ʼn Vrou en haar verloofde het in die Hyatt-hotel (kyk foto) in Boston se middestad ʼn ete vir hul bruilof bespreek. Na ʼn paar weke het die aanstaande bruidegom die troue egter afgelas. Die vrou kon óf die deposito van $5200 verloor, óf voortgaan met die ete. Sy besluit toe om die straatmense van Boston te nooi en op ʼn onvergeetlike aand te trakteer. En so kom dit toe dat die weelderige Hyatt-hotel in Junie 1990 gasheer was vir ʼn partytjie soos hulle nog nooit voorheen gesien het nie. Hyatt-kelners in aandpakke het boemelaars, dwelmslawe en straatvroue bedien wat een nag lank kon ontsnap aan die harde lewe buite op die sypaadjies. Hulle het vonkelwyn gedrink, sjokolade-troukoek geëet, en tot laatnag op die maat van orkesmusiek gedans. (Boston Globe, June1990).
Jesus het op ’n dag ʼn storie vertel om mense van die hemelse koninkryk te leer: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ʼn koning wat vir sy seun ʼn bruilofsfees voorberei het. Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie … Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teëkom na die bruilofsfees toe.’ Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword” (Matt. 22:2-10).
In beide gevalle is die mense uitgenooi na ʼn fees van ʼn leeftyd wat hulle geensins verdien het nie. Vir die mense in die Hyatt-hotel was die fees net vir een aand, vir die koninkryk van die hemel is dit soos ‘n fees vir ewig.
Jesus sê vir ons in die storie dat almal genooi word na die feesmaal, die slegtes sowel as goeies. God se genade is vir almal. Ons word genooi om Jesus as ons Verlosser aan te neem, dit is om na sy fees te gaan. Elkeen kan kies om te gaan of nie. Daar is ʼn baie mooi Nederlandse lied (vry vertaal): Hoor, Jesus nooi u, kom na die fees. Kom, alle dinge is gereed. Vir arm en ryk is die plek berei, trek nou die bruilofskleed aan. Elk wat wil mag kom, gaan na die koningssaal. O swakkes en vermoeides, daar is plek aan die bruilofsmaal. Hoor, Jesus nooi u: kom na die fees, die lig straal van ver u tegemoet. ʼn Ereplek is vir elk berei, wat rein is deur Jesus se bloed. Elk wat wil mag kom, gaan na die koningsaal. O swakkes en vermoeides, daar’s plek aan die bruilofsmaal. Hoor Jesus nooi u: kom na die fees. Kom, arme sondaar, stel nie uit. Die Vader roep u ʼn welkom toe. Kom, neem nou ʼn vaste besluit. Elk wat wil mag kom…
Elkeen moet kies, tot ʼn vaste besluit kom, om na die fees te gaan, of nie.
Beleef hierdie wonderlike mooi lied hier.
God, dankie dat ook ek uitgenooi is na die fees van u koninkryk. Amen.
Gert Berning
gerberning@gmail.com