Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Vierde Advent

Lees Lukas 1:57-80

Hy vra toe ’n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas (v. 63).

Die ou priester kon nie praat nie, maar hy kon dínk. En hoe het die gedagtes in die tyd toe hy stom was nie in sy kop gemaal nie. Oor die verbysterende optrede van ’n ontfermende God. Oor die vreemdheid van daardie omvangryke genade. O, en dan was daar die opperste vreugde oor ’n Godswonder in ’n grootmens
se lewe . . .
En, ag, dalk was Sagaria se gedagtes ook vol stomme selfverwyt: oor hoe hy wat priesterlik in die bresse moes tree vir ander mense se kleingeloof, se eie gebrekkige geloof uiteindelik ontmasker is.
Dalk was dit omdat hy soveel tyd gehad het om te dink en te onthou dat die onverwagte aankomeling se naam vir hom geen kwessie was nie. Soos die engel gesê het, só sal dit wees. En daarmee uit en gedaan.
Maar toe begin ’n splinternuwe verhaal: Die ou man se spraak kom terug, en hy begin vertel. En vol geïnspireerde woorde beantwoord hy elke vraag wat die besoekers by hom aan huis maar kon vra. En ook dié wat hulle nie eens geweet het om te vra nie. Sodat almal, jare later, die Groter Plan sou begryp.
Johannes is sy naam, dié wonderkind van die bejaarde priester en sy ewe bejaarde vrou. Maar hy sou aanstons ook ’n profeet van die Allerhoogste genoem word.
En ’n profeet kyk verder as ander mense, en hy kies ’n ander koers as dié wat voor die hand liggend is. Hierdie een sou boonop ’n pad maak vir die Een wat ná hom kom – daardie Profeet, Koning en Priester wat alles sou kom verander.
Maar Sagaria en Elisabet se klein Johannes sou ook leer dat om ’n pad te maak ’n uitmergelende, ondankbare werk is. En dat padmakers dikwels twyfel aan die sin van hulle moeisame arbeid. Hy sou mos sommer vroeg-vroeg daardie soort woestyn leer ken.
Hy sou later ook moeilike vrae oor sy roeping vra, en hy sou duur vir daardie einste roeping betaal. Sien, profete is nog nooit in hulle eie land geëer nie, en dié van hulle wat boonop padmakers is, proe dikwels net die stof.
En ons weet nie of Johannes toe ooit vrede gevind het en of sy twyfelvrae ooit opgelos is nie.
Maar profete hoef nie te twyfel nie, nooit nie. Beslis nie aan die Een in wie se diens hulle staan en wie se Woord hulle ernstig opneem nie.

Here, dankie dat U, wanneer U ons roep om ’n padmaakwerkie vir U te verrig, ons troos met die wete dat ons stukkie gehoorsaamheid ’n groter doel dien.

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.