Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Wilhelm Busch was ʼn predikant in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Een Sondagaand in 1944 het die alarms afgegaan; bomwerpers was aan die kom. Maar die waarskuwing was te laat, hulle sou dit nie maak na die bunker (’n ondergrondse skuilplek van beton) nie. Daarom is al die mense in die klein woonstelblok na die kelder van die gebou. Hulle was bewus daarvan dat die kelder geen skuiling kon bied indien ’n swaar bom die gebou sou tref nie. Hulle was skaars in die kelder toe hoor hulle die geloei van swaar bomme en ontploffings. ’n Vrou uit die boonste verdieping het huilend gekerm.

Toe het Wilhelm gesê: “Kom ons sing ’n lied” en hy begin: “Sterk is my Jesus se hand/ En Hy sal my ewig vashou;/ Hy het te veel vir my opgeoffer;/ om my weer los te laat.” Die kinders kon sing want hulle het die liedere geken. Hulle het elke week ’n nuwe lied geleer. Terwyl hulle die volgende lied gesing het, is die krag onderbreek en was alles donker. “Wanneer die son homself verberg, / Die leeu om my brul,/ Weet ek ook in die duister nag, / dat Jesus my bewaak”. So het hulle die een lied na die ander gesing.

Uiteindelik was alles verby en het hulle uit die kelder geklim. Oral was vlamme. Buite het ’n verwonde man dood gelê. Hulle woning was in chaos maar sonder groot skade. Hulle het die stof afgeskud en die kinders in die bed gesit. Toe Wilhelm hulle jongste kind ’n nagsoen wou gee, het sy hom om die nek gegryp en uit die diepte van haar hart gesê: “Pappa dit was mooi.” Vir ’n oomblik kon Wilhelm nie glo wat hy hoor nie. Was hierdie hel waardeur hulle so pas is, hartroerend mooi? Maar, het hy besef, die kind is reg. Dit was mooi toe hulle die Jesusliedere gesing het, al het hulle skuilplek geskud soos die bomme om hulle ontplof het, en hulle enige oomblik kon sterf. Dit was mooi omdat ’n onbeskryflike vrede oor hulle gekom het, sodat ook die huilende vrou stil geword het. Jesus het sy Woord waar gemaak: En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filip. 4:7).

Jesus het aan die kruis vir ons sonde betaal. Met sy eie liggaam het hy die muur afgebreek wat ons van God geskei het. God het met ons vrede gemaak. God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan (Rom. 5:1 – 2).

          Dit is hierdie vrede wat Jesus vir ons gee: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek vir julle. … Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie bang wees nie” (Joh. 14:27).

 

God, ons loof U omdat U ons donkerste tye in vreugde kan verander. Amen.

 

Gert Berning