In die middel 1850’s het ʼn tiener Boston toe getrek om werk te soek. Op skool het hy net tot graad 5 gevorder; hy kon nie spel nie, sy grammatika was swak, hy was parmantig en swak gemanierd. ʼn Oom het hom in diens geneem, op voorwaarde dat hy gehoorsaam is en kerk bywoon. Sy Sondagskoolonderwyser, Edward Kimball, het gesê dat hy nooit iemand gesien het wat geestelik so verduister was nie. Later het Kimball die seun spesiaal besoek om hom te vra om sy lewe aan die Here oor te gee. Die seun het aandagtig geluister en daardie dag sy hart aan God gegee. Hy het onmiddellik begin om sy geloof met ander te deel. Later het die jongman Chicago toe verhuis. Hy het die strate deurkruis op soek na ander jong seuns vir sy kerk. Hy het ʼn passie gehad om siele te red en was vasbeslote om daagliks iemand van die evangelie te vertel. Hierdie seun was D.L. Moody, een van die groot name in die geskiedenis van die Christelike geloof! Een van sy vele prestasies was die stigting van die Moody-Bybelinstituut. Tot vandag toe gaan die Moody-Bybelinstituut en die Moody-Uitsaainetwerk voort om duisende siele daagliks te bereik. Hy het die Moody-Kerk gestig en in krotbuurte gepreek. Na raming is soveel as ʼn miljoen mense na die Here gelei voordat Moody in 1899 gesterf het (lank voor internet en radio).
Moody het wonderlike dinge gedoen. Ons moet egter onthou dit was ʼn getroue Sondagskoolonderwyser se gehoorsaamheid en volharding wat die verloop van die geskiedenis verander het. Kimball het omgegee oor die siel van ʼn ongemanierde seun. Mense het Jesus nodig, al besef hulle dit nie. As ons hulle nie van Jesus vertel nie, hoe sal hulle weet dat Hy lewens kan verander? Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word. Maar hoe kan ʼn mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? (Rom. 10:13 – 14). Vra ons ooit vir ons kinders die belangrikste van alle vrae: ken julle Jesus? Indien nie, waarom sal ons geskok wees as hulle miskien eendag by misdaad en dwelms betrokke raak? Vertel ons hulle van Jesus en van die lewe na die dood of is dit nie vir ons so belangrik nie? Die Here kan enigeen wat sy/haar hart vir Hom gegee het, in sy diens gebruik. Deurdat Edward Kimball die evangelie aan die jong opstandige Moody gebring het, is miljoene mense se lewens verander.
Ons moet bid dat God se koninkryk sal kom in ons land waar 17800 mense die laaste jaar vermoor is, en te veel mense die prooi van dwelms en verkragters word. Ons moet mense vertel van God se liefde in Jesus Christus en dat God hulle kan verander – selfs as hulle geestelik verduister is.
Hemelse Vader, help my dat ek deel kan uitmaak van U koninkryk deur ander te vertel van hoe Jesus ons lewens kan verander. Amen.
Gert Berning