Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

Jesaja 65:17-25, Openbaring 21: 1-7

Op die laaste dag van die Kerkjaar, voor die tyd van Advent aanbreek, dink die kerk tradisioneel na oor dit wat ons die ewigheid, of dan die hiernamaals noem. Ons kan dit ook God se toekoms noem, of teologies die leer oor die laaste dae, die eskatologie. Meestal probeer ons daarvan sin maak deur te praat van ‘n moment waar ons bestaan, nou en hier – binne tyd en ruimte – plek maak vir ‘n toekoms waar daar nie meer tyd of ruimte is nie – die ewigheid. Ons praat daarvan ook as die hemel of die Dag van die Here wat gaan aanbreek. Die hele Bybel is propvol verwysing na dié groot Eendag wat as ‘n geweldig dramatiese gebeurtenis sal aanbreek. Want dié Dag sal sowel oordeel én verlossing inhou, vernietiging én herskepping. Daarom is ons aan die een kant baie bang daarvoor, maar aan die ander kant sien ons ook uit daarna. Amper soos ‘n moeder wat geboorte moet gee. Dit gaan pynlik wees, maar ook wonderlik!
Hoe lyk dié toekoms? Wanneer breek dit aan? Waar gaan dit wees? Moet ons bang wees daarvoor of eerder uitsien daarna? Kan ons hoegenaamd iets daaroor sê sonder om maar net te spekuleer? Want eintlik gaan dit alles bokant ons verstand uit. Die vraag is dus: moet ons hoegenaamd iets daaroor probeer sê? Kan ons dit ooit waag om oor die hemel te praat? Of moet ons liewer net fokus op dit wat hier op aarde gebeur, ons lewe hier en nou?
Kom ons waag om daaroor ‘n paar opmerkings te maak:

I

‘n Eerste opmerking is dat ons baie nederig moet wees as ons oor die hiernamaals praat. Presies hoe dit gaan wees, of waar en wanneer dit sal aanbreek, dit weet ons regtig nie. Selfs ook die Bybel praat daaroor in ‘n taal vol misterie, dit gebruik verskillende simbole, beelde en gelykenisse, praat maar net so by benadering. Jesus self het gesê dat dit ons nie beskore is om die hoe en wanneer van die wederkoms te weet nie. Die dag van oordeel en die aanbreek van die nuwe hemel en aarde, die lewe hierna … hoe dit gaan wees en wanneer dit kom weet net die Vader alleen.

Dit help dus nie ons maak somme, of ons maak mekaar met allerlei profesieë bang, of ons probeer selfversekerd praat oor hoe die hiernamaals gaan lyk of wees nie – soos ‘n dief in die nag kom dit, as groot verrassing vir ons almal.

II

‘n Tweede opmerking: Wat ons wel weet is dat dit oor God Drie-enig se toekoms gaan, ‘n toekoms waarvan God die beheer het. Ander magte en kragte op aarde of in die hemel sal niks daarvan bepaal of dit kan keer nie.

En dit gaan ten nouste, ja uitsluitlik, oor God Drie-enig se handelinge.

Hierdie toekoms hou in dat God die Vader by ons kom wees, naby ons, hier teenwoordig, vir altyd. Ons sal die Vader kan sien, kan ken, in gemeenskap met Hom kan lewe. Hy kom na ons toe, sê die Bybel. Hy kom ons tegemoet; dis nie ons wat self na Hom toe kan probeer opklim nie.

Hierdie toekoms het ook te make met die Seun wat weer kom om alles hier finaal te kom verlos, nuut te maak, heel te maak – ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde te kom skep, die nuwe stad Jerusalem te laat neerdaal, die nuwe tuin met ‘n lewegewende rivier en ‘n boom vol vrugte en genesing na ons toe te bring. Maar dan sal die Seun ook oordeel oor die kwaad bring, die bose finaal kom vernietig, alle onreg verwyder, alles wat hartseer en pyn veroorsaak wegneem, ons trane kom afdroog.

En dit gaan ook oor die Heilige Gees, die derde persoon van die Drie-eenheid, die Gees van Vader en Seun wat oral en altyd werksaam is – vernuwend, herskeppend. Die Heilige Gees sal nie net eers eendag met dié werk begin nie; die Gees is reeds daarmee besig, rondom ons, binne ons. Hier en nou, alreeds.

Omdat hierdie toekoms in God Drie-enig se hande is, daarom is dit verseker, kan ons weet dit kom gewis.

III

Die derde opmerking: Wat die Bybel ons wel verder leer is dat hierdie toekoms mooi gaan wees, verrassend mooi, veel lekkerder en heerliker nog as wat ons ons kan indink. Kyk maar net na die beelde wat hier in Jesaja 65 gebruik word om dit te beskryf: ‘n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, ‘n vreugdetyd, ‘n toestand waar daar geen onreg meer is nie, geen lyding nie, net maar rus en vrede en skoonheid.

Die ou Jode het daarvoor die omvattende term shaloom gebruik – God se groot vredestyd wat kom. Daarmee het hulle mekaar in moeilike tye getroos en bemoedig. As dit swaar gaan, hulle moedeloos en onderdruk was, dan het die profete van God se shaloom kom vertel, dan het hulle mekaar daaraan herinner dat God se toekoms op pad is. En hierdie vooruitsien na die toekoms vol vrede het hulle hoop gegee om binne hulle eie moeilike omstandighede vas te byt, vooruit te gryp na dié eendag wat kom.

IV

‘n Vierde opmerking: Hierdie toekoms gaan eers eendag volledig kom ja, maar eintlik is dit vandag reeds, hier en nou, aan die gebeur; dié toekoms het reeds in die hede ingebreek, deurgebreek; ons begin reeds hier op aarde iets daarvan ervaar en sien. Dit het reeds aangekom toe Christus Jesus die eerste keer aarde toe gekom het. Ons leef reeds in die laaste dae, tussen sy eerste en tweede koms. Ons sien reeds hierdie nuwe toekoms deurbreek wanneer iemand gesond word; wanneer iemand se stukkende lewe weer heel word; wanneer die natuur herstel na ‘n ramp; wanneer mense met mekaar versoen word; wanneer onreg verwyder en die reg herstel word; wanneer gelowiges saam aanbid en in gemeenskap met God en mekaar die Woord hoor en met brood en wyn bedien word. Wanneer ons God se liefde en vrede in ons lewe ervaar, sien ons hoe God se vrederyk deurbreek – reeds nou en hier op aarde.

V

‘n Laaste opmerking: Hierdie aanbreek van God se toekoms, die sekerheid dat dit inderdaad kom omdat dit in God Drie-enig se hande is, en omdat ons reeds die eerste tekens daarvan ervaar, ons ‘n voorsmakie daarvan in die saamwees as gelowiges kan proe, gee dit vir ons troos, bring dit hoop. Maar dis ‘n vreemde soort hoop. Dis nie ‘n hoop wat ons passief maak, asof ons nou maar agteroor kan sit, want God sal self sy toekoms laat aanbreek nie. Nee, dis ‘n hoop wat ons ook ongeduldig maak, opstandig maak oor alles wat nog verkeerd en stukkend en hartseer is – en ons daarom dring en dwing om aan God se toekoms te help bou, God se geregtigheid te soek, sy vrede uit te deel, sy genesing te help bring, deur woord en daad van sy Koninkryk te getuig. Ons hoop op God se toekoms dryf ons om vandag reeds hierdie toekoms te leef, as geloofsdaad dwarsdeur ons aardse lewe heen, maar ook as voorbeeld vir ander, as getuienis van God se toekoms wat verseker kom.

Dit doen ons nie uit onsself, of uit eie krag nie, maar as instrumente in God se hande.