Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

I

Dwarsdeur die Ou Testament lees ons van God se spesiale verhouding met die volk Israel. Dáároor gaan die hele OU Testament verhaal: God en Israel. God stel homself bekend as die God van Israel, die God van Abraham, Isak en Jacob – dis sy Naam. En Israel is God se volk, sy eiendom wat Hy liefhet en versorg.

Wat kan ons as kerk, as die nuwe Israel, uit hierdie unieke verhouding tussen God en Israel leer?

Eksodus 19:3-6 is ‘n sleutelteks in die Bybel waar ons van God se diepste bedoeling met die kerk leer.

II

Nadat God die Israeliete uit Egipte bevry het, bring Hy hulle hier aan die voet van die berg Sinai byeen. Dis hier waar God sy verhouding met Israel aan hulle verduidelik en met hulle ‘n verbond sluit. Net voor God aan Moses die Tien Gebooie gee, verduidelik Hy hier waaroor die spesiale verhouding tussen Hom en Israel gaan.

Eers vertel God wat Hy vir hulle gedoen het. Kyk, sê God vir hulle, julle het nou gesien hoe Ek julle uit Egipte bevry het. Daarmee het Ek bewys dat Ek God is, die enigste ware God, veel magtiger as die gode van Egipte of watter ander gode ook al. Hoe die bevryding gebeur het, was niks minder as ‘n wonderwerk nie. God gebruik pragtige beeldspraak: Ek het julle daar in Egipte gaan oppik, in my kloue gaan gryp en soos ‘n arend haar kleintjie op die rug dra, so het ek julle hierheen, na My toe gedra. En hier is julle nou, hier by die berg waar ek julle ontmoet en met julle ‘n liefdesverbond sluit.

Hoekom het God dit gedoen? Hoekom juis Israel? Dit was tog nie omdat hulle so goed en sterk of ‘n besonderse nasie was nie! Nee, hulle was om die waarheid te sê maar ‘n beteuterde ou klompie, ‘n wurmpie, noem Jesaja hulle, geen nasie om van te praat nie. Hulle was slawe, sonder enige aansien. En tog kies God juis vir hulle uit om sy spesiale volk te wees. Dit doen God uit louter genade alleen, in sy groot ontferming, sonder enige verdienste van hulle kant.

God maak hulle dan sy “persoonlike eiendom”, staan hier. Dié uitdrukking beteken: sy persoonlike rykdom; hulle is vir Hom soos ‘n koning se kroonjuwele. Die hele wêreld, alle volke behoort aan God, maar Israel kry hierdie spesiale plek as uitverkore volk. Hulle word uit niks tot iets gemaak, kosbaar vir God.

III

Daar is egter ‘n dieper rede hoekom God hulle tot sy persoonlike eiendom maak: God het ‘n doel met Israel. Hy wil hulle gebruik om priesters te wees, priesters vir die ander nasies, priesters vir die hele wêreld. Daarom noem Hy hulle hier ‘n “koninkryk van priesters”.

Wat beteken dit om priesters te wees? Priesters se werk was om tussen God en mense te gaan staan, namens mense by God te gaan intree, en namens God weer na mense toe te gaan. Wanneer  gelowiges in Bybelse tye by die tempel kom aanbid het, het priesters hulle in die voorhof van die tempel ontmoet, die offers wat hulle gebring het dan gevat en dit namens die gelowiges in die heiligdom gaan offer. Priesters het ook by die gelowiges mooi gaan hoor wat op hulle hart is, watter las hulle dra, wat hulle bang of hartseer maak, wat hulle skuldig laat voel, en dan het priesters namens die gelowiges in die heiligdom voor die altaar van God vir hulle gaan intree. Daarna het die priesters na die gelowiges teruggegaan en hulle van God se vergiffenis en genade verseker, dat God hulle gebede hoor en genadig sal wees. So het hulle God se heling, sy heil, aan die gelowiges gaan meedeel.

Priesters bring offers en doen gebede, namens ander. So verrig hulle liefdesdiens. Om priesterlik op te tree beteken om vol ontferming te wees, genadig, barmhartig. Jesus Christus was die beste voorbeeld van ‘n priester. Hy het namens ons die finale offer gebring; Hy het Homself as offer in ons plek gegee. Hy tree vir ons in by die Vader, Hy bedien ons met genade en vergiffenis.

Netso het God dus vir Israel uitgekies, hulle sy persoonlike eiendom gemaak, met die bedoeling dat hulle priesters vir die ander volke kan wees. Hulle moes tussen God en die nasies gaan staan, vir die volke by God intree, en vir die volke van God se genade vertel.

Een manier hoe hulle dit moes doen, was om self so te leef dat die volke kon sien hulle behoort aan God. Hulle moes ‘n heilige nasie wees, hulle moes anders lyk en doen, ‘n voorbeeld vir die ander volke wees. Hulle moes ‘n voorbeeld uitleef van omgee en liefde, ‘n voorbeeld van eerlikheid en respek, ‘n voorbeeld van toewyding – dit wat God alles net hierna vir hulle in die Tien Gebooie sou uitspel.

‘n Koninkryk van priesters, priesterlike diens deur vir ander in te tree, maar ook vir hulle ‘n voorbeeld te stel, dis wat God bedoel as Hy hier sê dat Hy Israel uit al die nasies sy persoonlike eiendom maak. Want God se einddoel was dat almal, die hele wêreld, uiteindelik vir Hom as God sal erken en aanbid.

IV

In die Nuwe Testament sluit Paulus en Petrus by dié beeld van Israel as priesters vir ander volke aan. As Petrus oor die kerk skryf, haal hy die direkte woorde van hierdie Eksodus gedeelte aan. Hy noem die kerk die “uitverkore volk”, ‘n “koninklike priesterdom”, ‘n “heilige nasie” ‘n “volk wat aan God behoort”, sodat hulle die deugde kan verkondig van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het na die wonderlike lig, hulle wat eers nie ‘n volk  was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het (1 Petrus 2:9-10).

Ons, die kerk, is deur Christus deel gemaak van die volk Israel, tot God se volk aangeneem, dit deur genade alleen; dis nie asof ons dit verdien nie. Ons word God se eiendomsvolk – spesiaal uitgekies om priesters vir die wêreld te wees. Dáároor gaan kerk-wees ten diepste.

Kerk-wees beteken ons almal is geroep om priesters in die wêreld te wees.

V

Hoe kan ons vandag, in die wêreld waarin ons leef, prakties priesters wees?

  • Deur met priesterlike bewoënheid na die wêreld te kyk, met omgee harte. Al is die wêreld ook hoe stukkend en boos, dit bly God se wêreld. En God wil dat sy liefde en heling uiteindelik die hele wêreld bereik. Priesters het omgeeharte, vol ontferming.
  • Priesters tree in by God vir die wêreld, hulle bid vir die wêreld. Dis dalk die belangrikste werk wat ons in hierdie klein gemeente het, om as priesters vir die stukkende wêreld by God in te tree.
  • Priesters leef ‘n voorbeeld uit, hulle leef in die wêreld ja, maar anders as die wêreld. Hulle manier van leef trek mense nader aan God, nooi mense uit om hulle voorbeeld te volg. Hulle getuig van God se groot ontferming, hulle bring hoop in ‘n wêreld sonder hoop.

Priesters se lewe, hulle woorde en dade, wys heen na die groot Hoëpriester wat Homself uit louter liefde as offer vir die wêreld gegee het.