Jesaja 38:9-20 (2 Kon. 20:1-11, 2 Kron. 32:24-26)
Op meer plekke in die Bybel lees ons van koning Hiskia. Sy verhaal is boeiend, eg menslik; hy was nogal ‘n belangriker koning in Israel se geskiedenis as wat ons meestal vermoed.
Hiskia het geleef in die tyd voor die ballingskap. Hy was een van die beter konings van Juda: “Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy voorvader Dawid” staan daar in 2 Konings 18:3. Hy was maar 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het goeie hervormings in Jerusalem gebring, wonderlike ingenieurswerk voltooi. Hiskia het ook reggekry om die sterk Assiriese aanslag teen Jerusalem af te weer. Hy het Israel se grondgebied uitgebrei. Sy godsdienshervorming was veral betekenisvol. So byvoorbeeld het die Jode die koperslang aan die paal, wat Moses in die woestyn as simbool van God se genesing gebruik het, begin aanbid – dáárop het hulle begin vertrou, en nie op die Here nie. Daarom het Hiskia die koperslang verbrysel.. Hy was ‘n biddende koning – inderdaad ‘n goeie koning!
Toe word die jong koning skielik siek. Blykbaar ‘n groot sweer. En boonop kom sê die profeet Jesaja toe vir hom: Koning, jou dae is getel. Jy gaan dit nie maak nie! En erger nog: dis God se besluit, God wil dat jy sterf. Vir Hiskia was dié nuus ‘n geweldige skok, traumaties. Ons lees: hy het sy gesig na die muur gedraai en bitterlik aan die huil gegaan.
Toe het Hiskia met God geworstel oor sy siekte. Op eg menslike manier, soos elkeen van ons dalk ook sou bid. Hy het ernstig by God gepleit. Hy het ‘n beroep gedoen op God se genade, God aan sy beloftes herinner. Hy het selfs ook die Here daaraan herinner dat hy wat Hiskia is eintlik ‘n goeie ou is, wat God nog altyd getrou gedien het. Hy het tipies menslike vrae gevra: hoekom doen die Here dit aan iemand in sy fleur? Besef die Here wat Hy aan my doen, hoe Hy nou my lewe vernietig, my tentwoning opbreek, my lewensdraadjie sommerso knip? Hiskia was kwaad vir die Here, en Hy het dit ook duidelik vir die Here uitgespel. Besef die Here die implikasies van wat Hy doen? Dit voel vir hom die Here is soos ‘n leeu, wat met sy sterk kake sy beendere breek. Vir Hiskia was dit die ergste dat dit lyk of die Here nie sy weeklaag, sy verlies, sy weerloosheid en sy angs raaksien nie. “My oë word klein soos ek kyk na die hemel. My Heer, dit druk swaar op my, staan U vir my in” (Jesaja 38:15). Daar het in Hiskia ‘n bitterheid gegroei, ‘n bitterheid wat swaar op hom gedruk het – eintlik sy siekte vererger het. Dit het Hiskia besef en voor God bely.
So deur die worsteling deur het daar ook ‘n besef van afhanklikheid van God gegroei, ‘n wete dat ons mense net kan leef uit God se hand, “mense leef van wat U sê en doen” bid Hiskia. God, U is die een wat aan ons lewensasem gee … of dit kan wegneem. “Lewensasem!” – dit word Hiskia se hygende kreet voor God.
So eg menslik, so intens het Hiskia tot God gebid. Deur al die fases van rousmart het hy gegaan, dit alles voor God se voete kom lê.
En dan lees ons dat God van plan verander. Ja, God kan van plan verander. Daarom stuur God vir Jesaja terug om vir Hiskia te gaan sê: “Ek het jou gebede gehoor, jou trane gesien, kyk, ek sal 15 jaar by jou lewensdae voeg” God stort sy genade uit oor Hiskia. Hy verhoor Hiskia se gebed. Om die waarheid te sê, God doen eintlik meer as wat Hiskia vra: Hy belowe sommer ook om Jerusalem vir eers uit die kloue van die Assiriërs te hou. En God gee ook vir Hiskia ‘n teken as bewys dat Hy dit sal doen – Agas se sonwyser het ‘n paar eenhede terug geskuif. Geweldig!
Maar lees ons dan verder aan die verhaal, sien ons met teleurstelling dat dit toe tog nie so ‘n mooi einde gehad het nie. Want die hartseer was: in plaas van diepe dankbaarheid oor die Here se genade, spog Hiskia met sy eie uitsonderlikheid; God het hom maar net beloon vir al sy eie goeie werke. Vir ‘n besoekende Babiloniese prins gaan wys Hiskia al sy skatte, spog hy oor sy eie prestasies en oor hoe die Here hom uit sy sokkies seën. Kyk, dis hoe die Here my beloon vir al my goeie werke”, spog Hiskia. In 2 Kronieke 32:25 lees ons: “Omdat Hiskia se hart egter hoogmoedig geraak het, het hy nie in ooreenstemming met die weldaad teenoor hom reageer nie.” In plaas van dankbaarheid was daar arrogansie. Toe het die Here se toorn ontvlam – kort na koning Hiskia se dood is Jerusalem platgeslaan en die volk in ballingskap weggevoer. Hiskia se verhaal eindig as ‘n tragiese wentelpunt in Israel se geskiedenis.
Wat leer ons uit hierdie verhaal? Miskien kan ons drie dinge kortliks onderstreep:
Eerstens vertel dit iets oor die misterie van God. Oor dié God wat ons nie kan kleinkry nie, wie se optrede ons nie kan verstaan of verklaar nie. God wat genadig is, maar ook straf. God wat van plan kan verander. God wat vol deernis is en ons gebede verhoor, maar wat nie arrogansie en ondankbaarheid kan verdra nie. Miskien is dit hoekom die ou Bybelvertalings van geloof en gehoorsaamheid gepraat het as die “vrese van die Here”, om met vrees en ontsag voor God se almag en sy wil te lewe – die wete dat God nie ons speelmaatjie is nie. God bly ‘n misterie, sy naam is Jahwe, “Ek is wat ek is” – ‘n vreemde naam, onverklaarbaar – God voor wie se almag ons net maar in verwondering kan buig.
Maar die verhaal leer ons in die tweede plek tog ook dat God ‘n persoonlike God is, toeganklik. Ons durf in sy teenwoordigheid kom. Hy nooi ons uit om met Hom in verhouding te tree, persoonlik. Ons kan en mag maar met God praat, ons hartseer en woede, ons vertwyfeling en angs, ons drome en verwagtinge – dit alles kan ons na God toe bring. En ons kan verseker weet: God hoor. God sien. God gee om. Dat God van plan verander, is juis bewys van sy genade, sy lankmoedigheid, sy goedheid en guns.
Derdens: Hiskia se verhaal leer ons ook oor geloof. Dit vertel van die noue band wat daar tussen geloof en dankbaarheid is. Eintlik is geloof en dankbaarheid een en dieselfde ding. Geloof is nie in die eerste plek ‘n krag wat ons in onsself het, ‘n verdienstelikheid, iets waarop ons ons kan beroem nie, ‘n inherente krag waarmee ons God van plan kan laat verander nie. Nee, dat God van plan verander en sy goedheid aan ons skenk is louter genade. Maar ons dankbaarheid na die tyd, die dankbaarheid waarmee ons al God se goeie gawes, ja die lewe self uit sy hand ontvang, dít is die bewys dat ons glo dat Hy die Gewer van alles is. Uit ons dankbaarheid sien ons wat geloof is. Nie hoe ons vooraf God probeer dwing nie, maar hoe ons agterna dankie-sê – dit is wat ware geloof is.