Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

Kain en Abel … en God – Genesis 4:1-16

Die verhaal van die broers Kain en Abel in Genesis 4 is ‘n baie bekende Bybelverhaal; ons ken dit van die Kinderbybel-tyd af. En dikwels het juis die Kinderbybels ons die verhaal verkeerd leer lees.

Daar is groot ooreenkomste tussen die verhaal van Adam en Eva in Genesis 3 en die verhaal van hul seuns Kain en Abel in Genesis 4: beide verhale gaan oor die sondeval, en die gevolge daarvan; beide gaan oor straf en uitdryf en die aarde wat seerkry; maar beide gaan ook oor God se genadige ingrype in mense se lewens.

I

Die sleutel vir die verstaan van die hele verhaal lê reeds in vers 1 en 2. Daar staan dat Adam en Eva ‘n seun in die wêreld gebring het, Kain. Na die geboorte van Kain sing Eva ‘n lied, roep sy in vreugde uit. Lees mens die lied noukeurig in Hebreeus, hoor jy daarin ‘n stuk arrogansie, ‘n verwaandheid, menslike trots. So asof Eva te kenne gee: net soos God het sy nou ‘n man geskep. Kain was spesiaal, buitengewoon, haar oudste, haar eerste liefde. En toe kry sy ‘n tweede seun, wat sy Abel noem. Abel beteken minste, nietigheid, niks. Tussen die twee seuns was daar ‘n onderskeid, diskriminasie – die een is aanvaar, die ander verwerp. Hierin lê die wortels van die oersonde teen die gebod van naasteliefde, dat ons een mens beter as die ander ag – meerderwaardigheid. Waar Genesis 3 gaan oor die opstand teen God (die eerste liefdesgebod), gaan hierdie verhaal in Genesis 4 oor die gebod van naasteliefde.

Hierdie wortel-sonde teen die gebod van naasteliefde, naamlik gewaande ‘beter-wees’ as die ander, speel dan verder uit in die verhaal. Beide Kain en Abel was godsdienstig – kerkmense, sou ons kon sê. Beide bring offers aan God. Beide se offers was goed, die beste wat hulle kon offer. Maar dan neem God Abel se offer aan en nie Kain s’n nie. Hoekom nie? Miskien is die enigste rede daarvoor dat God ingryp, die ongelykheid regstel. God sien Abel raak; God sien en behandel hom nie as “nietigheid” nie. God oordeel anders oor minder- en meerderwaardigheid as ons mense.

Kain kan nie vrede maak met God se skaal waarin Hy mense weeg nie. Hy sien homself as slagoffer van onreg. Hy raak blind in sy emosie en woede oor God wat nie saamspeel in hoe ons mense mekaar beoordeel nie. En al waarsku God vir Kain teen die blinde woede – pasop, die sonde lê en loer vir jou soos ‘n ondier, moenie toegee aan jou blinde woede nie, waarsku God – gaan slaan Kain tog sy broer Abel dood. Gaan bevestig Kain met sy optrede dat Abel inderdaad nietigheid is, niks is nie, nie opweeg teen hom wat Kain is nie. Kain doen presies dit wat ons mense doen wanneer ons onsself, of ons eie familie, groep, klas, volk of ras beter as die ander ag – hulle as nietigheid beskou, uitwisbaar, op-offerbaar. Dit sien jy vandag nog wêreldwyd, in hoe mense mekaar probeer uitwis, uitroei, hoe mense mekaar minag, hulself as verhewe bo ander beskou, beter, belangriker … die wortel van al die stryd en spanning tussen mense.

II

Lees mens die verhaal verder, is die verrassende dan hoe God teenoor Kain optree. God se optrede spreek van genade. God se skaal weeg inderdaad anders as ons s’n. God kom soek die mens in sy ellende en sonde op. In Genesis 3 het God vir Adam en Eva na hulle opstand teen hom kom opsoek, hulle kom roep: “waar is julle?” Want God wou weer ‘n nuwe pad met hulle begin loop. Netso kom  God nou na Kain en roep: “waar is Abel, jou broer?” God wil dit wat stukkend gebreek het, weer kom heelmaak, die verhoudinge tussen mense, broederliefde en naasteliefde as beginsel, kom herstel. Hy wil vir Kain, en ons almal, kom wys dat ons inderdaad mekaar se hoeders is, vir mekaar verantwoordelik is, as medemense, as gelykes voor God, vir mekaar moet omgee, mekaar moet respekteer.

Natuurlik word Kain gestraf vir sy sonde. Daar kom ‘n vloek oor hom. Hy word ‘n balling, weggevat van die grond waarin die bloed van sy broer teen hom getuig. Die grond wat hy sou bewerk sou dor word, onvrugbaar. Sonde het  gevolge, verskriklike gevolge. Dit bedreig uiteindelik ons almal se voortbestaan. Kain sou moes saamleef met die gevolge van sy sonde, hy word ‘n doellose swerwer.

Maar, en dis die verrassende van die verhaal, God gee tog ook vir hom ‘n teken, as soort beskerming, ‘n genadeteken. Die spiraal van bloedvergieting word gebreek. God hoor Kain se pleidooi. Kain kry ‘n kans op lewe,  ‘n genadebewys. Die tragiese is egter dat Kain dit nie aanvaar nie, sy arrogansie voortsit, sy verharding en meerwaardigheid voortsit en, sê vers 16: “Kain het toe uit die Here se teenwoordigheid weggegaan.”

III

Wat leer dié ontstellende verhaal vir ons vandag?

  1. Die verhaal kom onderstreep die wortelsonde van meerderwaardigheid, neersien op ander, hubris – dit wat maak dat ons nie ander mense kan liefhê soos onsself nie. En presies dit is wat maak dat ons wêreld lyk soos dit lyk, met al die stryd en geweld, uitbuiting en onreg. Waak daarteen, waarsku die verhaal. Soos God vir Kain waarsku, waarsku die Here ons: hierdie sonde lê en loer vir ons, soos ‘n roofdier wat ons enige tyd in sy kloue kan kry en ons uiteindelik kan verorber.
  2. Die verhaal kom verduidelik vir ons dat daar iets van Kain en iets van Abel in ons elkeen sit. Soms is ons die een teen wie gediskrimineer word, die Abel wie se lewe as nikswerd geag word nie. Ja, soms is ons die slagoffer van diskriminasie. Dan sê die verhaal: God sien jou raak, God neem jou offer aan. God laat die wiel draai. Vertrou maar net op God. Maar soms is die Kain in onsself sterker. Dan sien ons weer neer op ander, leef ons met ‘n meerderwaardigheid, neem ons geen verantwoordelikheid vir ons broeders en susters wat rondom ons swaarkry nie … pasop, waarsku die verhaal ons: hierdie sonde van meerderwaardigheid is soos ‘n roofdier wat lê en loer hoe hy beheer oor ons lewe kan kry … en dit uiteindelik kan vernietig.
  3. Maar, in die derde plek, leer die verhaal ons van God se genade, God wat selfs ook tot die Kain in ons almal roep: waar is jou broer, waar is jou suster? Ons sien hier hoe God in sy groot genade tog nuwe lewensmoontlikhede skep, ten spyte van die geweldige gevolge van die sonde. Al draai Kain sy rug op God, netsoos Adam en Eva, het God hulle nie heeltemal losgelaat nie. En ook nie vir ons as sondaars nie. Nee, God het selfs sy eie seun, Jesus Christus, tot nietigheid aan die kruis gemaak, tot ‘n Abel, sodat dit wat vanweë ons sonde stukkend gebreek het, heelgemaak kan word, ons weer met God en mekaar versoen kan word.