Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. Galasiërs 6:7-8
Sonde kan ’n netelige onderwerp raak as mens dit nie versigtig benader nie. Oor die algemeen is ongelowiges baie op hulle hoede vir wat Christene as sonde klassifiseer.
Vandag wil ek egter nie oor die sondes van ongelowiges praat nie. Nee, hierdie oordenking gaan oor die sondes van gelowiges. Christene. Mense wat kerk toe gaan en Bybel lees. Mense soos ek en jy.
Die kanse is groot dat jy ook al paaie gekruis het met ’n hipokraat. Daardie man of vrou wat op die oog af soos ’n goeie Christen-mens lyk, maar in werklikheid vrot vrugte na vore bring.
Wanneer mens 1 Johannes 3:6 en 9 lees, kan mens tot die gevolgtrekking kom dat sulke mense dalk nie werklik wedergebore Christene is nie. Hulle het moontlik nooit daardie ontmoeting met Jesus gehad waarin die Heilige Gees hulle lewe nuut gemaak het nie. Ja, hulle ken die Christen-taal baie goed en hulle Christen-masker is foutloos, maar agter daardie masker skuil ’n mens wat misbruik maak van die goedhartigheid en genade van mede-Christene.
Hierdie week se oordenking is egter ook nie op vals Christene gemik nie, maar op ons as wedergebore Christene wat steeds met sonde worstel. Dit is ’n probleem wat alle gelowiges baie goed ken. Selfs Paulus het erken dat daar ’n stryd tussen goed en sleg binne hom is. (Rom. 7:19)
Hoe is ons dan veronderstel om so te lewe soos wat Efesiërs 4:24 van ons vra? Heilig en volgens die wil van God? Is ons nie tog maar net mense wat uit genade gered is nie?. Ja, dit is so, en 1 Johannes 1:9 belowe dat die sonde wat ons bely vergewe sal word. Beteken dit dan dat ons op ’n manier kan wegkom met daardie klein jakkalsies?
Volgens die Skrif is daardie antwoord ’n duidelike, nee: ‘Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.’ Romeine 8:6
Met ander woorde, al is jy ’n wedergebore Christen, kan jou sonde steeds ’n vernietigende uitwerking op jou en die mense om jou hê.
Daarom moet jy doelbewus ’n keuse maak om met die ou sondige mens te breek, en jou deur die Gees te laat lei. Daardie sondige mens wat jy was is saam met Christus gekruisig. Nou lewe jy vir God.
Gaan lees gerus hierdie week ook die volgende Skrifgedeeltes: Kolossense 3:8-10, Galasiërs 5:16 en Romeine 6:6-14.
En onthou: ‘Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is,’ Efesiërs 5:10
Kies reg. Kies lewe.
Geskryf deur Madeleine Venter