteer baie die Bybel so asof daar vir elke spesifieke kwessie net een regte antwoord is, en dit is ons taak om daardie regte teks te vind. En die oomblik as jy hom het, is die kwessie opgelos. Die probleem is net dat iemand met ’n teenoorstaande standpunt ook met ’n Bybelteks kom, en dan bevind jy jou in ’n skaakmatposisie. Want wie se teks is nou die regte antwoord vir die situasie?

Hierdie manier van Bybellees staan in teologiese taal bekend as Bybelgedrewe fundamentalisme. Dit beteken: daar is net een antwoord vir ’n probleem, en hierdie antwoord is direk afleesbaar uit die Bybel, sonder inagneming van die antieke situasie waarin die Bybel ontstaan het en die afstand wat laasgenoemde skep tussen destyds en vandag. En as daar nou een ding is wat verantwoordelike Bybellees ons al oor en oor geleer het, is dat ’n mens niks uit die Bybel kan “bewys” deur bloot op die klank af ’n teks uit sy literêre en antieke konteks te neem en letterlik probeer toepas vir vandag nie.

’n Voorbeeld sal dit illustreer. Efesiërs 5:22 sê: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig.” Iemand wat daarop staan dat die man die baas in die huis is, kan nou hierdie teks neem as bewys vir die man se heersersposisie in die huwelik en samelewing. Maar gerieflikheidshalwe word dan vergeet dat verderaan in Efesiërs 5 verduidelik word wat hierdie “baasskap” van die man eintlik behels: dit moet ’n afbeelding wees van hoe Christus sy gemeente versorg; hy moet sy vrou liefhê soos sy eie liggaam; hy moet haar voed en versorg en bereid wees om sy lewe vir haar af te lê. Boonop, in breër konteks gesien, verklaar Galasiërs 3:28 dat dit nie belangrik is of iemand man of vrou is nie, wat saak maak is dat beide in Christus één is. En dan praat ons nog nie eens van die antieke opvattings oor die vrou se ondergeskikte posisie teenoor die man wat ook reggestel moet word wanneer oor die verhouding tussen man en vrou in die huwelik gepraat word nie.

Dit behoort duidelik te wees dat ’n fundamentalistiese lees van die Bybel ’n struikelblok is wat uit die weg geruim moet word wanneer die Bybel se boodskap vir vandag ontgin word.

Nie relativisties nie

Die tweede struikelblok is presies die teenoorgestelde van die eerste. Dit behels ’n mensgedrewe relativisme. Hiervolgens moet die waarheid van die Bybel altyd inpas by menslike sieninge, hoe verskillend laasgenoemde ook al is. Enige opvatting is dus aanvaarbaar.

Bybellees is soos om na ’n bring en braai toe te gaan. Elkeen bring sy eie siening na die Bybel toe, en dit sal wel geakkommodeer kan word binne al die moontlikhede wat die Bybel bied. Dis glashelder dat hierdie benadering alles op losse skroewe stel. Mens soek nie regtig in die Bybel na antwoorde nie, maar probeer bloot jou eie sieninge – ongeag hoe skeef en krom – in die Bybel terugvind. Die waarheid is dan so ongeveer die samevoeging van alle menslike opvattings. Nee, hoe nodig dit ook al is dat ons mekaar se sieninge respekteer en by mekaar leer, is alles nie ewe gaaf en goed nie. Ons moet ook in ons sieninge gekonfronteer word met die stem van God in die Bybel; ons moet ook worstel met vorige antwoorde uit die Bybel.

Om met God te dans

Die soort Bybellees wat ek sou voorstel, is een waar beide met God én mens, met Bybel én eietydse situasie, erns gemaak word. Dit kan ten beste met ’n beeld verduidelik word. Bybelverstaan is soos dans. Dis soos wanneer twee dansmaats leer om nie op mekaar se tone te trap nie, maar mekaar probeer vind, met die verstandhouding dat God die Een is wat deur die Bybel lei, en ons wat in pas moet kom. Dit verg harde werk en toewyding om God se ritme te peil. Dis ’n lewenslange inoefening, maar algaande ontdek ons hoe om op maat van die Goddelike musiek en ritme van die Bybel te dans. En so word beide Goddelike en menslike stemme verreken.

’n Voorbeeld sal dit verduidelik. Bekend is die geweldige polemiek wat die debat oor homoseksualiteit ontketen het. Dit is nie my oogmerk om hier ’n bepaalde standpunt te propageer nie, maar te verduidelik hoe hierdie kwessie illustreer wat ek met bogenoemde beeld bedoel. ’n Mens kan volstaan met die Bybeltekste wat oënskynlik homoseksualiteit afwys. En daarmee is die saak afgehandel. Of mens kan ’n oog daarvoor ontwikkel dat die spesifieke saak waaroor dit in die debat gaan, naamlik kernhomoseksualiteit, nie as sodanig in hierdie Bybeltekste hanteer word nie, en dan ’n standpunt vorm wat beide voldoen aan die Bybelse eis van gesonde etiese gedrag én wat ook die spesifieke dilemma waarin die Christen-homoseksuele verkeer, ernstig opneem. Dit sou dan ’n nogal moeilike “Christelike dans” voorstel waar beide die Bybel se gesag én ’n eietydse problematiek waarvoor daar nie direkte antwoorde in die Bybel is nie, met mekaar in pas kom.

Bybellees is voorwaar ’n dinamiese onderneming waar mens voortdurend voor nuwe uitdagings gestel word, maar ook telkens rus vind in bekende antwoorde.

Prof Hermie van Zyl

Share this post