Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Jare gelede het ‘n student my gevra om saam met ‘n groep studente te gaan na Pelindaba, Suid-Afrika se hoofkernnavorsingsentrum. Om Pelindaba te kon besoek moes jy twee maande voor die besoek aansoek doen. Die student het kopieë gemaak van almal se ID-dokumente en aansoek gedoen vir die besoek. Toe die lys van goedgekeurde name ontvang is, was die student, wat alles gereël het, se naam nie op die lys nie. Hy het vergeet om sy eie naam op die lys te plaas. Hy kon die dag saam met die ander studente opdaag en sê: “Ek het met julle gekorrespondeer. Ek het vir julle besoekers gebring. Ek het gesorg vir almal se ID afskrifte”. Dit sou alles nie help nie. Wat  hy moes doen, het hy nie gedoen nie.

Iemand kan verkeerdelik dink dat sy naam op die Here se “lys” is.  Jesus waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie’” (Matt. 7:21 – 23).

Jesus het gesê, “net hy wat die wil doen van my Vader” sal in die koninkryk ingaan.Wat is die wil van die Vader? Jesus het vertel van ‘n man met twee seuns: “Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle sê: “Die eerste.” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo” (Matt. 21:28-32). Jesus het hierdie storie aan die priesterhoofde vertel. Die vraag het eintlik gegaan oor: “Is Jesus die Seun van God?” Die prostitute en tollenaars het hulle nooit gesteur aan die Messias (Jesus) wat sou kom nie, maar toe Hy gekom het, het hulle in Hom geglo en so die wil van God gedoen. Die priesterhoofde het wel geglo dat die Messias sou kom, maar toe Hy gekom het, het hulle nie in Hom geglo nie. Hulle was soos die seun wat gesê het dat hy sou gaan werk en dit nie gedoen het nie. Hulle het nie die wil van die vader gedoen nie.

Deur Jesus kan ek deel van die huisgesin van God word. Om lid van hierdie nuwe familie te word, moet ek as’t ware oorgebore word, ‘n nuwe mens word. Jesus sê: “As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Paulus skryf: As iemand aan Christus behoort, het hy ‘n nuwe mens geword. Dan is sy ou lewe verby, en ‘n nuwe lewe het vir hom begin! Dit is God wat hierdie verandering maak. Dit is Hy wat vir Jesus Christus gestuur het om vrede te maak tussen Hom en ons (2 Kor. 5:17 – 18). Dit het Jesus aan die kruis vir ons gedoen.

As ons in Christus is, het ons ‘n “nuwe ID”, want ons is dan reeds burgers van die koninkryk van God. In hierdie “ID” is ‘n nuwe geboortedatum, want ons is “gebore” in ‘n nuwe familie, ons is kinders van ‘n nuwe Vader. Ons name is verseker klaar op die “lys”.

 

Ons Vader, dankie dat ons deur Jesus burgers van u koninkryk kan wees.

Amen.