Kort voor middernag op 14 April 1912, vier dae ná die begin van die Titanic se eerste vaart, het die skip ʼn ysberg getref en ʼn paar uur later gesink. Die ongeluk het tot die dood van 1 517 van die 2 223 mense aan boord gelei. In daardie stadium was dit die wêreld se grootste mensgemaakte beweegbare objek. Elegansie het gestraal uit die Titanic se afwerking, dekor, spyskaarte en vermaak. Dit was vir die superrykes gebou. Die Titanic het van die mees gevorderde tegnologie wat destyds beskikbaar was, gebruik gemaak en is as “onsinkbaar” beskryf. Sommiges het gesê: “Selfs God kan nie die Titanic laat sink nie”

Daar is baie verhale oor mense wat baie slegte ervarings gehad het omdat hulle op ʼn “onsinkbare” iets vertrou het. Jesus het ʼn storie vertel om te illustreer hoe ons onsself kan mislei: ʼn Ryk man se grond het goed gedra. … Toe besluit hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou. Daar sal ek my graan en ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink, en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaar gemaak het?” (Luk. 12:16–21).

 Ons moet niks (of niemand) soveel vertrou dat ons kan dink, of sê, “selfs God kan nie …”. Terwyl die Titanic aan die sink was, het die mense aan boord nie langer oor die “onsinkbare Titanic” gespog nie. Die orkes het die lied: “Nader, my God, by U” gespeel! Vier jaar later, by ʼn ontmoeting van oorlewendes van die Titanic-ramp, het ʼn jong man opgestaan en hartseer vertel hoe ene eerw. John Harper sy baadjie vir hom gegee het terwyl hulle aan wrakstukke in die water geklou het. Harper het hom na Christus gelei en toe self onder die water verdwyn. Soos met hierdie, waarskynlik ryk, jong man, gebeur dit so dikwels dat mense tot besinning kom eers as hulle met die dood gekonfronteer word.

In sulke tye word mens gestroop van jou verwaandheid en soek jy na God: Nader my God, by U, Nader my God, by U, nog nader by. In so ʼn tyd kon Harper die jong man na Christus toe lei. Harper het gesterf na hy die jong man gered het deur sy baadjie vir hom te gee. Jesus het ons so lief dat Hy sy lewe gegee het sodat ons gered kon word en vir altyd kinders van God kan wees. Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word (Gal. 3:13). Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê (1 Joh. 3:16). Op so Iemand kan ons vertrou – in lewe en in sterwe.

Ons hemelse Vader, dankie vir die wete dat ons U altyd kan vertrou.  Amen.

  

Free email messages from gertberning@gmail.com and WhatsApp. Also weekly from the App of CLF (Christian Literature Fund). Visit https://sites.google.com/site/eposbediening/

 Gert Berning