Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.’ Filippense 3:20

Jesus het van die begin af dinge anders gedoen. Hy was nie heeltemal die Messias wat die volk verwag het Hy moet wees nie. ’n Nederige geboorte, vriendskap met sondaars, gewone mense as dissipels, uitdagende leerstellings, en uiteindelik ’n kruisdood. Dit is omdat Jesus se aardse bestaan deel was van ’n ewigheidsplan wat hulle op daardie stadium nie verstaan het nie.

Jy is ook deel van daardie ewigheidsplan. Max Lucado maak in sy boek, More to Your Story, die volgende stelling: ‘In God’s narrative, life on earth is but the beginning: the first letter of the first sentence in the first chapter of the great story God is writing with your life.’

Dit laat my dink aan Paulus se woorde in 2 Korintiërs 4:18:

‘Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.’

Wanneer jy besef dat jou lewe op aarde net die begin van ‘n ewige bestaan in die hemel is, behoort jy heeltemal anders te dink as wat nie-gelowiges doen. Dit wat wat vir die wêreld belangrik is – rykdom, aansien, gemak – is nie vergelykbaar met die heerlikheid van God se koninkryk nie. Wanneer die koninkryk van God jou eerste prioriteit is, sal Hy jou gee wat jy nodig het (Rom. 12:2; Matt. 6:33).

Omdat jy anders dink, tree jy dan ook anders op.

‘Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld’ Filippense 2:15

Dit is nie so maklik om ’n ligdraer te wees nie. Om bo alle verdenking te staan is ook ’n uitdaging. Alles wat ons doen is nie altyd opreg nie. En onberispelik is ’n gewigtige woord.

Christene is lief daarvoor om die verskoning te gebruik dat hulle tog maar net mense is wat maklik struikel. En dit is so. Ons maak foute. Die probleem kom egter in wanneer jy nie regtig hard genoeg probeer om anders te wees nie. Dis mos baie makliker om in te smelt as uit te staan.

Die goeie nuus is dat jy nie op jou eie hoef te probeer om ’n ligdraer te wees nie. God het aan jou die Heilige Gees gegee. Laat Hy jou gedrag bepaal. Jy is ’n nuwe mens met nuwe denke. ’n Kind van God. (Gal. 4:6; 5:25; Rom. 12:2; 2 Kor. 5:17; Kol. 3:2-3)

Jy is reeds ’n burger van die Hemel.

‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.’ 2 Korintiërs 3:18

 

Geskryf deur Madeleine Venter