Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Jesus was besig om mense in die tempel te leer toe die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe kom en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?” (Matt. 21:23). Gedurende die gesprek het Jesus vir hulle ’n vraag gevra” “Wat sê julle hiervan? Daar was ‘n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle sê: “Die eerste.” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo” (Matt. 21:28-32). 

Almal het saamgestem dat die seun wat wel in die wingerd gaan werk het, die wil van sy pa gedoen het. Ons sien dat Jesus hierdie storie vertel het terwyl hulle besig was om te argumenteer of Jesus met die gesag van God die mense leer. Die vraag het eintlik gegaan oor: “Wie is Jesus? Is Hy die Seun van God?” Jesus sê toe vir hulle dat die prostitute en tollenaars eerder as hulle in die koninkryk van God ingaan. Hoekom? Omdat die prostitute en tollenaars geglo het in Jesus as die Seun van God terwyl die priesterhoofde dit nie wou glo nie. Die priesterhoofde het wel geglo dat die Messias sou kom, maar toe Hy (Jesus) gekom het, het hulle Hom nie geglo nie. Dit was soos die seun wat gesê het dat hy sou gaan werk en dit nie gedoen het nie. Hy het nie die wil van die vader gedoen nie. Die prostitute en tollenaars het hulle nooit gesteur aan die Messias wat sou kom nie, maar toe Hy gekom het, het hulle in Hom geglo en so die wil van God gedoen. Dit is eintlik tragies dat die priesterhoofde wat so hulle bes probeer het om reg voor God te lewe deur die wet getrou na te kom, moes hoor dat hulle nie gedoen het wat hulle Vader wou hê nie. Hulle moes ook hoor dat die tollenaars en prostitute, wat deur hulle verag is, hulle sal voorgaan in die koninkryk van God omdat hulle in Jesus geglo het.

Glo ons dat Jesus die Seun van God is? Dit is die kern van die evangelie. As ons dit nie glo nie, is ons reeds veroordeel: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê … Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh. 3:16-18).

As ons nie glo dat Jesus die Seun van God is nie, maar glo dat ons die koninkryk van God sal binnegaan as ons net goeie mense is, mis ons die hele evangelie. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur (Gal._5:4).  

Die evangelie is ’n blye boodskap: God het deur sy Seun Jesus na ons toe gekom om ons te red. Daardeur word God nou ons Vader. Laat ons nie twyfel wie Jesus is nie.

Here Jesus, dankie dat ons kan weet dat U die Seun van God is en dat U gekom het om ons met God te versoen.  Amen

Gert Berning