Lees Johannes 15:9-17
“Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra . . .” (v. 16).
Jesus se opdrag aan sy volgelinge is eenvoudig: “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet” (v. 12). Reguit. Nie vatbaar vir misverstand nie.
Dan volg Hy dit boonop op met ’n kristalhelder voorbeeld van sulke liefde: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende . . .” (v. 13-14). ’n Ruk later sou Hy presies dit doen: sy lewe vir sy vriende aflê.
Hy beklemtoon ook die band wat daar tussen Hom en sy volgelinge is. “Vriende” (v. 14) noem Hy hulle; nie “ondergeskiktes” (v. 15) nie. Omdat Hy, sê Hy, oop kaarte met hulle speel en hulle alles vertel wat Hy by sy Vader gehoor het.
En hoe het hulle geword wat hulle is? Op watter manier het hulle vir Jesus geword wat hulle nou vir Hom is? Hy het hulle uitgekies, sê Hy. Nee, dit is nie húlle wat Hóm gekies het nie; dit is juis andersom.
Goddank. Dit is andersom.
So is al hierdie gewigtige, lewensveranderende sake – die liefhê-opdrag, die intieme vriendskap, die Jesuskeuse – vanselfsprekend ’n saak van groot blydskap. Jesus sê dit immers self: “Dit sê ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees” (v. 11).
Volkome blydskap is toe nie ’n immerontwykende droom nie. Dit is nie ’n hersenskim of ’n goedkoop geloof nie. Dit is die toesegging uit Jesus van Nasaret se eie mond.
En hoe groot is die blydskap nie. Om darem te weet dat Jesus se liefde vir sy volgelinge soortgelyk is aan sy Vader se liefde vir Hom. Dat gehoorsaamheid aan sy opdragte die versekering is dat jy in sy liefde sal bly.
Hoe buitengewoon is dit nie om te kan glo in ’n Here wie se enigste opdrag is dat sy volgelinge mekaar en hulle medemens moet liefhê nie. En dat dít, hierdie liefhê, geen groter kennis en geen dieper navorsing verg as om na Hom op te kyk nie.
Dalk is die grootste blydskap die heerlike feit dat Jesus se volgelinge nie ’n keuringsproses moet deurgaan nie; geen aanleg-toetse hoef te skryf of ingewikkelde vraelyste noulettend moet invul of aan voorafbepaalde kriteria moet voldoen of ’n paneel skeptiese kenners moet beïndruk nie. Nee, hulle word gekies. En gevat soos hulle is.
En dán, wanneer Hy hulle by Hom het, fluister Jesus sy liefdesopdrag aan hulle. En stuur hulle uit om die soort vrugte te gaan dra wat daarby pas.
Here, ook ek is deur U gekies.
Onwaardig, ongekwalifiseerd, en dikwels onwillig ook.
Stort asseblief u liefde oor my uit,
sodat ek dit kan gaan vier en verkondig.
Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.