Wilhelm Busch was ʼn predikant in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. ’n Man uit sy gemeente het by hom kom sit en huil oor sy seun. Wilhelm het die seun leer ken toe hy as 14-jarige vol vreugde na hulle jeuggroep gekom het. Die seun het graag na die Woord van die Here geluister. Dit was egter in die tyd van Hitler en baie mense het die Bybelstudiegroepe gesien as ’n plek waar seuns “sag gemaak” word. Die pa was daarvolgens beïnvloed en het sy seun oorreed om die Bybelstudiegroep te los. Sy seun moes ‘vooruitgaan’ in die lewe; dit was die belangrikste. Die seun het toe die jeuggroep gelos en ander vriende gemaak wat hom so opstandig gemaak het dat hy nie eers meer saam met sy ouers kerk toe wou gaan nie. ’n Totale breuk het gekom tussen die ouers en die seun vir wie hulle so lief was, en op wie hulle baie trots was. Die seun het daarna ’n bose lewe gelei. Vir die pa was die ergste dat hyself aandadig was. Wilhelm skryf dat dit verskriklik was om die pa so te sien huil.
Jesus nooi ons om ons kinders na Hom te bring: En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; … En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën (Mark. 10:13,14,16).
In die Ou Testament lees ons al hoe ernstig God is dat ons ons kinders van Hom moet leer: Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan (Deut. 6:4-7).
Jesus gee ʼn duidelike opdrag vir elkeen van ons om nie kinders te verhinder om na Hom te gaan nie. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ‘n groot meulsteen aan sy nek in die diepsee verdrink” (Matt. 18:6).
Ons het hierbo gesien wat die gevolge was vir die vader en die seun waarvan Wilhelm vertel het. Die vader se ideaal vir sy seun was dat sy seun moes “vooruitgaan”, dit was vir hom die belangrikste. Ons ideale vir ons kinders is baie keer op die materiële gerig, dat hulle eendag ryk sal wees, top posisies sal beklee, ens. Daarmee kan niks verkeerd wees nie, solank dit nie ten koste, of in die plek van die belangrikste in hierdie lewe is nie. Die wreedste ding wat ons aan ons kinders kan doen, is om hulle nie bloot te stel aan die Woord van God nie, nie met hulle oor die ewige lewe te praat nie, nie die verlossing wat Jesus aan die kruis gebring het, aan hulle te verduidelik nie, en nie seker te maak of hulle verseker is van hulle redding nie. Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel? (Matt 16:26).
Die grootste hartseer denkbaar vir ouers sou wees om eendag, wanneer dit vir altyd te laat is, die volgende van hulle kind te kon hoor: “My ouers het geweet dat daar ook vir my ’n ewige lewe na die dood is, en tog het hulle met my oor alles gesels behalwe oor hoe ek gered kon word.”
Here Jesus, gee vir ons die dringende begeerte om ons kinders na U te lei. Amen
gertberning@gmail.com